DVD: Die geheim van Slangfontein (Lokprent)

Radio Kalahari Orkes

“Die geheim van Slangfontein” is `n musiek-fliek met Rian “Rooi Jan” Malan en die Radio Kalahari Orkes. Dit word op DVD uitgereik en sal vanaf November beskikbaar wees in musiekwinkels landwyd.

Rian “Rooi Jan” Malan gee pad na die Kalahari. Hy’s ‘n stadskind wat doer anderkant die diep donker waters van die Oranjerivier wil gaan vergeet van homself, van sy simpel werk en van sy ongelukkige huwelik. Hy wil ook so ver as moontlik wegkom van die groot gemors waarin die korrupte regering sy land gedompel het. Onverwags weier sy radio om op te hou speel wanneer hy eintlik net stilte nodig het. So ontdek hy ‘n raaiselagtige geheim waneer die radio aanhou om musiek te speel vanaf ‘n sender wat uitsaai vanaf ‘n mistieke tussenwêreld. Die klanke maak die binneboer in hom wakker. Hy ontdek diep gevoelens wat hy laas beleef het toe hy onder Linden se skroeiende son gesit en luister het na Oubaas Malan se Maleise en Boeremusiek plate.

Rian besluit om die eerbare ding te doen. Hy gaan die groot geheim losmaak uit die dodelike greep van die inkennige binnelanders. Maar sal hy die antwoord vind op die uitmergelende vrae wat sy gees teister? Hoe diep sal hy moet delf? Sal sy redding steeds altyd net buite bereik bly? En sal oom Willie Leopold se moersterk mampoer die geheim openbaar?

“Hy skakel in op Stoomradio, ‘n spookstasie wat uitsaai uit die Kalahari en wat ‘n mens slegs kan hoor as jou gees reg ingestel is, soos hy dit stel. En dit wat uit daardie ou draadloos opklink, is die meevoerende klanke van die Radio Kalahari Orkes: blikkitare, bekfluitjies, banjo’s, mandolien, staalkitaar, viool, pedaalstaalkitaar, traporrel, konsertina, trekklavier – aards, opreg en ongekunsteld. Vol skop en lewe en energie. Dis terug na die roots, die wortels: kaal, reguit en eerlik. Jy wil hierdie avontuurlike, jolige, inspirerende rit waarop die RKO jou vat nie misloop nie. “ Theunis Engelbrecht, LITNET.

In episode 2 vertrek Rian en RKO na Oppikoppi 2010 vir hulle optrede daar, onder andere met gaskunstenaar Jack Parow. Dis `n ander wêreld, maar een waarmee RKO se kultus-status sonder moeite saamsmelt. Rock en Boeremusiek is danksy RKO al ou vriende.

Inhoudsopgawe:

  1. Episode 1 – Die Geheim van Slangfontein– Die Kalahari-soektog
  2. Episode 2 – Die Geheim van Slangfontein – RKO gaan Oppikoppi toe

Die DVD bevat ook verskeie RKO musiekvideos. Vir meer oor die RKO se nuutste album Grootste treffers klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.