Early B leef met dankbaarheid, liefde vir mense

Early B. (Foto: Early B/Instagram)

“Ek is die outjie van die Dal wat nooit opgee nie. Nee werk nie vir Early nie,” het Early B aan Maroela Media vertel.

Alhoewel die 32-jarige kletsrymer se naam vandag gemaklik in talle Suid-Afrikaanse harte en huise rus, het dit harde werk en onophoudelike gebed geverg om sy storie ’n suksesverhaal te maak.

“Jare gelede, voordat ek ’n solo-loopbaan begin het, was ek deel van ’n groep. Ons het die musiek in my kamer gemaak en opgeneem. Die kwaliteit was nie goed nie.”

Hy het egter allerhande maniere moontlik probeer om dié musiek met mense te deel. Nadat hy besef het dat radiostasies in Gqeberha (Port Elizabeth) nié sy musiek gaan speel nie, het hy met ’n plan vorendag gekom om die musiek tog by luisteraars uit te kry.

“Ek noem dit die Bluetooth Station. Ek het my musiek deur Bluetooth begin versprei – in daardie stadium was dit die kwaaiste funksie op jou foon.”

So het sy musiek nie net in plaaslike inwoners se hande beland nie, dit is so wyd as Johannesburg, Kaapstad en selfs Namibië deur mense gespeel en geniet.

“Daar is liedjies wat ek daardie jare gemaak het, wat mense tot vandag toe ken. Hulle het die pad saam met my gestap.”

Early B op die verhoog. (Foto: Instagram)

Hy het destyds sy oor op die grond gehou om te weet wanneer watter kunstenaars in sy omgewing gaan optree. Een van dié kunstenaars is Jack Parow.

“Ek sou vroeër op die dag van die vertoning na die plek gaan en vra of ek net een liedjie voor die vertoning kan doen; dit het gewerk. Naderhand het hulle my self genader om op te tree voordat die kunstenaars sou optree.”

Early B het hom toegewy aan sy kuns, maar ook geweet waar sy hulp vandaan kom. Hy erken hy het deur die jare bly hoop dat God die regte deure op sy pad sal laat oopgaan.

“Ek weet dat God ’n plan vir my lewe het, ek maak seker dat ek bid en die werk insit.”

“Ek het geweet dat ek eendag my passie met mense wil deel en dat ek musiek wil gebruik om iets op die tafel te sit.”

Sy harde werk het vrug afgewerp, vandag deel hy die verhoog met die room van plaaslike sangers en het selfs al ’n keer of twee in Amsterdam, Nederland, opgetree.

Hy beskryf sy musiek as ’n vlam wat in sy hart brand. Met die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkingstyd, kon hy dié vlam, wat hy graag met mense deel, nie op die verhoog laat brand nie.

Early B bly sedert Januarie 2020 in Kaapstad, maar het ’n gedeelte van die inperking by sy ouerhuis in Gqeberha deurgebring.

“Dit het in daardie stadium soos die einde gevoel, ek wou tyd saam met my ouers deurbring. Ek wou ook seker maak dat hulle nie uitgaan nie, my ma is ’n verpleegster en hulle het mos nie vrees vir enigiets nie. Sy sou uitgegaan het en haar ding gedoen het.”

Hy het egter in daardie tydperk nie een oomblik stilgesit nie, en het selfs ’n nuwe album uitgereik.

“Ek is só dankbaar dat ons weer kan optree. Na elke optrede sê ek net vir God dankie.”

Wanneer hy nie op die verhoog of in die ateljee met opnames besig is nie, is hy in die motorhuis, besig om ’n motorenjin op te bou.

Early B het ‘n passie vir motors. (Foto: Early B/Instagram)

Sy pa, ’n motortegnikus, beskryf Early B as die pa van baie jong kinders in die Bloemendal-omgewing, waar hy grootgeword het. Dit is ook by hom waar Early B sy passie vir motors gekry het.

“Wanneer die motorhuisligte aangaan, dan kom die laaities in die omgewing om te sien wat aangaan.”

Van hierdie kosbare oomblikke deel hy graag met sy aanhangers wanneer hy regstreekse uitsendings op Facebook doen.

Dié uitsendings dra juis by tot die goeie verhouding wat hy met sy aanhangers het en koester.

“Mense vind dikwels aanklank by musiek, dit waaroor ek sing is dit wat mense beleef.”

Early B is iemand wat daarvan hou om mense en omstandighede op te kikker met sy positiwiteit. “Môre gaan altyd ’n beter dag as vandag wees, maak nie saak hoe goed of sleg vandag gaan nie.”

Alhoewel sy musiek dikwels polsend by partytjies gehoor kan word, hou hy daarvan om gebalanseerd te leef en woon nie self baie partytjies by nie.

“Wanneer ons jol, jol ons. En wanneer ons rus, dan doen ons dit behoorlik.”

Hy vind gewoonlik dié rus in sy motorhuis of agter die stuurwiel.

“Ek is ’n petrolkop! Dit hou my aan die gang om te weet dat ek môre weer agter die stuurwiel gaan inklim.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Prys die Here. Mag jy nog baie in Sy naam bereik. Jou getuienis is kosbaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.