Egmond is ’n musiekster om dop te hou

Egmond. (Foto: verskaf)

Tydens sy skooljare in Bela-Bela het die sanger Egmond reeds geweet dat die kunste vir hom beskore is. Toe die laerskool waarin hy was, besluit het om ’n musiekblyspel met slegs meisies op die verhoog te sit, het sy beswaar daarteen vlak gelê.

Egmond se liefde vir die vermaakbedryf het deur die jare gegroei en ’n snoesige tuiste in sy hart gemaak. Vandag, op 42, is hy steeds op sy gemak op die verhoog en agter ’n mikrofoon.

Die afgelope 19 jaar was propvol heerlike musiek vir dié koeksuster-rocker, soos hy na homself verwys. Sy splinternuwe album, Sirkus Applous Encore, het reeds in Junie vanjaar die luggolwe getref en sal die litte behoorlik aan’t bons sit.

Alhoewel hy met Afrikaanse musiek grootgeword het, erken hy dat dit Engelse musiek is wat aanvanklik met aanloklikheid vir hom gewink het.

“Ek was maar ’n tiener wat na Engelse musiek geluister het. En so het ek begin om Engelse musiek te skryf.”

Hy vertel egter dat daardie treintjie ’n vinnige ommeswaai gemaak het toe hy besef dat mens min dinge so lekker sê soos wat jy dit in Afrikaans sê.

Lianie May en Jay du Plessis is Afrikaanse kunstenaars wat Egmond geïnspireer het om dieper in sy eie musikale talente te delf.

Hy het al tydens sy skooljare musiek begin skryf, hoewel hy eers jare later, in 2003, sy musiekloopbaan afgeskop het deur van sy snitte in die ateljee op te neem. Hy het ook ’n paar draaie in die buiteland gaan maak, waartydens hy bloot aangehou skryf het.

“Ek weet nie waar dit vandaan gekom het nie, maar die liedjies het by my uitgevloei.”

Dié liefde vir musiek en die skryf daarvan het gelei tot ’n string polsende albums en enkelsnitte.

Hy gesels passievol oor die impak wat musiek op sy lewe gehad het en hoe dit deur mense se lewens wêreldwyd vloei.

“Mense koppel kosbare herinneringe dikwels aan die musiek wat in daardie stadium in die agtergrond gespeel het. Ek sal graag wil hê dat mense na hul herinneringe moet terugverwys met die wete dat dit een van my liedjies was wat daardie mooi oomblikke vergesel het.”

Die mooiheid wat dikwels saam met menswees gepaard gaan, is iets wat hy koester.

“Onbaatsugtige dade is iets wat my inspireer. Wanneer mense hulself diensbaar vir ander maak sonder om enige iets terug te verwag. Om ’n koeldrank vir iemand te koop kan maklik daardie persoon se hele dag opkikker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.