Eerste Afrikaanse treffer ’n halfeeu oud (1974 tot 1984) – Deel 2

mikrofoon sing musiek

Argieffoto.

Op 22 April 1966 het die heel eerste Afrikaanse treffer tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Hier is die tweede deel van my oorsig oor die Afrikaanse liedjies wat op die Top 20 was; hierdie keer van 1974 tot 1984, toe die laaste een wat die trefferslys gehaal het, uitgesak het.

Hoewel Vicky Leandros vier treffers in Suid-Afrika gehad het, kon sy nie die Top 20 met “Hey Joe Mc Kenzie” haal nie. Ironies genoeg het Glenys Lynne dit reggekry, met haar Afrikaanse weergawe, getiteld “Haai Casanova”. Sy het dit later daardie jaar opgevolg met “My hart het ’n kleine venster”, wat net die 19de plek kon haal. Hentje Simons was die enigste kunstenaar wat nooit in Suid-Afrika gewoon het nie, maar die Top 20 met ’n Afrikaanse liedjie gehaal het. “Jou hart is weer myne” was die treffersnit van die album Heintje sing in Suid-Afrika, en het binne drie weke na sy toetrede op 9 Mei 1975 die sesde plek gehaal. Op 25 Julie daardie jaar is daar geskiedenis gemaak toe twee Afrikaanse liedjies tegelyk toegetree het, maar net een daarvan was ’n plek op die trefferslys waardig. Conway Twitty en Loretta Lynn het ’n nr. 1-treffer met “As soon as I hang up the phone” gehad. Caroline du Preez se klakkelose vertaling, “Net soos ek die telefoon neersit” het die Top 20 daardie week in die 20ste plek gehaal. Sonja Herholdt het in die 14de plek toegetree met haar eerste treffer, “Ek verlang na jou”. Jan de Wet het verskeie treffers geskryf voordat hy hom op Christelike musiek toegespits het. Een daarvan was Ian en Dix se enigste groot treffer, “Sonder jou”, wat deel van ’n stukkie geskiedenis was. Twee weke voordat Ian en Dix die Top 20 gehaal het, het Glenys Lynne dit reggekry met haar laaste treffer, “Ramaja”. Glenys is Engelssprekend, soos Des Lindberg, maar sy het ook die nr. 1-posisie met hierdie liedjie gehaal. In Augustus daardie jaar, terwyl “Ramaja” in die nr. 1-posisie was, was “Sonder jou” in die derde plek. Dit was die eerste en laaste keer wat twee Afrikaanse liedjies onder die eerste vyf was.

In 1977 was nog ’n oorspronklike Afrikaanse komposisie op die Top 20, en dit was die eerste keer wat Anton Goosen sukses behaal het. Hy en Tinus Esterhuizen het saamgespan om “Tot siens auf wiedersehen” te skryf; dit was ’n treffer vir Vicky du Preez en het die twaalfde plek gehaal. Die Musiek-en-Liriekbeweging het Afrikaanse musiek in 1979 van ondergang gered. Anton Goosen het sy debuutalbum as sanger gemaak, en “Kruidjie-roer-my-nie” het die Top 20 op 13 April daardie jaar gehaal. Nog ’n kunstenaar wat vir die eerste (en ongelukkig laaste) keer op die Top 20 was, was Laurika Rauch. Sy het Koos du Plessis se komposisie “Kinders van die wind” vir die televisiereeks Phoenix en Kie opgeneem. Dit het die derde plek gehaal, maar reeds in Desember 1979 uitgesak; gevolglik was daar geen Afrikaanse Top 20-treffers in 1980 nie.

In 1981 het ons met nog ’n nuwe kunstenaar wat diep spore in Afrikaanse musiek sou trap, kennis gemaak. David Kramer het die musiektoneel in Augustus daardie jaar  soos ’n bom getref. “Haak hom Blokkies” het ’n Engelse versgedeelte maar ’n Afrikaanse refrein gehad en het die nr. 1-posisie gehaal, maar hy was in Desember terug met “Royal hotel”, ’n volwaardige Afrikaanse liedjie wat in sy tweede week op die Top 20 tot by die sewende plek gevorder het.  Nog ’n oorspronklike komposisie wat die Top 20 gehaal het, was “Sewe sakke sout” van Anneli van Rooyen, wat in April 1982 toegetree het en tot by die vierde plek gevorder het.

Lloyd Ross het die temamusiek vir die televisiereeks Vyfster geskryf, en in Januarie 1983 het dit tot die Top 20 toegetree. Dit het die derde plek gehaal en eers na 19 weke uitgesak; die langste tydperk wat ’n Afrikaanse snit op die Top 20 was. In April daardie jaar, met “Vyfster” op die Top 20, het Kupido se eie komposisie, “Was ek maar ’n digter”, sy verskyning gemaak. Dit was die laaste Afrikaanse treffer voordat die trefferslys na dertig snitte vergroot is.  In daardie tyd, tot en met 1984, was daar net twee wat die eerste twintig kon haal. Herman Holtzhausen het “Trans-Karoo” al in 1980 opgeneem, maar dit het eers in 1984 ’n treffer geword toe dit die temaliedjie van die gelyknamige televisiereeks geword het.  Die laaste Afrikaanse liedjie wat Springbok Radio se trefferslys gehaal het, was “Stoksielalleen” van David Kramer, wat net tot by die 18de plek kon vorder.

As ’n mens kyk na die musiek wat die Top 20 gehaal het, kom jy agter dat Afrikaanse musiek in daardie tyd baie ver gevorder het, en dat dit tot ’n mate die grondslag gelê het vir die gewildheid van Afrikaanse musiek vandag. Aan die ander kant het dit ook baie verbeter, tot so ’n mate dat dit vandag nie snaaks is om verskeie Afrikaanse albums op een slag op die trefferslyste te sien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.