Die lewe is ‘n liedjie

Jennifer Zamudio

Met agt vollengte-albums in ‘n dekade kan die sangeres-liedjieskrywer Jennifer Zamudio inderdaad verklaar: “Die lewe is ‘n lied!” “Ek weet nie hoekom nie, maar oral waar ‘n agt in my lewe ter sprake is, het dit ‘n positiewe uitkoms,” sê die borrelende musiekmaker wat aan die Kaapse weskus grootgeword het.

Haar agtste album, Die lewe is ‘n liedjie, is ‘n uitmuntende keurspel van klanke en gemoedstemmings wat Zamudio se talent in al sy fasette ten toon stel. Die polsende titelsnit is die ideale wegspringplek en dan reis sy deur van haar eie komposisies, soos Op soek na jou en Ek sal berge klim vir jou. Laasgenoemde is haar persoonlike gunsteling. Die album bevat ook twee Engelse liedjies, Disappear en Once in a Lifetime, terwyl die hartroerende ballade Daai Lovesong die luisteraar met sy heimwee en sjarme sal oorrompel.

“Ek het myself gevind in hierdie album,” vertel Zamudio. “As kunstenaar is daar soms die geneigdheid om te eksperimenteer – wat goed is, tot op ‘n punt. Ek het na tien jaar as professionele kunstenaar klaar geëksperimenteer. Ek weet nou wat ek wil doen en wat ek moet doen. Ek dink my grootste uniekheid lê in my tipe stem en my skryfstyl. Die kombinasie hiervan kom tot sy volle reg op hierdie album.”

Al is sy destyds tydens haar hoërskooljare uit die revue geskop omdat sy kwansuis nie ritme gehad het nie, is Zamudio deesdae tuis in haar musieksfeer. Haar musiek en klank is immers vir haar soos haar persoonlikheid en lewe: “opgewek, vrolik en positief met oomblikke van stilte”. En, voeg sy gou by: “Ek is op ‘n lekker plek in my lewe en my loopbaan en ek dink dit spreek vanself.”

Die lewe is ‘n liedjie is ‘n sinryke samekoms van dit wat Zamudio graag op die verhoog sing. Daar is ‘n fyn balans tussen die opgewekte en vrolike ritmes asook stadiger ballades. “Van tyd tot tyd is ek ‘n sucker vir ‘n mooi ballade,” verklaar die sangeres wat ook al internasionaal opslae gemaak het. Sy het al in 2006 aan die World Song Festival deelgeneem met haar eie komposisie, Hou my net ‘n bietjie vas, en uitstekend gevaar.

Met sowat die helfte van die skeppings op Die lewe is ‘n liedjie uit haar eie pen, is die nuwe Zamudio-album ‘n opwindende reis deur dié kunstenaar se passievolle lewensbeskouings, vars deuntjies en aansteeklike passie. En al is die Suid-Afrikaanse musiekbedryf soms onvoorspelbaar, het Zamudio met haar vasberadenheid nou ‘n onuitwisbare plek vir haar en haar musiek uitgekerf. Hier is dus ‘n treffer-album wat geen liefhebber van gehalte-musiek durf misloop nie!

Speellys

  1. Die Lewe Is ‘n Liedjie
  2. Soen My
  3. Opsoek Na Jou
  4. Vir Solank Ek Leef
  5. Ek Sal Berge Klim Vir Jou
  6. Hou My
  7. Disappear
  8. Mal Mal Mal
  9. Glo My
  10. Once In A Lifetime
  11. Jammer
  12. Daai Lovesong
  13. Bly Net Vanaand By My
  14. Gee My Net ‘n Bietjie Liefde
  15. Jy’t My Belowe

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.