Eerste kykie: Joshua, Lizandra-duet vertel van ‘weerloosheid’

Joshua na die Reën en Lizandra Winter (Foto: Starburst Promotions)

Nadat die Afrikaanse sangers Joshua na die Reën en Lizandra Winter vroeër wyd geprys is vir hul weergawe van die Christa Steyn-liedjie “Ek wil vir jou”, het dié kunstenaars pas die musiekvideo vir die enkelsnit uitgereik.

Douw Steyn, seun van die ontslape sangeres, het vroeër in ʼn onderhoud gesê die sangers se duet-weergawe van sy ma se liedjie bring vir hom “groot vreugde”.

Joshua en Lizandra se weergawe van dié liedjie is in Februarie vanjaar uitgereik. Lizandra het vroeër vertel die idee vir dié duet het ontstaan terwyl sy en Joshua in 2015 saam op toer was. Die twee sangers stap al ʼn lang pad saam en het besluit om dié liedjie van die ontslape sangeres vanjaar uit te reik.

Lizandra Winter (Foto: Starburst Promotions)

“Ons het destyds sommer gesels oor legendes in die musiekbedryf en oor hoeveel kosbare liedjies deel vorm van die geskiedenis van Afrikaanse musiek,” het sy gesê. “‘Ek wil vir jou’ was onder meer een van my gunstelinge en ek het genoem dat ek dit graag eendag sou wou opneem. Toe ek in 2016 besig was om aan my solo-album te werk, het ek vir Jacques [Joshua se regte naam] gesê dat ek graag die liedjie as ʼn duet saam met hom wil opneem. Hy was baie opgewonde oor die idee,” vertel sy.

Joshua het die opname van dié duet as ʼn “groei- en leerproses” bestempel. “Dis ʼn proses wat ek met uiterste respek en dankbaarheid koester. Om saam met Lizandra ʼn duet te kon opneem, is vir my ʼn voorreg, nie net omdat ek haar ag as een van die mees talentvolle mense wat ek ken nie, maar omdat ek die hart ken agter dit wat sy skryf en sing.”

Joshua na die Reën (Foto: Starburst Promotions)

Lizandra vertel die musiekvideo is ʼn metafoor vir hoe iets soms naby, maar tog ook ver kan voel. “Soms, veral in die gejaag van ons daaglikse bestaan, kyk ons na mekaar sonder om mekaar raak te sien. Om weerloos voor iemand te wees, is nie maklik nie, maar dit is in daardie plek van oorgee waar ons mekaar begin vind en waar lewe kan begin,” sê sy.

“Omdat hierdie liedjie regtig eerlik en rou is, wou ons graag iets simplisties dog treffend uitbeeld met hierdie musiekvideo. Ek hoop dat die video in sy eenvoud ʼn groot invloed op mense se harte sal hê.”

Die musiekvideo is op die gasteplaas Erfdeel verfilm en vervaardig deur Jean de Villiers van Daville Films. “Ek wil vir jou” is beskikbaar op Lizandra se debuutalbum, Lizandra Winter, en op iTunes beskikbaar.

Vir meer inligting, besoek Lizandra Winter of Joshua na die Reën se amptelike Facebook-blaaie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

NPVW ·

Sê dankie aan FVC en KZ dat hulle die deure oopgemaak het vir die.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.