Eerste liefde- Piet Smit

Piet Smit - Eerste LiefdeDis moeilik om te glo dat Piet Smit nou al meer as twintig jaar lank een van ons land se voorste sangers op die Christelike musiektoneel is.

Nadat hy lank stil was, het hy eindelik sy jongste album, Eerste liefde, pas vrygestel. Piet het sy laaste album saam met die Country Trail Band van Nederland opgeneem, en op hierdie album werk hy weer saam met hulle. Die verskil is egter dat die hele album uit sy eie komposisies bestaan, en dat hulle net die orkes op die album is eerder as mede-hoofkunstenaars. Met die eerste snit, Ek is altyd hier by jou, is God self aan die woord, en Hy praat met enigiemand wat twyfel of hy of sy goed genoeg is.  My eerste liefde het gelukkig hoegenaamd niks met romanse te doen nie, maar dit gaan eerder oor God wat sy kind se eerste liefde behoort te wees, en die verhouding wat ‘n mens met Hom behoort te hê. Volgens Piet is die gedagte van hierdie album dat die luisteraar moet terugkom by sy of haar eerste liefde, naamlik Jesus. Woorde is ‘n lekker snit, maar die lirieke laat jou dink oor wat jy sê, en of dit opbouend is of nie.  Piet het Stofpad langs al voorheen opgeneem, maar dis goed dat hy dit weer gedoen het. Die Country trail Band maak ‘n groot verskil, veral Noodje van Middelkoop se panfluitspel.  As die God van Josafat jou vat is ‘n lekker saamsingliedjie, maar dit sal natuurlik help as jy die lae note kan bykom.  Die inspirasie van hierdie snit was 2 Kronieke 20, waarin Josafat die oorwinning oor die Edomiete met behulp van musiek behaal het. Op Hou vas aan jou droom motiveer hy ‘n mens om met God se hulp en lieding jou lewensideaal te verwesenlik.  Die pedaal-staalkitaar op Jesus se mense klink baie goed, maar die boodskap is net so belangrik. Piet sê dat ‘n mens moet strewe om soos Jesus te wees en alles te doen wat Hy sou doen.

In Heelword in my lof sê Piet dat ‘n mens te midde van slegte omstandighede heel kan word as jy net die Here loof; dit beteken egter nie dat dit ‘n vrolike snit is nie. Piet sing egter nie net Afrikaans op dié album nie; You are not alone is die eerste Engelse snit, en weer eens het hy dit self geskryf. In Rietkind vertel Piet die verhaal van Moses, maar hy sê ook dat Jesus natuurlik groter as Moses was.  Piet is nie bang om sosiale kommentaar te lewer nie, en op Aan die ander kant praat hy reguit oor die uiterstes van rykdom en armoede wat daar in die samelewing voorkom. Enigiemand wat aanstoot neem, moet maar na sy of haar verhouding met die Here kyk. Piet se seun Leon het ‘n nuwe beryming van Psalm 28 gedoen, en Piet het dit gekomponeer. Nog ‘n verhaal uit die Ou Testament is volgende; Man van Ur vertel die verhaal van Abraham.  In waarheid en in gees is ‘n pragtige aanbiddingsnit; die wysie herinner baie aan die bekende liedjie Greensleeves.  Die laaste snit is Walking in faith, waarop Malemodi Philharmonic Chorus saamsing.  Dit is ‘n besondere snit wat eintlik verdien om so wyd as moontlik gespeel te word.

Piet se aanhangers moes ‘n bietjie wag vir hierdie album, maar dit was die moeite werd.  Hy is ‘n uiters begaafde sanger en liedjieskrywer, en bewys dat musikale uitnemendheid nie onderhandelbaar behoort te wees as jy tot eer van die Here sing nie.  Daarom sal dit by enige Christen-musiekliefhebber byval vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.