Driemanskap bring nuwe klank na alternatiewe musiek

Ian Putter, André Faurie en Ruan Pieterse van Die Eindste. (Foto: Awie Greyling/228 Photography)

Die Eindste is ʼn splinternuwe rockgroep uit Gauteng wat stadig maar seker naam maak in die alternatiewe Afrikaanse musiekbedryf.

Die groep, wat bestaan uit liriekskrywer, voorsanger en akoestiese kitaarspeler André Faurie (21), baskitaarspeler Ruan Pieterse (23) en kitaarspeler Ian Putter (21), het in 2019 saam begin musiek maak nadat Faurie en Putter mekaar op skool leer ken het. Faurie en Pieterse is familielede en speel reeds van ʼn jong ouderdom af saam.

Die driemanskap vertel dat hulle die groep se naam, Die Eindste, eendag by ʼn braai gehoor het waar iemand gesê het “die einste” om saam te stem met ʼn gespreksonderwerp.

“Net daar het ons besef dat dit ʼn goeie naam vir ons orkes kan wees. Ons het egter besluit op die Nederlandse spelling van die woord, wat beteken ‘the final’. Ons het gedink dit is ʼn baie interessante woord in Nederlands en het gevoel dat ons ons Nederlandse erfenis deur dié woord kan vereer,” vertel hulle.

Hulle eerste twee uitreikings getiteld “L” en “Jou optog”, wat in die genre van alternatiewe rock geklassifiseer kan word, maar ook leen uit ander genres soos folk en country, is goed deur lede van die publiek ontvang.

“Die liedjies het baie deure vir ons as orkes oopgemaak,” sê hulle.

“Jou optog” handel oor verskeie temas soos sosiale angs en verwerping, maar ook liefde en hoop. “Die liedjie het ʼn wye, metaforiese betekenis. Ons glo daar is iets vir elke persoon in ons musiek en ons hele album is baie divers.”

Die Eindste beplan om in 2022 gereeld op die verhoog te sien te wees en wil graag ʼn toer van Gauteng en die Wes-Kaap onderneem.

“Ons grootste droom is dat mense hulle met ons musiek kan vereenselwig en voel dat ons ʼn invloed op hulle lewe het. Selfs al sê net 100 mense dat hulle emosioneel by die musiek kan aanklank vind, het ons ons doel bereik,” sê hulle.

Die groep se vollengte-album getiteld Grys is onlangs uitgereik en het sowat nege maande geduur om te voltooi. Die album bevat snitte soos “Gedagte”, “Alweer”, “As jy vir my sê”, “Alles oor en oor” en “Reën”.

“Dit was baie meer werk as wat ons gedink het dit gaan wees en dit het talle laataande geverg om alles perfek af te rond. Vir elkeen van ons was die opname van die album een van die beste ervarings van ons lewe. Ons het soveel nuwe mense ontmoet en het tonne ervaring opgedoen. Dit was beslis ʼn hoogtepunt vir elkeen van ons.”

Grys is op alle digitale platforms beskikbaar. Volg Die Eindste op Facebook en Instagram of maak kontak by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.