Eerste Afrikaanse Top 20-treffer ’n halfeeu oud (1966-1973)

mikrofoon sing musiek

Argieffoto.

Dit is vandeesweek presies 50 jaar sedert die heel eerste Afrikaanse treffer tot Springbok Radio se Top 20 toegetree het, en daarom is dit dalk goed om met ’n kritiese oor te luister na die Afrikaanse treffers wat die Top 20 gehaal het.

Op 22 April 1966 het Des Lindberg geskiedenis gemaak toe hy die Top 20 in die 18de plek met “Die gezoem van die bye” gehaal het. Hy het egter nie net die Top 20 gehaal nie; hy het sommer die eerste plek gehaal. Sedertdien was daar net nog een Afrikaanse liedjie wat dit reggekry het, maar meer later hieroor. Hierdie prestasie was om twee redes ironies. Des is Engelssprekend, en daarby is dié liedjie die Afrikaanse weergawe van “Big rock candy mountain” wat al in 1928 deur Harry Mc Clintock gesing is. Die ander nr. 1-treffer was ook deur ’n Engelssprekende kunstenaar. Die volgende Afrikaanse treffer het die Top 20 op 10 Maart 1967 gehaal, en tot by die derde plek gevorder. “Die Oukraalliedjie” was Groep Twee se eerste treffer, en het al volksbesit geword, veral omdat dit jou sommer dadelik laat saamsing. Nog ’n liedjie wat hulle later opgeneem het, was “Oliekolonie”, maar dit was die Boet van Wyk-orkes se instrumentale weergawe wat op 5 Mei 1967 tot die Top 20 toegetree het. Daar was nog een instrumentale treffer wat as ’n Afrikaanse snit beskou kon word omdat dit die tema van ’n Afrikaanse televisiereeks was, maar ek sal later meer hieroor sê.

Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers was nog altyd lief vir parodie-liedjies en in die 1960’s het Al Debbo ’n paar vrygestel. Twee groot nr. 1-treffers in 1968, “Master Jack” en “Sunglasses”, wat treffers was vir Four Jacks and a Jill, en Al Debbo se Afrikaanse parodieë, “Baas Jack” en “Sonbrilletjies”, het albei tot by die sewende plek gevorder, nadat hulle onderskeidelik in Junie en Oktober die Top 20 gehaal het. Die eerste rugbyliedjie in Afrikaans was “Groen en goud” van The Bats, waarvan Eddie Eckstein en Paul Ditchfield onder andere lede was. Hulle het die Top 20 op 12 Julie 1968 gehaal en tot by die sewende plek gevorder. Terwyl hulle, asook “Baas Jack” van Al Debbo op die Top 20 was, het ’n derde Afrikaanse liedjie, “Groen koringlande” van Ben E, Madison, tot die Top 20 toegetree. Dit was ’n rekord wat nooit geëwenaar of verbeter sou word nie.

Die sukses van “Groen en goud” het daartoe gelei dat The Bats ’n Afrikaanse langspeelplaat opgeneem het. Die enkelsnit vanaf daardie album, “Weltevrede stasie” het die Top 20 op 1 November 1968 gehaal, presies ’n week nadat “Sonbrilletjies” van Al Debbo dit reggekry het. Daar was net twee jare tussen 1966 en 1984 wat daar geen Afrikaanse treffers was nie, naamlik 1969 en 1980. Daar was twee, dalk drie, groot Afrikaanse treffers in 1969, naamlik “Sing seeman sing” van Gé Korsten, “Liefste Madelein” van Leonore Veenemans en “Anita” van Tony en Jan, maar ongelukkig weet ek nie of hulle as kortspelers uitgereik is nie. Ek kan nie aan ’n ander rede dink hoekom hierdie liedjies nie op die Top 20 was nie.

Die Springbok Radio-omroeper Lance James het in Afrikaans begin sing toe hy en Min Shaw saamgespan het vir die klankbaan van die rolprent Danie Bosman. Hy het egter sukses as solokunstenaar behaal toe “Dankie” die Top 20 op 20 Maart 1970 gehaal het. Hy het dit ’n jaar later opgevolg met sy groot treffer Vicki, uit die gelyknamige rolprent, waarmee hy die vierde plek gehaal het. Intussen het Al Debbo sy loopbaan as Top 20-kunstenaar afgesluit met Die tantes van Nantes, wat die elfde plek gehaal het. Later in 1971 het Groep 2 die Top 20 met “Daar’s niks soos ware liefde” gehaal. Dit was hul grootste treffer, wat ironies is, omdat dit ’n Duitse wysie met Afrikaanse woorde was. Nogtans was dit die Afrikaanse liedjie wat die tweede langste tydperk, naamlik 18 weke, op die Top 20 gebly het.

In 1972 het een van die grootste moontlike rampe die Top 20 getref toe “Ek is verlief op jou” van André toegetree het. Weer eens was dit ’n oorsese wysie met Afrikaanse lirieke, maar hoegenaamd niks om op trots te wees nie. Die volgende drie Top 20-treffers was elk net een week op die Top 20, en minstens twee daarvan het beter verdien. Roy Memphis se Afrikaanse weergawe van Marc Dex se treffer “Maar in Amerika” het die Top 20 op 14 Julie 1972 in die 17de plek binnegestorm, maar die volgende week het dit weer uitgesak, wat eienaardig was. Op 17 November dieselfde jaar was Groep 2 in die 20ste plek met hul laaste Top 20-treffer, “Dink jy darem nog aan my?”, wat die volgende week uitgesak het. In teenstelling met 1972 was die volgende jaar nie ’n goeie een vir Afrikaanse musiek nie. Daar was slegs een treffer daardie jaar, naamlik “Ek verlang nog altyd” van Mynie en Jan. Hulle was op 24 Augustus 1973 op die Top 20, maar kon net die 20ste plek haal en het net een week op die trefferslys gekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.