Dit staan in die sterre- Rinel Day

Dit staan in die sterreOmtrent twee jaar gelede het Rinel Day haar eerste, gelyknamige CD vrygestel, maar hoewel dié album twee treffers opgelewer het, naamlik Een somersaand (saam met Henri Alant) en DJ speel dit weer, is haar musiek nie regtig op die groot radiostasies gespeel nie.

Nou is sy terug met haar tweede album, Dit staan in die sterre, en die vraag is of dit dalk gaan verander. Die titelsnit verskil byna heeltemal van enigiets wat op haar debuutalbum voorgekom het, en behoort haar grootste treffer tot dusver te word. Rinel het dit saam met haar man, Michael de Lange geskryf. Hulle het ook saamgespan vir die tweede snit, Jou hart het die pad gevat. Ligjare weg is ‘n lekker snit wat die dansvloere gou vol sal kry en dit behoort een van die treffers vanaf die album te wees. Johan Oberholzer het homself die afgelope paar jaar as liedjieskrywer gevestig, en sy bydrae tot hierdie album, Maak my joune, is nog ‘n moontlike treffer. Michael en Rinel het Dans deur die lewe saam geskryf, en weer eens is dit ‘n baie lekker snit.

Nog ‘n snit wat Michael en Rinel saam geskryf het, is Liewe lawwe liefste (baby blue), en dit si jammer dat dié snit met deurmekaar taal bederf word. Hoe ook al, diegene vir wie dit nie ‘n probleem is nie, sal daarvan hou. DJ speel dit weer was weliswaar een van die treffers vanaf Rinel se vorige album, maar dis goed dat dit weer op hierdie album ingesluit is want dit verdien om aan ‘n groter gehoor blootgestel te word. Op ‘n Duisend gedagtes kom ‘n mens agter dat Rinel nie net dansmusiek kan sing nie, hierdie snit het meer as dit om die lyf.  Met Dit is meer as liefde gaan sy egter terug na die dansmusiek toe, maar dit is nog steeds ‘n goeie snit. Elvis se Seun het die laaste tyd baie gewild geword, veral as gevolg van sy treffer Boere-rock. Hy is niemand anders nie as Stefan Ludik, wat al in Egoli, 7de Laan en Binnelanders te sien. Hy het Is ons verby geskryf, en sing dit ook saam met Rinel. Rose van goud, wat onder meer deur Waldo Greeff geskryf is, is nog ‘n snit waarop Rinel haar ware talent ten toon stel. Vat ‘n kans is sonder twyfel ‘n snit met trefferpotensiaal; hopelik sal dit binnekort radiolugtyd kry. Een van die snitte wat veral by jonger mense byval sal vind, is Lekker ding, wat ‘n treffer op die dansvloer sal wees.  Liedjie vir ‘n kind is nie so sentimenteel as wat ‘n mens mag dink nie; dit is trouens ‘n baie mooi snit. Emil Struwig het al vir ‘n hele aantal kunstenaars liedjies geskryf, onder meer Kurt Darren, 4 Werke en Andriëtte Norman, en Jy is alles is sy bydrae tot hierdie album. As jy my laat gaan, die laaste snit op die album, klink effens anders as van die ander snitte op die album, en dis jammer dat dit aan die einde van die album “weggesteek” is.

Rinel het nog nie haar volle potensiaal bereik met haar vorige album nie, en dit is ‘n jammerte omdat sy werklik ‘n uiters talentvolle kunstenaar is wat nog baie gewild kan word. Haar nuwe album is selfs nog beter, en ‘n mens hoop dat nog meer radiostasies van haar sal kennis neem. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.