Doep is nie dood nie- Jannie du Toit

 

Doep is nie dood nieOp 15 Januarie vanjaar was dit dertig jaar sedert een van die grootste geeste van Afrikaanse musiek, Koos du Plessis, in ‘n motorongeluk dood is.

Hoewel dit gebeur het minder as vyf jaar nadat die musiekbedryf vir die eerste keer kennis van hom geneem het, het hy ‘n enorme musiekskatkis nagelaat, en is sy musiek nog net so toepaslik soos destyds. Daarom is dit geen wonder dat soveel kunstenaars al hulde aan hom gebring het nie; van Theuns Jordaan en Mathys Roets tot die Christelike sanger Piet Smit.

Een sanger en liedjieksrywer wat nie skaam is om te erken dat Koos ‘n groot invloed op hom gehad het nie, is Jannie du Toit. Jannie het pas die album met die gepaste titel Doep is nie dood nie, vrygestel waarin hy op sy manier hulde aan Koos bring. Die eerste twee snitte op die album is minder bekend. Om deur te breek is die eerste keer op die album Koos se plaat, waarvan Jannie ook deel was, ingesluit, en dit is goed om dit weer te hoor. Middernagtrein is nuut opgeneem vir hierdie album, asook die gelyknamige vertoning wat daarmee gepaard gaan. Daarna volg ‘n aantal bekende snitte. Vermiste mense is al deur die meeste kunstenaars wat hulde aan Koos gebring het, opgeneem. Gebed is seker koos se bekendste komposisie naas Kinders van die wind, en dit is ‘n skande dat Koos dit nooit self opgeneem het nie. Splinterruit is seker een van Koos se beste komposisies en ‘n hoogtepunt vanaf hierdie album. Skadu’s teen die muur was die titelsnit vanaf Koos se debuutalbum, wat verskyn het kort nadat Kinders van die wind ‘n treffer vir Laurika Rauch geword het, en dit klink nou nog net so goed soos altyd. Pretoria is nog ‘n snit vanaf dieselfde album Koos het in Springs grootgeword, en in Molberge-herinneringe aan Springs, het hy van sy grootword-dorp gesing. Jannie se weergawe van dié komposisie van Koos is baie goed. Herman , wat Koos as ‘n huldeblyk aan ‘n oorlede vriend geskryf het, is nog ‘n snit vanaf Skadu’s teen die muur, maar dit was nie een van die groot treffers vanaf dié album nie, wat eintlik ‘n jammerte is.

Boshoek is seker een van Koos du Plessis, en dit het op sy album As almal ver is, voorgekom. Op Nes ek wil kan ‘n mens agterkom dat Koos ‘n sin vir humor gehad het, en Jannie se opname, waarvan Clinton Zerf die verwerking gedoen het, is uitstekend. Sprokie vir ‘n stadskind was seker een van Koos se grootste treffers as sanger, en dit is naas Kinders van die wind, seker die een liedjie van Koos, naas Kinders van die wind, wat deur die meeste kunstenaars opgeneem is. Hier’s ons almal tesaam is so tipies van ons Afrikaners wat daarvan hou om te drink wanneer ons kuier. Nog ‘n snit wat hierby aansluit, en wat volgende op dié album voorkom, is Koue vuur, waarin Koos alkoholisme kaalvuis aangespreek het. Jannie se vertolking daarvan is doodeenvoudig skitterend . Skimme is een van die ouer opnames op dié album; Jannie het dit reeds in 1981 vir sy debuutalbum Liedjie vir jou opgeneem. Jannie sukkel ook nie om die een lae noot in die refrein by te kom nie. Die woorde van Groet sonder woorde is nog net so aangrypend soos toe Koos dit aanvanklik geskryf het. Waar is die hartseer is een van die min werklik vrrolike liedjies wat koos geskryf het, en dis goed dat jannie dit ingesluit het. Droomswendelaar is seker een van Koos se heel beste komposisies, en die woorde laat jou dink, want is baie mense nie maar soos hy hier beskryf het nie? As jy my kon volg is een van die min liefdesliedjies wat Koos ooit geskryf het, en dit is nog net so mooi soos altyd. Geen Koos du Plessis-huldeblyk is volledig sonder die wenner van Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie-veldtog, Kinders van die wind nie. Daar is twee weergawes ingesluit; die Afrikaanse een, asook die Nederlandse vertaling wat hy vir sy album Volgende winter gedoen het.

Drie snitte is as bonussnitte ingesluit. Swerwers is al in 1992 as deel van die album Skadu’s opgeneem. Marié du Toit, wat in 1989 die televisieprogram Debuut gewen het, sing hier saam met Jannie. Die volgende een is die Nederlandse vertaling van Kinders van die wind, wat baie goed klink hoewel dit ‘n direkte vertaling is. Dit is een van die hoogtepunte vanaf hierdie album. Somerkersfees is nog ‘n bekende komposisie van Koos wat hy nooit opgeneem het. Dit is egter in die Liedboek van die Kerk ingsluit, en Jannie het dit ook reeds in 1992 opgeneem. Jannie het ook die derde vers geskryf.

Daar is geen twyfel dat Koos se musiek onsterflik is, en dat dit net so aktueel is as toe dit oorspronklik geskryf en opgeneem is. Jannie doen Koos se nalatenskap gestand en verseker dat dit nog geslagte lank gehoor sal word. Doep is inderdaad nie dood nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.