Eerste Afrikaanse konsert van sy soort

Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Mathys Roets en Ricus Nel is by die eerste SING, HOOP, WEERKLINK-konsert te sien. (Foto’s: Verskaf)

Van die land se vooraanstaande kunstenaars tree eersdaags by die Voortrekkermonument op om hoop te skep en gemeenskappe bymekaar te bring.

Die SING, HOOP, WEERKLINK-konsert is die eerste van sy soort en word op 30 November deur Solidariteit Helpende Hand in Pretoria aangebied, asook regstreeks op aanlyn platforms uitgesaai.

Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Mathys Roets, Ricus Nel en Vernon Barnard gaan by die geleentheid optree, en Drihan Du Plessis – uit wie se droom dié konsert voortgespruit het – sal ook sy lied “Sing, Hoop, Weerklink” tydens die geleentheid bekendstel.

Volgens Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke, word die konsert aangebied om gemeenskappe saam te bring, bewusmaking rondom persone met gestremdhede te skep en die boodskap oor te dra dat persone met gestremdhede waardige burgers van die samelewing is, al het hulle sekere spesiale behoeftes.

vernon-barnard-002.jpg HH_Hoop konsert

Vernon Barnard (Foto: Verskaf)

“Ten spyte van ʼn aangepaste leefstyl waarin persone met gestremdhede hulself bevind, veg hulle daagliks dapper voort. Hulle hou moed, gee pas en loop voor. Dit is die inspirasie wanneer ons as dikwels gesonde mense ook weens ons eie uitdagende omstandighede in ʼn aangepaste wêreld moet oorleef. Die boodskap wat almal by persone met gestremdhede kan leer, is: ‘As ons kan, kan jy ook!’” sê sy.

Daar is slegs ʼn beperkte aantal kaartjies vir die konsert by die Voortrekkermonument beskikbaar. Mense wat nie self daar kan wees nie, kan dit ook aanlyn kyk. Besoek www.weerklink.co.za vir meer inligting of om kaartjies te bespreek.

Kaartjies kos R130 vir volwassenes en R60 vir kinders tussen sewe en 12 jaar oud. Toegang vir kinders onder sewe is gratis. Kaartjies vir die aanlyn konsert beloop R50.

  • Helpende Hand bedank graag die borge wat hierdie geleentheid moontlik maak. Die hoofborge is Virseker en Dapper Media, asook Maroela Media, wat die mediavennoot vir die konsert is. Die ander borge is Yolande van der Westhuizen Oudioloë, Marius Prinsloo Ortotika en Prostetika en Monument Toyota Wes-Rand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.