Die regte tyd- Riana Nel

Die regte tydTwee jaar gelede het Riana Nel vir ‘n groot verrassing gesorg toe haar eerste kommersiële album, Die moeite werd, die algehele topverkoper geword het.
Nou is sy terug met haar nuwe album, Die regte tyd. Die titelsnit is geskryf na aanleiding van 2 Korintiërs 6 vers 2, waarin daar geskrywe staan dat alles op die regte tyd en met goeie rede gebeur. Die eerste treffersnit is Tweede kans, wat reeds besig is om teen omtrent elke trefferslys uit te klim. Weier gaan byna verseker ‘n treffer word. Hierin sing sy van iets waarmee die meeste jongmense worstel; jy het ‘n oog op iemand, maar daardie persoon stel in niks meer as vriendskap belang nie. Riana Nel is onlangs getroud, en sy het Jy was daar vir haar man geskryf. Dit kan maklik een van die groot treffers vanaf die album wees! Huis toe is nog ‘n moontlike treffer vanaf die album; die meeste mense sal met die woorde kan indentifiseer.
Riana en haar ewe bekende suster is in Namibië gebore, en in die pragtige snit, Namibië, sing sy van haar geboorteland. Meer as ‘n vriend sluit baie aan by Weier, maar dalk ‘n bietjie meer positief. Dik en dun is ‘n lekker snit wat ook ‘n treffer kan word. Op Alles val wys Riana dat sy nie bang is om lekker te rock nie; dit is seker een van die beste snitte vanaf die album. Toe Riana tot die musiekbedryf toegetree het, het sy op Engelse Christelike musiek gekonsentreer, en daarom is dit nie verbasend dat sy net so goed in Engels as in Afrikaans kan skryf nie. Glass is die eerste Engelse snit op die album, en soos op Soos die son, wat een van die treffers vanaf Die moeite werd was, sing Coleske saam met haar. Hierdie snit behoort by ‘n wye gehoor byval te vind. Hoe kan ‘n man is die laast Afrikaanse snit op die album; dit is aansienlik rustiger as die meeste ander snitte op die album, en die lirieke laat jou dink.I dodn’t say goodbye is ‘n baie mooi akoestiese snit waarop ‘n viool en ‘n tjello onder meer gehoor kan word. Die laaste snit, Time, is baie dieselfde, en dit bewys dat ‘n goeie liedjie soms op sy beste klink as daar so min instrumente as moontlik gebruik word.
Hierdie album het byna onmiddellik die topverkoper in Suid-Afrika geword, en dis maklik om te verstaan hoekom. Nie net is die musikale verwerkings uitstekend nie, maar Riana se lirieke is beter as dié van die meeste kommersiële kunstenaars. Diegene wat al ‘n vertoning van haar bygewoon het, sal ook weet dat sy ongelooflik talentvol is. Daar is geen rede hoekom hierdie album nie baie lank bo-aan die treffersparades kan bly en hoekom sy nie sommer ‘n spul toekennings sal wen nie. Dit is sonder twyfel een van die heel beste Afrikaanse albums wat tot dusver vanjaar verskyn het!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Elize Webb ·

Seker een van die beste CD’s wat ek nog gekoop het. Kan nie ophou luister nie! Elke liedjie – Afrikaans en Engels is ‘n treffer!

Thea ·

Beslis geseend met als wat sy aanpak!! My gunsteling Kunstenaar, album beslis die moeite werd en op die regte tyd!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.