DZL-manne praat oor húlle ‘realiteit’

Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie (Foto: Facebook)

Elke nou en dan pryk Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie van die musiekgroep DZL op nóg ʼn glansvoorblad en loop op van die wêreld se glansrykste modeloopplanke. Maar tuis is dié sangers op hul gemaklikste in die Bosveld – sommer met kakies en plakkies.

Die duo het bykans nie ʼn enkele oomblik stil gesit nie ná die uitreiking van hul debuutalbum, DZL, wat hulle onder meer twee Ghoemas besorg het. Nou is DZL se jongste album, Realiteit, onlangs uitgereik, en dié album plaas ʼn streng fokus op sosiale kwessies.

“Met die vervaardiging van ons eerste album het ons glad nie ʼn begeerte gehad om ʼn impak te maak in die bedryf nie – dit was nie vir ons belangrik om roem of toekennings te ontvang nie,” vertel die sangers in ʼn ateljee-onderhoud. “Ons is lief vir ons lewe in die natuur en vir ons modelwerk en het besluit om sommer net saam te sing en te kyk wat daarvan gaan kom. Toe die album so goed ontvang is, het ons besef hoeveel impak daar werklik te make is en ons wou doelbewus daarop fokus om lirieke met betekenis in die nuwe album te hê.

“Daar is soveel mense wat na die liedjies luister en die lirieke daarvan dan in hulle lewens toepas. As sangers het ons dus ʼn verantwoordelikheid: Met ons musiek wil ons mense motiveer om iemand op te lig en te bou en te help om op te staan eerder as om iemand af te breek. Ons wou volhou met ons country-musiek, maar ons wou dit dié keer met ʼn groter doel aangepak het.”

Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie (Foto: Facebook)

Die sangers skroom nie om luidkeels te praat oor kwessies soos boeliery en renosterstropery nie. Die liedjie “Wees iemand”, ʼn duet saam met die sangeres Maruché, is spesifiek geskryf om oor die gevolge van boeliery te praat.

“Ons is albei self as jeugdiges gespot en geboelie. Daarom lê dié liedjie ons werklik na aan die hart. Vandag is ons volwassenes wat steeds die letsels van daardie boeliery ronddra en elke dag poog om die seer te verbloem sodat ander nie kan sien dat ons ook seer het nie. Dit was egter vir ons ʼn groot skok om te besef dat die jonger generasies dit selfs erger ervaar: Sosiale media help jeugdiges om mekaar te verwoes. Ons wou ʼn liedjie sing met die boodskap dat ons elkeen liewer iemand moet wees wat ʼn ander mens optel en ʼn verskil maak as wat jy ʼn mens is wat ʼn ander mense afbreek.”

Die album spog ook met ʼn duet saam met die ontslape kwaito-legende Mandoza. Die liedjie, “Rhino in Our Blood”, is gedeeltelik deur Mandoza geskryf voor sy dood.

“Die Here het ons oor sy skepping aangestel en ons het ʼn plig om daarna om te sien. Ons passie vir renosterstropery het ontstaan toe ons lank terug tydens ʼn Bosveldkuier ʼn poging tot renosterstropery beleef het. Dit was in wese die oomblik toe ons besef het hoe groot probleem die kwessie werklik is. Verder wou ons graag die duet opneem en in die album insluit omdat Mandoza werklik passievol was oor die kwessie; dit was nie sommer net nóg ʼn liedjie wat hy geskryf het nie.”

Realiteit (Foto: Facebook)

Die manne sê Realiteit sal aanhangers ʼn unieke blik op hulle gee. “Met die heel eerste album was aanhangers geneig om ons sien as goedgeboude outjies wat op loopplanke wêreldwyd is en op die voorblaaie van tydskrifte pryk. Maar in die agtergrond hou ons ook nie van hare kam nie en skeer is ook vir ons moeite. Die ‘realiteit’ is dat ons meeste van ons tyd in kakies en plakkies in die bos deurbring – daarom is hierdie album ʼn egte blik op ons en die dinge waaroor ons passievol is.”

ʼn Gedeelte van die geld wat met “Rhino in Our Blood” ingesamel word, word geskenk aan projekte wat renosterstropery wil bekamp.

DZL se album is beskikbaar op iTunes. Vir meer inligting besoek die duo se Facebook-blad.

Wiaan Fourie (Foto: Facebook)

Andries Hendrik Potgieter (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Petenz ·

Mooiste mense met die mooiste harte… Julle bemoedig so baie mense met wat julle doen… Hou so aan ons staan nie agtet julle nie maar langs julle elke tree van die pad…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.