Droomsindroom-treffer nou in Nederlands ‘te horen’

Die broersduo Kirsten en Kyle Schlebusch, beter bekend as Droomsindroom. (Foto: Facebook/Droomsindroom)

Die broersduo Kirsten en Kyle Schlebusch, beter bekend as Droomsindroom, het ʼn spesiale verrassing vir hul voornemende Nederlandse aanhangers opgetower.

Hul wegholtreffer, “Hey sonneblom” is nou ook in Nederlands as “Hey zonnebloem” beskikbaar en spog boonop met ʼn nuwe musiekvideo.

Dié lied boer sedert sy bekendstelling in April 2022 op verskeie Afrikaanse speellyste en is al meer as 1,3 miljoen keer op die musiekstroomdiens, Spotify, gespeel.

Kirsten het “Hey Sonneblom” geskryf ná afloop van ʼn seevakansie, en sy inspirasie was juis om daardie vars gevoel van vakansie en ontspanning met musiek vas te vang.

“Die doel om te skryf oor die sonneblom-mense in elkeen van ons se lewe was om ʼn parallel te trek met daardie gevoel van algehele geluk wat mens ervaar tydens ʼn seevakansie en met die sonneblom-mense in ons lewe,” het hy destyds oor dié goedvoellied gesê.

Die besluit om hul treffer te vertaal is gemaak in aanloop tot hulle eerste Nederlandse konsert, wat op 11 Mei by die Melkweg-musieklokaal en kulturele sentrum naby Leidseplein in Amsterdam gaan plaasvind.

@kirstenrichardmusic

Hey Zonnebloem?????????#afrikaanstiktoks#afrikaans#droomsindroom#heysonneblom#dutchtiktok#nederlands#afrikaanstiktok#afrikaansetiktoks#afrikaansetiktok#afrikaansmusiek#southafricantiktok

♬ Hey Sonneblom – Droomsindroom

Die twee blondekop broers sal ʼn voorvertoning vir Van Pletzen en Early B by dié venue doen, waar bekendes soos U2, Nirvana, The Pixies en Prince ook al opgetree het.

“Ons wou onsself bietjie uitdaag en vir die Nederlandse skare die geleentheid gee om ons musiek in hulle eie taal te hoor. Ons wou dit ook waag om te kyk watter deure moontlik met so vertaling internasionaal kan oopgaan. Ons droom immers nog altyd groot en wil mense leer dat ʼn mens niks het om te verloor as jy jou drome voluit nastreef nie,” vertel Kirsten aan Maroela Media.

Kirsten en Kyle van Droomsindroom in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Met die hulp van hul Nederlandse oom, Bram Petrus Paaijmans, is die lied sonder te veel gesukkel vertaal en verwerk.

“Ons oom kom van Nederland af, so ons het vir hom die basiese Google-vertaling en Afrikaanse lirieke gegee sodat hy veral die sinskonstruksie vir ons korrek kon aanpas. Hy’t dit ook vir sy familie in Nederland gestuur vir finale goedkeuring en om seker te maak dat die lied korrek vertaal is, maar steeds mooi en maklik is om te sing.”

Kirsten sê dit voel asof daar nuwe lewe in die lied geblaas is.

“Dit het vir ons en ons familie vir wie ons dit vooraf gespeel het, skoon vreemd geklink. So amper asof dit heeltemal anderste mense was wat dit sing,” terg hy.

“Dit maak ons net van vooraf opgewonde daaroor.”

Hy en Kyle sien uit om met hul nuwe verwerking voor Nederlandse gehore op te tree, maar bieg dat hulle tog gespanne is om te sien hoe dit ontvang gaan word.

“Ons is nuuskierig om te sien of my uitspraak maklik verstaanbaar gaan wees. Ons gaan ongelukkig eers uitvind wanneer ons daar is.”

Volgens Kirsten het die datum van hul Nederlandse optrede ook spesiale betekenis.

“Die Melkweg is ʼn geskiedkundige venue, so vir ons is dit ʼn reusevoorreg om skaars ʼn jaar nadat ons ons groep gestig het op dieselfde verhoog te wees waar legendes soos Nirvana al gesing het. En dit boonop met ʼn Nederlandse vertaling van ons eie musiek. Ongelooflik!”

Kyk na die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.