Ed Sheeran wen groot op MTV-pryse

Ed Sheeran op die verhoog by die Laszlo Papp Budapest Sports Arena in Boedapest, Hongarye. (Foto: Attila KISBENEDEK / AFP)

Die Britse sanger en liedjieskrywer, Ed Sheeran, is Sondagaand met die mees gesogte prys op die MTV EMA-musiektoekennings, naamlik kunstenaar van die jaar, huis toe.

Hy het ook die prys vir beste liedjie vir die oorwurm “Bad habits” gewen.

Sheeran het ook die aand se verrigtinge met sy jongste enkelsnit, “Overpass graffiti”, afgeskop en hy het ook die lied “Shivers” gespeel.

Die Koreaanse popgroep BTS het vier toekennings ingeoes, waaronder vir beste groep en beste popmusiek.

Die kletsrymer Saweetie was die seremoniemeester van die geleentheid, wat in Boedapest, Hongarye, aangebied is.

Die toekenningsgeleentheid het hulde gebring aan die stad se bekende Donaurivier deur ʼn watertema en verhoë wat lyk asof dit dryf, in te sluit.

Die Italiaanse rockgroep, Maneskin, is met die beeldjie vir beste rock vereer. (Foto: Attila KISBENEDEK / AFP)

Die Italiaanse rockgroep Måneskin, wat sy deurbraak op die 2021-Eurovision-liedjiekompetisie gemaak het, het die Foo Fighters uitgeklop om die toekenning vir beste rock-groep los te slaan.

Hoewel die Kanadese popster Justin Bieber vir agt toekennings benoem is, het hy met leë hande huis toe gegaan.

Maluma, Yungblud en die transgender kunstenaar Kim Petras het tydens die geleentheid opgetree. Die MTV EMA’s het ook vir die eerste keer die MTV EMA Generation Change-toekenning uitgedeel. Vanjaar se wenners van dié beeldjie word beskryf as “vyf jong veranderingmakers wat gelykheid en liefde bevorder in die stryd teen anti-LGBTQ+-beleidstellings”.

Kry ʼn volledige lys van die wenners hier.

Bronne: BBC, MTV.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.