Die tekkie-rag 2- Johan van Rensburg

Die tekkie rag 2Omtrent twintig jaar lank was Johan van Rensburg die leier van die Musiekfabriek, wat met elke program die musiekleidrade op die gewilde televisieprogram Noot vir noot voorsien het.
Johan het intussen afgetree, maar dit beteken nie dat hy stilgesit het nie. Twintig jaar gelede, op sy vyftigste verjaardag, het hy sy eerste CD, Die tekkie-rag, vrygestel, en nou is hy terug met sy tweede album. Vir diegene wat sukkel om die eerste een in die hande te kry, is daar goeie nuus: die eerste CD is by die nuwe een ingesluit. Vir die doel van hierdie resensie gaan ek egter op die nuwe album konsentreer, maar die klankgreep van een van die snitte op die eerste album, naamlik Sondaarspoort, verskyn hieronder.
Die nuwe album skop af met ‘n keurspel van twee van Kurt Darren se treffers, naamlik Af en af en Daar doer in die donker. Ballade vir Belinda is ‘n baie mooi oorspronklike nuwe komposisie. Dit was gedeeltelik die tema uit die televisiereeks Galery, maar hy het dit in ‘n volledige komposisie verander ter nagedagtenis aan ‘n oorlede vriendin. Daar is twee snitte wat veral by ouer luisteraars sal vind. Nommer asseblief was die eerste televisiereeks waarvoor Johan die temamusiek geskryf het. Onder die akteurs wat in dié televisiereeks te sien was, was Alex Heyns, Miems de Bruyn, Sann de Lange en Johan van der Merwe. Johan het dié snit vir klavier verwerk, maar die bekende inleiding behou. Dit klink nog beter as toe dit aanvanklik vrygestel is, want die elektroniese klanke van die laat 1970’s het beslis nie die toets van die tyd deurstaan nie. Die radiovervolgverhaal Die Du Plooys van Soetmelksvlei is selfs nog ouer, en hy het dit ook nuut verwerk. Janie is her name en Side saddle is twee snitte waarvan die titels dalk nie bekend klink nie, maar ‘n mens sal dit dadelik herken as jy dit hoor. Die eerste klassieke snit op die album is die tema uit die Nuwe Wêreld-simfonie, ook bekend as Going home, deur Dvorak. Die volstruisdans is ‘n lekker oorspronklike komposisie. Johan was lank verbonde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit) en hy het twee keurspele opgeneem van liedjies wat hulle gereeld tydens sy studentejare gesing het.
Stars and stripes forever is ‘n patroitiese Amerikaanse mars gekomponeer deur John Philip Sousa, en Johan se verwerking klink baie goed. Nog ‘n bekende snit is Ghost riders in the sky, wat deur Stan Jones gekomponeer is en onder meer deur Burl Ives en Johnny Cash opgeneem is. Lesson one is oorspronklik deur die bekende klavierspeler Russ Conway gespeel en is niks anders as ‘n verwerking van die bekende Chopsticks nie. Johan se gesin was ook by die CD betrokke; Riaan speel die tromme op sekere snitte, Anri het die omslagontwerp gedoen en sy ewe bekende vrou, Rina Hugo, sing op die laaste snit, Nikos Ignatiadis se bekende Still in love with you.
Johan het homself deur die jare as een van ons land se voorste instrumentaliste gevestig en op hierdie album kan ‘n mens verstaan hoekom. As jy van instrumentale musiek hou, moet jy dit sommer dadelik by jou CD-versameling voeg!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.