Digitale konsert help ‘Angels’ én sangers

Demi Lee Moore (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Skuif gerus nader, want op Saterdag 27 Junie is dit tyd vir die Good Morning Angels-konsert om na ʼn skerm naby jou te stroom.

Die e-konsert wat deur Tracker en Jacaranda FM aangebied word, beloof om een van die grootste musiekhoogtepunte van 2020 te wees. Kykers kan uitsien na optredes van Demi Lee Moore, Refentse, Prime Circle, DJ Jazzy D en Martin Bester, wat almal bymekaarkom om mense in nood te help.

Dit is ʼn konsert van twee en ʼn half uur, wat 30 minute lange akoestiese stelle van hierdie sangers se geliefkoosde liedjies elk bevat, en word aangebied op ʼn volledige verhoog met behoorlike klank en beligting. En jy as kyker kan die konsert vanuit die warmte en gemak van jou eie huis geniet.

Kaartjies beloop slegs R70 per toestel en 50% van die opbrengste sal gebruik word om die sangers in hierdie besonder moeilike tye te ondersteun terwyl die ander 50% aangewend sal word om die Good Morning Angels van Jacaranda FM se ontbytprogram te finansier. Die Angels dra by tot lewensreddende hartoperasies, Covid-19-hulpverleningsprojekte, welsynsprojekte, die ontwikkeling van belowende jong talent en selfs die bewaring van Afrika se besonderse natuurlewe.

Refentse Morake (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Goeie musiek is wat ons die beste doen by Jacaranda FM, daarom het ons besluit om saam met Tracker te werk om die krag van musiek te gebruik om die winter ʼn bietjie warmer te maak terwyl ons ook uitreik na die mense wat ʼn helpende hand die nodigste het.

“Sluit by ons aan op 27 Junie en vra almal wat jy ken om dieselfde te doen. Elke sent wat ingesamel word, gaan vir ʼn fenomenale saak,” het Leith Smith, bemarkingsbestuurder van Jacaranda FM, gesê.

Volgens Michael du Preez, uitvoerende hoof van bemarking en produkinnovering by Tracker, is dit ʼn wonderlike inisiatief wat poog om mense in nood te help.

“Tracker is baie opgewonde om deel te wees van hierdie Jacaranda-inisiatief, want dit pas perfek by ons handelsmerk se belofte: Om om te gee, is om te beskerm.

“Ons sien uit na hierdie virtuele konsert en wil elke Suid-Afrikaner regtig aanmoedig om deel te wees van hierdie wonderlike geleentheid.”

Kaartjies is beskikbaar op www.jacarandafm.com

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae