Eie tradisie, klankkleur en emosie in Coenie de Villiers se nuutste album

coenie-de-villiers-emojiAs jy in die bestek van 14 snitte in een album instrumente teëkom soos ʼn duduk, oftewel ʼn Armeense dubbelrietfluit, ʼn saxofoon, ʼn fluit, ʼn akoestiese kitaar, ʼn kora en kalimba, ʼn mondboog asook ʼn stewige span strykers, is daar kwalik twyfel dat jy jou bevind in die omgewing van wêreldmusiek.

Dit is juis dié wêreld waarin uiteenlopende instrumente elkeen ʼn eie tradisie, klankkleur en emosie oprakel, wat Coenie de Villiers met oorgawe ontgin in sy jongste album Emoji, ʼn album wat sprekend is van ʼn kunstenaar wat niks het om te bewys nie. Soos De Villiers in ʼn onderhoud met Maroela Media opgemerk het: “Ek het met dié album alles gedoen wat ek regtig graag wou doen.”

Met dié doel voor oë het hy musikante “vir wie hy lief is en vir wie hy respek het” gekry om saam met hom op te tree – Gürkan Çakmak (dudukspeler), Elvis Blue (sanger), Dave Koz (saxofoonspeler), Wouter Kellerman (fluitspeler), Leon Gropp (akoestiese kitaarspeler en sanger), No Limits (koor), Pops Mohamed (kora- en kalimbaspeler) !Gubi Tietie en Anna Tietie (mondboogspeler en sangers), Hemelbesem (kletsrymer) en Karen Zoid (sanger).

Saam met dié rits gaskunstenaars verken De Villiers inderdaad nuwe klankwêrelde en die resultaat is ʼn deurgekomponeerde album wat gemaklik volg in die spoor van Hart van glas, die album waarmee hy so vyf jaar gelede wyd die aandag op hom gevestig het.

Met Emoji as titel, ʼn term wat verwys na draers van emosie in elektroniese kommunikasie, dek dié album ʼn wye spektrum van intieme emosies – onder meer van heimwee in die eerste snit, “Notting Hill”, tot ootmoed in die “Seëngebed”, tot wrang protes in “Desert Conversation” en ʼn herbesoek, jare later, aan “Karoonag” as laaste snit.

“Karoonag”, ʼn liedjie wat De Villiers as tiener geskryf het, was sy eerste kommersiële treffer en boonop ʼn (klassieke) voorbeeld van die poëtiese kwaliteit wat Afrikaanse lirieke al gehad het en kan hê. Dit is juis die helder en vars beelding wat ná al die jare uitstaan in dié liedjie en wat in ʼn rock-gedaante saam met Karen Zoid niks inboet aan trefkrag nie – maar desnoods nóg ʼn betekenislaag bykry.

Herbesoek is een van die goue drade wat Emoji bind: Of dit nou die ongelooflik sensitiewe vertaling deur Linette Retief van Michel Legrand se treffer as “Windmeul van jou hart” is, of Hans du Plessis se vertaling van “Nkosi sikelele” (as “Seëngebed”), of die sleurende melodielyn in Gabriel Fauré se “Pavane” met woorde deur De Villiers in “Miskien”. Dit is in dié snit waar Çakmak se hunkerende duduk-klanke (soos in dié van Hans Zimmer se temamusiek uit die fliek Gladiator) die perfekte voertuig word vir “ʼn vers wat in die donker blink”.

In “Forbidden Love”, ʼn snit met ʼn saxofoon-solo deur Dave Koz, besoek De Villiers vormende invloede van die 70’s en 80’s: Daar is eggo’s van Francis Lai se tema uit Love Story, ʼn vlietende verwysing na David Bowie se “Ground Control to Major Tom” en lirieke wat kers vashou by die beste ballades van weleer. De Villiers se teks is sober, evokatief en met die verrassings wat net poësie kan versin.

En as ʼn mens sou dink dat die protes teen die sinloosheid van oorlog ná Viëtnam en ons eie Grensoorlog afdoende verwoord is, herinner De Villiers ons aan die voortgaande vergissing van leiers wat oorlog nodig het om te kan bewys waarvoor hulle staan. “Desert Conversation”, met CH2 se Leon Gropp se kitaar- en stembydrae, word ʼn sein teen die vergrype van oorlog: Van die biep-biep waarmee dié snit begin (Morse kode vir “WAR”) tot die tromgeroffel en die onreëlmatige ritme (tussen marsmusiek en Morse kode) kom ʼn onstabiliteit tot stand wat die woorde perfek eggo: “…I can’t remember why / I’ve been sent into the dessert / and rubber-stamped to die”.

Die eenvoud waarmee De Villiers jare gelede beïndruk het, leef voort in ʼn liedjie soos “By jou”, ʼn liefdeslied met klavierbegeleiding wat uitswel tot dié deur 25 strykers en nogtans niks aan intimiteit inboet nie.

“Emoji” is die eerste van die instrumentale nommers in dié album, ʼn huldeblyk aan Christa Steyn, met knap balans tussen klavier en perkussie; gevolg deur “Shesha”, ʼn nommer geskryf met die medewerking van musiekregisseur Jaconell Mouton en met die solobydrae van fluitspeler Wouter Kellerman; en die laaste een “Naledi”, met die kora- en kalimbaklanke voortgedring deur Pops Mohamed. Sonder ʼn sweem somberheid kom die introspektiewe aard van die album juis in dié drie snitte so heerlik na vore.

Benewens die treffende “Seëngebed” met Elvis Blue, is Curtis Mayfield se 1965-gospeltreffer “People Get Ready” saam met No Limits ook ingesluit – albei godsdienstige liedere waarin ʼn sosiale en politieke bewussyn verenig word. Daarby was De Villiers nog nooit sku om die metafisiese in alledaagse gegewe te ontgin nie – soos tevore in “Lied van hout” (in Hart van glas) en nou weer in “Die Visser”.

Maar die laaste opmerking behoort aan De Villiers en Hemelbesem, in “Luister” met die duidelike aanmaning “niemand luister meer nie” en die oproep: “Luister!”. Emoji is ʼn album wat luister en herluister verdien. Dit is ʼn album wat met elke nuwe luister ʼn nuwe ervaring bied. Dis ʼn album wat niks wil bewys nie, maar eerder die verskeidenheid van emosies wil registreer. En daarvoor moet ʼn mens luister.

En as De Villiers met dié album alles gedoen het wat hy regtig graag wou doen, is die vreugde daarvan so duidelik hoorbaar.

Koop Emoji nou in Maroela Media se Koöperasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karin ·

Ek het oneindig respek vir Coenie de Villiers as kunstenaar en is ‘n groot aanhanger van sy werk. Ek gaan beslis hierdie cd ook koop. Ek is seker ‘n mens sal dit by Musica-musiekwinkels kan koop, of gaan soek aanlyn daarvoor, bv takealot.com.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê JC en MaraisS

Coenie de Villiers se jongste album is beskikbaar by Maroela Media se Koöperasie. Klik hier om dit te koop.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.