‘Droom-kompetisie’ vir aspirantsangers

William Wolf (Foto: Verskaf)

William Wolf het al verskeie trefferliedjies vir sangers soos Brendan Peyper, Pieter Koen en Willem Botha geskryf, en nou tree hy voor die mikrofoon aan met sy jongste enkelsnit “Droom”. Saam met die bekendstelling van “Droom” stuur hy ook die Droom-kompetisie van stapel, waar hy een aspirantsanger se droom gaan bewaarheid met ʼn wenprys ter waarde van R50 000.

Die Droom-kompetisie sluit die volgende in: ’n Unieke liedjie geskryf deur William Wolf, die opname en vervaardiging van die liedjie, ’n musiekvideo en ’n volle publisiteitspakket wat die omslagontwerp asook drie maande se bemarking op die enkelsnit insluit.

“Ek onthou toe ek begin het, was dit nogal moeilik om by die regte mense uit te kom. As jy nie ʼn netwerk van mense het nie en jy weet nie waarheen om te gaan nie, is dit baie moeilik. As ek so iets [soos die Droom-projek] kon gehad het aan die begin van my loopbaan, sou dit wonderlik gewees het,” sê William.

“Jy gaan met ʼn klomp invloedryke mense werk. Jy gaan ʼn netwerk van mense in die musiekbedryf bou. Jy gaan toegang hê tot hul professionele raad en ervaring. Dit is moeilik om ʼn geldwaarde aan so iets te koppel, want dit is ongelooflik kosbaar.”

Die liedjie “Droom” gaan juis daaroor om ʼn droom te kan najaag en om iets te kan doen wat jy regtig graag wil doen.

William Wolf (Foto: Verskaf)

“Dit gaan grotendeels oor iets wat jy doen vir jouself, nie omdat ander mense wil hê jy moet dit doen nie, maar om iets te doen wat jou regtig opgewonde maak,” sê William.

“Droom” het ’n vars, alternatiewe popklank, uniek aan William se styl. Die lirieke het die potensiaal om aanklank te vind by ’n wye verskeidenheid mense danksy die relevante droomboodskap.

“In die liedjie sing ek ‘Sit die pen terug in jou hand, en skryf saam met my’. Daarmee sê ek mense moet weer die keuse, krag en outoriteit terugneem wat jy in jouself het om jou lewe te rig soos jy dit wil doen, sonder om jou ore uit te leen vir wat ander mense dink,” sê William.

William vertel dat hy nog altyd ’n dromer is en dit belangrik ag om ideale en drome te hê en te glo dat enigiets moontlik is.

Enige kunstenaar kan vir die Droom-kompetisies inskryf. Die kompetisie begin op 1 Junie en die wenner sal op 1 Julie aangekondig word. Bekende persoonlikhede in die vermaaklikheidsbedryf, onder andere Martin Bester, Pieter Koen, Heidi Edeling, Wian Smith-Venter en Pieter Cloete, sal beoordelaars wees. Meer inligting kan hier op William se Facebook-blad gekry word.

“Droom” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.