Eerste Afrikaanse musiekvideo wat 10 miljoen trefslae kry

Die musiekvideo van die liedjie “Hardekole” wat gesing word deur Ricus Nel, Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse het pas die eerste Afrikaanse musiekvideo geword wat tien miljoen trefslae op YouTube gekry het.

Ander bekende musiekvideo’s vir liedjies soos “Toe vind ek jou” deur Karen Zoid en Francois van Coke en Snotkop se “Cool soos Koos Kombuis” is kort op “Hardekole” se hakke, maar kon nog nie daarin slaag om tien miljoen trefslae te kry nie.

Ricus Nel, wat “Hardekole” geskryf het, sê hy kan nie die gevoel beskryf van wat dit beteken dat die liedjie so suksesvol is nie.

“Ek het in my lewe nooit gedink dit gaan eens by vyf miljoen uitkom nie, wat nog van tien miljoen! Dit is ongelooflik, onbeskryflik,” sê hy.

“Ek dink Suid-Afrikaners assosieer met braai. Ek dink daar is duisende mense wat elke aand braai, maak nie saak waar jy is nie, êrens steek iemand ʼn vuur aan en luister na die liedjie.”

Hendrik Spangenberg, bemarkingspesialis by Sony Select Musiek, sê hulle hou altyd groot musiekvideo’s dop om te sien hoeveel trefslae hulle genereer.

“In dié bedryf weet jy maar wanneer ʼn musiekvideo baie trefslae sal kry en watter ander video’s om dop te hou. Ons het gesien ‘Hardekole’ se video beweeg nader aan tien miljoen, en nou is dit die eerste liedjie wat dit kon bereik,” sê Spangenberg.

Hy vermoed “Hardekole”, wat in Junie 2016 uitgebring is, het so goed gedoen omdat dit ʼn liedjie is wat jy enige tyd en enige plek kan aansit, ongeag of dit hard of sag gespeel word.

“Op die langpad, in jou sitkamer of vir die beste gevoel, om ʼn braai- of kampvuur saam met vriende met ’n vleisie op die kole. Die liedjie laat jou vir ’n paar sekondes vergeet van jou alledaagse lewe, pyn of bekommernisse en jy kan nie help as om saam te sing nie, want ‘dis ’n voorreg’, soos hulle sing.”

Spangenberg sê Sony Select Musiek is nederig dankbaar dat hierdie liedjie soveel ondersteuning ontvang deur Suid-Afrikaners, hetsy Afrikaans of Engels.

“Daar is ʼn kommentaar op die musiekvideo gelaat op YouTube deur ’n aanhanger wat lui ‘I don’t understand a word of this song, but I listen to it everyday’. Dit bewys dat net die melodie sélf mense intrek. Dit is vir ons ʼn groot voorreg dat die liedjie steeds drie jaar later so goed ondersteun word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmandaDup ·

Dit is ‘n pragtige liedjie en die musiek video is soos hulle in Engels sal sê Spot on!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.