Dirk van der Westhuizen: Van klein droom tot groot verhoog

Dirk spog met sy albums wat goue status bereik het. (Foto: Instagram/Dirk van der Westhuizen)

Dirk spog met sy albums wat goue status bereik het. (Foto: Instagram/Dirk van der Westhuizen)

Dirk van der Westhuizen weet van val, maar meer as dit weet hy van opstaan. Dié Pretoriase sanger, wat destyds op die Afrikaanse musiektoneel verskyn het met die dansliedjie “Gooi jou suiker op my”, het homself die afgelope dekade in die musiekbedryf telkemale opgetel en weer afgestof.

Vir jare moes hy harde kritiek verduur en sy voete vind in dié bedryf en nou kan hy dit uiteindelik sê: Hy gaan Afrikaans is Groot toe.

Dit nadat hy amper sy loopbaan prysgegee het. “Hierdie jaar vir my het baie sleg begin,” vertel hy tydens ʼn openhartige onderhoud by sy huis noord van Pretoria. Sy pa, ook Dirk, is besig om die kristalhelder swembad te versorg terwyl hul geliefde worshondjies, Chuck en Norris, om sy voete rondspeel.

“Dit was seker die slegste begin van ʼn jaar ooit. Ek wou net opgee. Nie op God nie, maar op myself. Ek was op die punt waar ek gevoel het ek werk al so lank en soveel mense kraak my konstant af. Ek is self baie hard op myself, en ek het op ʼn punt gekom waar ek net nie meer wou nie.”

Hy wou die opname van sy nuwe album, Sexy vi my, net agter die rug kry. “Ek was moedeloos. Ek het gevoel ek werk al so lank en nie een van my albums het al goue status bereik nie.”

Min het hy geweet van Sexy vi my sou binne twee weke nadat dit uitgereik is, sonder veel bemarking, 10 000 eksemplare verkoop word. “Nie lank daarna nie het dit goue status bereik en my vorige album #OnsWilEnOnsKan, het ook die golf gery en goud gegaan. Ek het meer positief geraak en toe bel tannie Ronel [Brink, Bobby en Karlien van Jaarsveld se ma en agent] my met die nuus dat ek gekies is om hierdie jaar deel te wees van Afrikaans is Groot. Toe het ek geweet dit is die lig aan die einde van my tonnel.”

Die harde kritiek wat hy daagliks op sosiale media en in sy persoonlike lewe moet verduur, stook die vuur wat hom motiveer om beter te wees. “My familie en mense op skool het nooit in my geglo nie. My ouers en my boetie het my nog altyd ondersteun, maar die mense wat ek die graagste wou hê moet agter my staan, het nooit nie. Dit spoor my aan. Ek gaan vir jou wys ek gaan dit doen.”

Dirk van der Westhuizen.

Dirk van der Westhuizen.

Deesdae is die kritiek soos water op ʼn eend se rug, sê hy, maar jaloesie steek maar nog oral kop uit, selfs in die gimnasium. Hy lag. “Ek weet nie wat dit is omtrent my nie – dalk is ek ʼn bedreiging? As ek met enige meisie in die gim praat, is daar gewoonlik moeilikheid.

“Maar ek weet God skyn uit my uit. Dit is duidelik iets wat ander mense wil hê. Nié op ʼn fisieke of aardse manier nie, maar in die gees. Die donkerte verstaan nie die lig nie. As mense iets nie verstaan nie, raak hulle geïrriteer daarmee.”

Tog het die kritiek sielkundige letsels gelaat. “Niemand kom kuier regtig by my huis nie, want ek laat nie mense toe nie. Ek is ʼn baie private mens as gevolg van groot instansies wat my in die verlede erg te na gekom het. Ek het selfs vir jare my beste vriendin weggestoot, want ek wou nie hê enigiemand moet naby my kom nie. Dit is maar wat die bedryf aan jou doen.”

Vandag gaan dit beter en kan hy meer sosiaal verkeer. “Ek het besef ek kan nie net show en huis toe gaan, en show en huis toe gaan nie. Ek het vir die Here gevra om my te help om meer sosiaal te wees, want ek het mense om my nodig. Dit help nie ek gaan alleen deur die lewe nie. Ek het lank gelede VCR-toekennings gewen en dan het ek niemand gehad om te vertel nie. Daar was altyd net my ma, maar sy is my ma, sy gaan altyd bly wees vir my.”

Die ure wat hy in die gim deurbring word gedryf deur mense se destydse kritiek oor sy klein gestalte. “Ek het 64 kg geweeg. Ek was verskriklik maer. Liggaamsbou is nou een van my groot passies en iets waaroor ek nou obsessief is.” Hy lag wrang.

“As mense nou kommentaar lewer dat ek maer lyk wanneer ek besig is om te dieet om spiere te sny, verloor ek my selfvertroue. Ek is konstant sleggesê oor ek so maer was, en die oomblik wat ek voel ek gaan weer terug soontoe, voel ek klein en is bang iemand sê iets sleg. Dit is iets wat ek moet oorkom, maar ek glo ook dit is deel van die leerproses van die lewe – jy gaan nooit perfek wees nie, tot die dag wat jy oud is of doodgaan, gaan jy nog leer.”

Dirk op die verhoog, in sy element. (Foto: Instagram/Dirk van der Westhuizen)

Dirk op die verhoog, in sy element. (Foto: Instagram/Dirk van der Westhuizen)

Hy was agt jaar oud toe hy een middag ʼn vertoning van die Amerikaanse popster Britney Spears op die televisie gesien het. Die dogtertjies op hulle pa’s se skouers en seuntjies wat saam met haar gesing het, het die droom om ander mense te vermaak in sy hart geplant.

“Maar ek kon nie sing nie. Ek kon nie note hoor nie. Dit was hoekom my familie altyd vir my gesê het ek sal nie ʼn sanger word nie. Ek het gebid en gepleit om musiek te kan hoor. Op 15 het ek begin om elke Woensdagaand by O’Hagans karaoke te sing. Sodra ek op die verhoog gestap het, het mense begin uitstap.

“Ek was 16 toe ek die eerste wonderwerk van God beleef het. Ek het die spesifieke aand weer gaan karaoke sing en ek kon voel hoe die Here my hand vashou. Ek het “Standing on the Edge of our Lives” van Kurt Darren gesing en ek kon die Here fisiek reg rondom my aanvoel. Skielik kon ek elke noot hoor wat ek sing. Elke noot.”

God se tyd is nie ons tyd nie, herinner hy homself weer. “As jy kyk na hoe die jaar vir my begin het en hoe dit vir my gaan eindig, met Afrikaans is Groot in my visier, kan ʼn mens dit skaars glo, en dit is absoluut net God se genade.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Rika ·

Dirk, jy moet nie dat enige iemand jou ooit afkraak nie, behalwe vir die feit dat jy werklik n beeldskone en aantreklike man is, het God jou ook geseen met n awesome stem. Jy straal God se beeld uit, Jy is nie skaam om God die dank en eer te gee wat Hom toekom nie. Mense sal altyd jaloers wees en daar sal altyd negatiewe komentaar wees, maar onthou 1 iets, jy is geskep volgens God se beeld, jy is geseen en God is baie baie lief vir jou. Hou aan om te doen wat jy doen want jy is n inspirasie vir baie mense.

'n Boom word aan sy vrugte geken ·

Ek het persoonlik niks teen sangers, hulle loopbane, hulle bemarking (of dit kort rokkies, kaal bolywe, stomende kooitonele, of watookal dit is, wat hulle gebruik om hulle musiek te verkoop nie), maar ek het ‘n groot probleem wanneer hierdie semi-naaktheid en beheptheid met seks voorgehou word as ‘n Beeld van God en hulle daarop roem hoe God alles vir hulle is. Jammer ek kan nie die kloutjie by die oor bring nie en dit is vir my disrespekvol en teenstrydig met wat behoorlik is. As jy alles moontlik doen om wêrelds te lyk en sensualiteit moet verkoop, is dit jou keuse, dit is ongelukkig nie versoenbaar met kuisheid en ‘n christelike lewensstyl nie. Dis òf die een òf die ander. Geen wonder jongmense is so verward nie.

Phillip Groen ·

@Rika

So God se beeld is een waar mense losbandigheid bevorder? Die moderne Christen het sy kompas verloor. Jy kan nie eenkant dit doen en bevorder wat lei dot losse sedes an aan die anderkant God met jou lippe bely nie. Dis ‘n totale “disconnect” met mekaar.

Hierdie oordrewe beheptheid met “looks” en seksualiteit kan beslis nie as “God se Wil” geklasifiseer word nie. Ons samelewing het legio voorbeelde van enorme sosiale probleme: Losbandigheid, tiener swangerskappe, ongehude moeders, egskeidings, verhoudings wat totaal disfunksioneel is, dwelms, drankmisbruik, ens.

Ek is jammer om te sê maar werklike waardes byt die onderspit teen bogenoemdes. Ons jongmense oor die algmeen lê aand vir aand in “jolplekke” rond waar suip en losbandigheid die bo-toon voer, dan wonder hulle hoekom hulle sulke massale verhoudings probleme het. Aand vir aand skool hulle hulself om oppervlakkige pret bo dieper waardes te stel.

Ek hoor al die koor wat skree “Jy is verkramp!”, wel eerder verkramp as om met die magdom probleme te sit waarmee ons jongmense sit waaraan hulle self aandadig is, maar heeldag iemand anders soek om te blameer voor.

As ‘n toets dink jy “God” sal tuis voel as Hy in die video hier bo moes verskyn?

Die Christendom moet van die die absurde idee ontslae raak dat jy kan doen wat jy wil solank jy net God bely met jou lippe….

Mat 15:8 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.

Andre ·

Lyk of al die singers en TV aanbieders in ‘n gym toe gesluit is. Waar kry hulle al die tyd?

Stier ·

Elke mens word een of ander tyd gekonfronteer met wie hy/sy regtig is. Of die kunsmatige spiere, danspassies en gym aanhangers genoeg is sal net ‘n mens self weet.

Susan ·

As jy minder fokus op jou uiterlike en ‘n video maak waar jou singery die aandag moet trek, sal jy dalk beter vaar. Al jou foto’s wys jou “lyf” en jou “sexy kyk”. Dis nie sleg om ‘n goeie selfbeeld te he nie, maar dis goor om dit in ander se kele af te druk omdat jy ‘n sukses van jou sangloopbaan wil maak. Sterkte vir die toekoms

Linda ·

Die lat maak my bene lam en as ek aan hom dink smile ek heeldag… Ek bewonder mense wat geboelie is en tog nog uit gestyg het in die lewe. Dit bewys net jou voete moet op Moeder Aarde staan en jou hande en gesig moet na BO gedraai wees

Phillip Groen ·

Ek sal nou nie kommentaar op die man se sang vermoëns lewer nie want ek is so onmusikaal dat wanneer ek die radio aan sit is die ding vals. ek los dit vir mense beter gekwalifiseer vir dit.

Die Christendom is eintlik in ‘n krisis, daar heers ‘n totale “disconnect” tussen dit wat hulle getuig en dit wat hulle doen. Die oor-seksualisering van die samelewing word gedryf deur magte vreemd aan die Christendom.

Dis ‘n bietjie dik vir ‘n daalser as mens eenkant God bely maar aan die anderkant geld en roem probeer maak deur die maak van suggestiewe videos, wat bydra tot die oor-seksualisering van ‘n samelewing wat reeds bankrot gaan aan goeie waardes.

Die video en die sanger is duidelik gefokus op die uiterlike. Dit is geen wonder dat die moderne Afrikaner soos ‘n boot sonder anker ronddobber in die see van die wêreld met geen idee waarheen hy op pad heen is nie.

Gewoonlik sou ek seg doen wat jy wil maar los tog net die ewige godsdienspraatjies uit die saak uit, maar ek besef dat ons jeug uiters vatbaar is vir die vestiging van hierdie verwronge stel waardes en daarom sal ek altyd protesteer teen die verwringing van waardes wat tans gebesig word in ons volk.

Die huidie toesatnd van die Christendom: Mat 15:8 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.

Julle kan nou maar die klippe gooi….

Swartwolf ·

Hier is groot fout! Vir die wat nog twyfel Google sy video super cool. Case closed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.