“Ek sal nie bang wees nie” bereik goue status

Joe Niemand

Joe Niemand se eerste Afrikaanse gospel album, Ek sal nie bang wees nie, het binne drie maande goue status bereik. Die album draai nou al weke lank op CUM en Gospel Direct se trefferlyste en was Select Music Distribution se topverkoper vir ses weke. “Dit was hoogtyd vir ‘n Afrikaanse album. Ek wou al lankal in Afrikaans skryf en toe ek nou eindelik begin, het die woorde sommer net gevloei,” sê Joe. Joe het verskeie stukke uit die Bybel se Psalms verwerk en dit ‘n moderne aanslag gegee soos net hy kan. “Ek dink mense is verras met die klank. My vorige albums het ‘n kenmerkende gewyde klank gehad, maar op dié een borrel die dankbaarheid en vreugde oor in iets waaarop ‘n mens kan dans!” sê hy.

Die inspirasie het Joe eintlik so gepak dat hy terselfdetyd ‘n tweede album, in Engels, uitgereik het. Hy het beide binne twee maande opgeneem! Die inspirasie het eintlik so deur my gevloei dat ek nie eens deurnag gewerk het nie, al het ek as in ‘n baie kort tyd gedoen. Dit het net vanself gekom,” sê hy. Maar dis nie ‘n vreemde ding dat Joe manies te werk gaan wanneer die geesdrif hom pak nie. Hy het só in 2010 op eie stoom Israel toe gereis om sy album Love te skryf, wat oor die Bybelse boek Hooglied gaan. Sy vierde album, Glory to the King, het hy verniet weggegee by die Mighty Men-optrek in 2009. Nagenoeg 340 000 eksemplare en 200 000 aflaaie uit 98 lande later, was sy naam stewig onder aanhangers gevestig – en dít net omdat hy Die Woord wou versprei! Joe het ook naam gemaak as skrywer van die liedjie A New Day vir die fliek Faith Like Potatoes en toer deesdae die wêreld plat saam met Angus Buchan, stigter van Mighty Men.

Joe Niemand as Koning Xerses in die musiekblyspel Ester.

Jy sal nie glo dié oud-musiekstudent van Pretoria Technikon het ‘n donker pad met drank en dwelms gestap voor hy die Here een aand op Seinheuwel in die Kaap gevind het nie. Vandag het hy reeds sewe albums op die rakke en ‘n rits toekennings agter sy naam – ook as deel van die rock groep Niemand. En dis nog ten einde niet. Hy’s tans besig om die musiek vir die blyspel “Ester”te skryf wat in September by die Staatsteater op die planke is en speel ook die rol van koning Xerses.

Speellys

  1. By die here
  2. Ek wil huistoe gaan
  3. Ek sal nie bang wees nie
  4. Ek wil lewe
  5. Hoër as die hemele
  6. Wat is n mens
  7. Here hoe lank
  8. Dreigemente
  9. My hart kniel
  10. Hallelujah
  11. Jou hulp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anell de Beer ·

Ek was by die opname van “Ek sal nie bang wees nie” by Fort Klapperkop, dit was ‘n belewenis, elke keer as ek die liedjie op die radio hoor, dink ek aan daardie geleentheid. Was lekker om deel te wees van ‘n klomp afrikaner christene. 

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.