Drie Vrystaat-studente gekies vir wêreldjeugorkes

Drie studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Odeion Skool vir Musiek (OSM) het gewys waartoe hulle in staat is. Carmi Viljoen (viool), Elsabé Raath (altviool) en Maja van Dyk (altviool), is ingesluit in die gesogte Wêreldjeugorkes – ’n orkes wat wêreldwyd bekend is vir sy gehalte, asook vir sy bevordering van prix de corps tussen nasies.

Musica Europa, ’n Italiaanse kultuurvereniging, was in 2001 verantwoordelik vir die stigting van die Wêreldjeugorkes (WYO) in sy huidige formaat. Hulle het noue bande met UNICEF,vandaar hulle missie om musiek met sosiale aktiwiteite van kulture dwarsoor die wêreld te kombineer ten einde die kultuurlewe van almal te verryk.

Carmi Nel (viool)

Streng oudisies word gehou waar van aansoekers verwag word om ’n video-opname op ’n webwerf (Vimeo) te laai. ’n Internasionale raad van beoordelaars luister dan na hierdie opnames en kies die beste daaruit. Die drie OSM-studente was goed genoeg om onder die beste gereken te word.

Hierdie drie musikante is ook lede van die Vrystaatse Simfonieorkes, sowel as die MIAGI-orkes wat verlede jaar ’n suksesvolle toer deur Europa onderneem het. Hulle is verder ook uitmuntende kamermusikante. Carmi en Elsabé, as lede van die Junior Odeion Strykkwartet wat in Nederland getoer het, het getoon dat hulle van internasionale standaard is. Maja van Dyk is in 2012 gekies om as soliste op te tree saam met die Nasionale Jeugstrykkwartet onder leiding van die Sweedse dirigent en violis, Fredrik Burstedt.

Maja van Dyk (altviool)

Hulle het die eerste keer van die moontlikheid gehoor om vir die WYO te speel deur Anmari van der Westhuizen, dosent by die OSM, nadat Margarite Spies van die KZN Filharmoniese Orkes(KZNPO) haar gekontak het op soek na verdienstelike kandidate.’n Skrale drie weke later het hulle die goeie nuus oor hulle insluiting ontvang.

Die orkes, waarby nie minder nie as nege Suid-Afrikaners ingesluit is, en met verteenwoordigers van vyf vastelande, sal vanjaar deur Suid-Afrika toer. Die toer sal in Durban begin, gevolg deur vertonings in Oos-Londen, Plettenbergbaai, George, Knysna, Stellenbosch, en sal met ’n finale vertoning in die Stadsaal van Kaapstad eindig.

Elsabé Raath (altviool)

Werke wat uitgevoer sal word, sluit in “’Romeo en Juliet’’ van Prokofiev, die uitbundige “Karnaval-overture” van Dvorák, Barber se “’Adagio vir Strykers’’ en ’n gedeelte uit Mahler se grootse Vyfde Simfonie, almal gedirigeer deur die dinamiese Josep Vicent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.