Eerste kykie na Ricus se ‘Rebecca’

Ricus Nel (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse sanger Ricus Nel het pas die musiekvideo vir sy jongste enkelsnit – getiteld “Rebecca” – vrygestel.

Dié liedjie verskyn op die sanger se nuwe album, Ricus Nel bring hulde aan Worsie Visser.

“My droom met hierdie album was om Worsie Visser te vereer vir sy merkwaardige bydrae tot Suid-Afrika se musiekskat en dis vir my ʼn reusevoorreg”, vertel Ricus oor dié album. “Ek het my probeer voorstel hoe dit sou wees as ek en hy, elkeen met ons eie manier van doen, lekker om ʼn kampvuur kon sit en musiek maak – dít is die hart van hierdie album.”

Volgens Select Musiek, die sanger se platemaatskappy, is Ricus se aanvoeling vir Visser se musiek “merkwaardig”. “Sy stem is uitgeknip vir hierdie huldeblyk wat afgestof, blinkgevryf en met ʼn kraakvars energie pronk op ʼn album wat keurig saamgestel is,” lui die verklaring.

Min name was in die 90’s só sinoniem met onpretensieuse saamsing-kuiermusiek soos dié van Worsie Visser – die sanger wat in 1998 oorlede is.

Ricus Nel bring hulde aan Worsie Visser bestaan uit 12 snitte, “getrou aan dit wat Visser se musiek uiters gewild gemaak het: aansteeklike saamsing-lirieke en -wysies”.

Aanhangers kan onder meer uitsien na liedjies soos “Boesmanland”, “Gee die hond wind”, “Lekker ou Jan”, “Strandfontein”, “Gansbaai” en “Brannewyn laat my staan”.

Nel se jongste album is nou landwyd beskikbaar en op iTunes te koop. Vir meer inligting, besoek sy amptelike Facebook-blad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet J ·

Ricus , jy is ‘n uistaande musikant fantastiese ghitaarspeler ens. maar die woorde hoe jy Rebecca beskryf pas geheel en al nie by jou musiekliriek nie .

Aitog ·

Peet en Nardus: Begripslees kêrels. Die berig gaan dan juis daaroor dat Rikus ñ cd gemaak het met Worsie Visser se liedjies….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.