Early B slaan goud los: ‘Dis ʼn groot gevoel’

Early B. (Foto: Instagram)

Lank vergete is die dae dat Early B as jong, onervare kletsrymer en deel van die groep MC, Earl and Agemi, sy liedjies en mix tapes gratis weggegee het vir enigiemand wat wou luister.

Dit het 12 jaar van swoeg en sweet agter die mikrofoon geverg voordat sy debuutalbum, Aangename Kennis, uiteindelik in 2018 die lig gesien het. Dié album het pas goue status bereik, wat beteken 15 000 eksemplare van die album is verkoop.

“Ek het net ʼn gevoel van dankbaarheid,” sê hy oor die oomblik toe hy die nuus hoor dat sy album dié gesogte mylpaal gehaal het.

“Ek weet nie hoe anders om dit te verduidelik nie, dit is ʼn groot gevoel,” sê hy via ʼn Zoom-onderhoud vanuit sy ouerhuis in Bloemendal, Port Elizabeth, waar hy grootgeword het.

Dit is ook hier waar hy die afsonderingstydperk deurbring en wanneer hy nie musiek skep in die einste tuisateljee waar alles begin het nie, help hy sy pa, ʼn motorwerktuigkundige, om motors te herstel.

“Die afsonderingstydperk bied my die geleentheid om tyd saam met my ouers deur te bring. Dis tyd wat ek nie andersins aan hulle sou kon afstaan nie. Hulle raak ook ouer en die tyd stap aan,” vertel die 32-jarige Earl Swartz, bekend as Early B.

Early B op die verhoog. (Foto: Instagram)

Dit was ʼn bittersoet gevoel toe hy weens die wêreldwye Covid-19-pandemie nie sy eerste optrede in Amsterdam kon doen nie, sê hy.

“Baie mense vra my waarnatoe nou, maar ek dink ons as kunstenaars moet net ons kreatiwiteit gebruik en die ding aanlyn aanpak. Ek verlang wel baie na die energie en die reaksies van mense in die gehoor.”

Dit het langer as ʼn dekade geneem voor mense werklik begin luister het, vertel die PE-boorling wat sy eie loopbaan as Afrikaanse kletsrymer begin uitkerf het toe MC, Earl and Agemi halt geroep het.

“Dit is selfs in groot plekke soos Johannesburg en Kaapstad moeilik om geraas te maak. So, jy kan jou indink hoe moeilik dit is om in Port Elizabeth geraas te maak. Jy voel jy klop en klop aan die deur en dit gaan nie oop nie en jy voel jy gaan eerder iets anders probeer. Só het die manne ander paaie gekies, maar ek het gevoel dit is my passie dié; ek het gesê ek gaan alles insit hierso. Of ek wen of verloor, dit gaan ʼn les wees vir die volgende persoon.”

Dit is ook die boodskap van sy snit “Deur druk”, wat onlangs saam met Karen Zoid opgeneem is toe hy as gas op dié rocksangeres se gewilde kykNET-geselsprogram Republiek van Zoid Afrika verskyn het.

In dié liedjie deel hy op ʼn rou en eerlike wyse sy gevoelens oor die tydperk toe MC, Earl and Agemi elkeen ʼn ander rigting ingeslaan het.

Pret saam met Emo Adams, Caroline-Grace en Jo Black op die Innibos Kunstefees. (Foto: Instagram)

“Dit was die eerste liedjie wat ek geskryf het toe die groep uitmekaar is, want dit was ʼn tawwe situasie vir my en musiek is altyd vir my terapeuties. Ek het al my gevoelens neergelê in daai liedjie.

“Dié wat my ken, weet ek is nie ʼn ou wat baie lank vat in die ateljee nie – ek sal ingaan, my ding doen en weer loop. ‘Deur Druk’ het my egter ʼn hele paar maande gevat om te skryf. Dit was ʼn vreemde ervaring, want soos wat ek geskryf het, het ek gehoop die groep gaan weer bymekaarkom. Soos wat tyd verloop het, het die liedjie ontwikkel en ek het net neergepen wat ek op daardie oomblik gevoel het,” vertel hy.

Daarom sing hy ook in dié snit oor hoe belangrik dit is om geleenthede aan te gryp as jy jou drome wil bewaarheid.

“Jy het nou die kans, man, elke dag is ʼn nuwe kans! So, vat jou kans vandag, doen wat jy nog altyd wou doen en moenie praat van ‘ek wou dit gedoen het of ek het die gedagte gehad om dit te doen nie’. Vir my het dit daarop neergekom dat ek my loopbaan nou gaan aanpak; ek gaan nou my eie ding doen en ek gaan ʼn ‘Lekker Djy’ en ʼn ‘Ben Ten’ en ʼn ‘Potte’ uitbring, maar ook iets soos ‘Deur Druk’.”

Hy sê dit was ʼn fantastiese ervaring om saam met Zoid te werk. Sy goeie vriend, die sanger en aanbieder Emo Adams, het “Deur druk” die eerste keer vir Zoid gespeel.

“Karen is die soort mens wat die eerlike sy van iemand geniet. Sy het daarvan gehou dat ek daardie kant van myself gewys het met die liedjie; dat ek nie net prettig en vol energie is nie. Sy het gesê sy hou daarvan dat ek kan oopmaak en my storie op daardie manier kan vertel.”

Met Aangename Kennis het hy homself aan die Afrikaanse musieklandskap voorgestel. Hy het ook verskillende style van musiek in die album aangepak.

“Jack Parow is een van die ouens wat my baie geïnspireer het. Voordat ek die album uitgebring het, het hy vir my gesê: ‘Jou album moet jou besigheidskaartjie wees – dit moet presies wys wie jy is en wat jy alles kan doen.’ Dit het by my gestick.”

As kunstenaar en sakeman is dit sy droom om ander opkomende kunstenaars te bemagtig om hulle drome te bewaarheid.

“Ek weet van baie kunstenaars wat al moed opgegee het. Ek glo hulle sou goed gewees het, maar hulle het net nie die geleentheid gehad of die regte kanale gevolg nie. Ek wil net goeie musiek maak, want ek weet die musiek gaan baie langer as ek hier wees. Die mense na wie ek luister, het lankal gesterf, maar hulle musiek het steeds ʼn uitwerking op my.”

  • Luister na die volledige onderhoud met Early B bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.