Eerste op Maroela: Dewald se nuwe musiekvideo

Dewald Wasserfall was die afgelope drie jaar só besig met verskeie projekte, onder meer waar hy as beoordelaar opgetree het vir die VIA-realiteitsprogram Die Kontrak, dat hy die skryf van sy splinternuwe album, Elektrisiteit, vir eers opsy moes skuif.

Dié lankverwagte album is egter nou uiteindelik op die rakke en Wasserfall vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media hy moes die album oorskryf nadat die aanvanklike terugvoer nie goed gelyk het nie.

Hieroor lag hy. “Ek het die album klaar geskryf in Augustus verlede jaar en toe speel ek dit vir ʼn paar mense en die algemene idee was dat dit nie goed genoeg was nie. Ek het alles uitmekaar gehaal en al die beste stukke van die snitte gevat en die album basies oorgeskryf en in Februarie vanjaar begin oor opneem en toe het hy uitgekom soos hy vandag is en waarop ek baie trots is,” verduidelik hy oor die skryfproses.

“Ek is nou tevrede. Ek dink nie ek sou meer kon doen nie.” Hy vertel hy het aan die album geskryf toe daar beurtkrag was en het een dag ʼn halwe dag se werk verloor toe hy nie die stoor-knoppie gedruk het nie. Die inspirasie vir die titelsnit, “Elektrisiteit”, is hieruit gebore.

“Ek het besef hoe afhanklik ons geraak het van elektrisiteit. Die liedjie is toe gebore uit die idee dat ons net weer bietjie ons selfone en televisies moet afskakel en bymekaar moet uitkom,” vertel hy.

Dewald kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Dewald kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die musiekvideo vir “Elektrisiteit” is deur Christian Wolf in ʼn ateljee en in die parkeerterrein van die Atterbury Value Mart in Menlyn, Pretoria, en op Kerkplein geskiet. “Daar is drie karakters in die video. Die een is ek en die ander twee is ʼn getroude paartjie wat mekaar soen. Dit is nogal sensueel, as jy dit so kan stel, en dit was ʼn ongelooflike ervaring.”

Wasserfall sê die liedjie op die album waarmee hy die sterkste emosionele verbintenis het, is die snit “So sterk soos ʼn vrou”. “Ek het omtrent 25 liedjies vir die album geskryf waarvan ek omtrent 20 opgeneem het. Deur daardie keuringsproses en nadat die liedjies oorgeskryf is en ons die beste van alles gekry het, het ons besluit wat die beste gaan pas op die album en wat ons nodig het.”

Die temalied vir Die Kontrak, uit Wasserfall se pen, is ook op die album ingesluit. Hoewel die opname van dié program hom baie besiger gehou het as wat hy aanvanklik verwag het, meen hy dit was een van die ongelooflikste ervarings van sy lewe om deel te kon wees van dié sangkompetisie-program.

“Ek is gewoond daaraan om gou ʼn onderhoud op televisie te doen, maar ek was nog nooit deel van ʼn reeks en soveel so dat ʼn mens emosioneel betrokke raak by die span agter die skerms nie. Jy begin soveel respek kry vir hoe hard hulle werk en hoeveel werk daar in so ʼn reeks gaan. Die tegniese aspekte van die program was vir my ʼn groot leerskool en was vir my baie interessant.”

Dewald saam met Deidré Barnard van ‘Die Kontrak’.

Hy voeg by dat hy nie gedink het hy gaan só emosioneel betrokke raak by die deelnemers nie. Ivan Roux van Pretoria en Deidré Barnard van Strand was uiteindelik sy top-2-deelnemers, waarna Roux saam met die wenner, Demi Lee Moore, na die eindronde deurgedring het.

“Dit was in die eerste plek vir my só moeilik om ʼn top-2 te kies uit die ses deelnemers wat daar was, want ek is ʼn emosionele mens maar ek het vir myself gesê ek gaan nie toelaat dat dit ʼn rol speel nie. Ek het so geheg geraak aan Ivan en Deidré en dit was so lekker om saam met hulle te werk en hulle die pad te sien stap as kunstenaars. Dit was ʼn baie positiewe ervaring en ek hoop regtig ek kry weer so ʼn geleentheid,” sê hy.

Elektrisiteit is beskikbaar by groot musiekhandelaars landswyd en is ook digitaal beskikbaar op iTunes, Google Play en Joox.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.