DVD: Loof en Prys 2

Back2Basics

Die gospel-trio Back2Basics wat reeds sedert 2004 die arena van Afrikaanse gospel met hul inspirerende sang en musiek verruim het, het pas hul tweede DVD uitgereik. Loof en Prys 2 volg op die uiters suksesvolle Loof en Prys DVD. Die nuwe DVD is ‘n versameling van altesame 12 treffers van hul onlangse album, Jesus Heers 3.

Jesus Heers 3 is die derde in die reeks topverkoper-albums wat begin het met Jesus Heers 1 en Jesus Heers 2, waarvan albei al tegelykertyd in die DKNT gospel top10-lys was. Dit is vroeër vanjaar uitgereik.

Back2Basics is bekend vir hul innoverende manier om nuwe lewe en lirieke aan goue oues te gee. Een van die nuwe lofprysing-DVD se gewaarborgde treffers is Ek is, Jesus Christus – Back2Basics se weergawe van Gerhard Steyn se Baby Tjoklits. Ander popgunstelinge wat nou Afrikaanse praat, sluit in Living Next Door to Alice wat nou Alles net uit genade heet – waarmee die DVD-konsert afskop – Gloria wat nou Glo jy nog is en Mississippi wat Here Jesus Christus in Afrikaans is.

Back2Basics beskryf hulself as drie mense “madly in love with Jesus”. Die groep bestaan uit Nos en Sharon Minnaar, wat getroud is. En Anita Holtzhausen, Nos se suster, voltooi die trio. Elkeen dra op sy eie, unieke manier by tot die eindproduk. Sharon en Anita werk graag aan die lirieke. “Ons spandeer baie tyd met God om te hoor ‘wat nou’ en hoe nou verder ‘en wat wil U hê moet hierdie een sê’? Dan kom dit soos ‘n gevoel van verliefdheid, wat so in jou brand,” vertel Anita.

Om gunstelinge op die nuwe DVD te kies, is moeilik, want elkeen van die trio is ‘n sanger in eie reg. “By die Riviere van Babilon is ‘n direkte vertaling van Rivers of Babylon en werk baie lekker op die verhoog,” sê Anita. “Baby Tjoklits (Ek is, Jesus Christus) het soort van net gebeur. Ons het dit nie beplan nie.” Hierdie spontaniteit is ook ‘n goue draad regdeur die Loof en Prys 2-DVD met een mans- en twee vrouestemme sorg die musikale aanbod vir oorgenoeg verskeidenheid.

Back2Basics sal hul graag wil sien as kampvegters dat gospelmusiek nie net as ‘n ‘kerkding’ beskou word nie. “Musiek is musiek,” verduidelik Anita. En hulle musiek is immers veel meer as wat mense sou verwag – dit sluit in dansmusiek, ballades en luisterliedjies met geestelike lirieke.

Loof en Prys 2 is meer as net ‘n DVD. Dit is ‘n intieme saamsing-konsert wat Back2Basics se sielvolle treffers tot in iedereen se voorkamer bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.