‘Diverse’ groep musikante ingehuldig in Rock Hall

(Foto: Facebook/Rock and Roll Hall of Fame)

Tina Turner en Jay-Z is onder die kunstenaars wat vanjaar benoem is om opgeneem te word in die Rock and Roll Hall of Fame, het die organisasie Woensdag aangekondig.

Carole King, The Go-Go’s, die Foo Fighters en Todd Rundgren vorm ook deel van die elite-groep kunstenaars wat gekies is om moontlik opgeneem te word in dié rock-panteon.

Dit blyk dat die 1 200 kiesers, wat verantwoordelik is vir die toekennings, die ewige kritiek dat hulle tekort skiet aan diversiteit ter harte geneem het.

“Vanjaar se diverse klas van talentvolle kunstenaars weerspieël die voortdurende toewyding van die Rock Hall om kunstenaars, wie se musiek die klank van jeugkultuur geskep het, te vereer,” het John Sykes, voorsitter van die Rock and Roll Hall of Fame Foundation in ʼn verklaring gesê.

Die benoemings van 2021 is uiteenlopend in generasie en genre en behoort ʼn gebeurtenisvolle inhuldigingseremonie in te hou. Die 36ste jaarlikse seremonie vind op 30 Oktober vanjaar plaas in Cleveland, Ohio, waar die Rock and Roll Hall of Fame gevestig is.

Jay-Z, die Foo Fighters en The Go-Go’s is almal vir die eerste keer benoem aangesien kunstenaars eers 25 jaar ná hulle eerste uitreiking in aanmerking vir die toekenning kan kom.

The Go-Go’s, bekend vir hulle punk-popmusiek van die 1980’s, kom sedert 2006 in aanmerking vir ʼn benoeming.

“Vroue speel nog altyd ʼn belangrike rol in die ewig veranderende musiekbedryf en ons is so trots om erkenning vir ons suksesverhaal te kry van die @rockhall en ons wonderlike aanhangers,” het die groep op Twitter geskryf.

Die kletsrymmagnaat Jay-Z, wie se treffers insluit “99 Problems” en “Hard knock life”, betree die Hall of Fame as wenner van 23 Grammy-toekennings en die eerste hip-hop-kunstenaar wat in die Songwriters Hall of Fame ingehuldig is.

Turner is benoeming kom ná die uitreiking van ʼn HBO-dokumentêr getiteld Tina, wat die storie vertel van hoe sy haar man, Ike Turner, verlaat het. Hy was haar musikale vennoot, maar het haar ook mishandel.

Turner het ʼn uiters suksesvolle solo-musiekloopbaan van stapel gestuur met treffers soos “What’s love got to do with it” nadat sy van Ike geskei is.

(Foto: Facebook/Rock and Roll Hall of Fame)

Carole King spog met ʼn suksesvolle loopbaan as liedjieskrywer vir ander kunstenaars. Haar 1971-album Tapestry is egter een van die topverkoperalbums van alle tye, met treffers soos “You’ve got a friend in me” en “(You make me feel like) a natural woman” – ʼn treffer wat selfs nog meer bekend gemaak is deur Aretha Franklin.

Dit is die pop-rocker Rundgren, bekend vir treffers soos “Bang the drum all day”, se vierde benoeming.

LL Cool J, Billy Preston en Randy Rhoads sal vereer word met toekennings vir musikale uitnemendheid.

Die platebaas Clarence Avant sal vanjaar die Ahmet Ertegun-toekenning kry, wat uitgedeel word aan mense in die bedryf wat nie kunstenaars is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.