‘Ek wil eintlik net musiek maak’

Zaan Sonnekus (Foto: Vonk Musiek)

Vir die 23-jarige Pretorianer met die indrukwekkende kapsel kom musiek natuurlik, dit laat hom soms rou en dien as ’n onvervangbare uitlaatklep vir sy emosies.

Zaan Sonnekus het in die Afrikaanse musiekbedryf losgebars en spog reeds met talle treffers en tranetrekkers op sy kerfstok.

Oor musiek

“Vandat ek ’n jong seuntjie was, het ek deur die huis gehardloop en verkondig dat ek eendag ’n sanger gaan wees.” Later in sy lewe het droom egter vervaag. “Ek het in ’n stadium nie gedink dat ek in die musiekbedryf sou eindig nie,” het Sonnekus aan Maroela Media vertel.

Musiek het egter deur die krake gekruip en Sonnekus in verwondering gelaat. Die pad vorentoe was vir hom kristalhelder nadat sy pa hom ontmoedig het om enige iets anders as musiek te gaan studeer.

“Ek het toelating daarvoor gekry, maar my pa het geweet dat indien ek daardie rigting sou volg, ek nie gelukkig sou wees nie. Ek weet ook nou dat ek waarskynlik nie eers die graad sou voltooi het nie.”

Musiek vorm ongetwyfeld deel van Sonnekus se verwysingsraamwerk en grondslag.

“My ma was ’n kunstenaar, die huis was altyd vol gedigte wat sy loop en skryf het. Sy het my geleer hoe ritme en rym werk. Sy het ook vir my gewys hoe jy jou emosies op papier kan neerpen, en dis eintlik baie terapeuties.”

Die proses waardeur Sonnekus gaan om musiek op die blad en op die klankgolwe te kry, is dikwels een wat hom rou en seer laat.

“Nadat ek sommige liedjies klaar geskryf het, sit en daarna luister besef ek dat ek myself eintlik kaal uittrek wanneer ek skryf.”

Sonnekus vertel dat hy reeds genoeg liedjies geskryf het om twee volledige albums op die rakke te sit.

“Dis soos ʼn taal wat ʼn mens leer praat. Dis hoe ek my emosies verwerk.”

Hy hou egter die liedjies in die argief totdat hy gereed is om dit op te neem.

(Foto: Vonk Musiek)

Die man met die lang hare

Sonnekus is gebore en getoë in Bloemfontein in die Vrystaat. As jong seun het hy en sy gesin na die Jakarandastad verhuis, waar hy in Hoër Afrikaanse Seunskool was.

“Ek was tot in die koor, maar dalk net vir die toere,” het hy geskerts.

Die herinneringe wat hy tydens sy skooljare geskep het, is vir hom besonder kosbaar.

“Ek dink nie ek sou die mens wees wie ek vandag is as ek nie in daardie skool was nie.”

Sonnekus is ʼn haan wat al te fraai vir die henne lyk. Hy het met blosende bakkies erken dat meisies gereeld hul selfoonnommers met lipstiffie op sy motor skryf.

“Die aandag is meer as wat ek verwag het, ek kan net dink wat die groter name, ouens soos Francois van Coke beleef.”

Hy het ook gesê dat hoewel hy trots op die lokke van hom is, dat hy nie wil hê dit moet sy hele identiteit as kunstenaar kaap nie.

“Wanneer ek my hare vasmaak en ʼn hoed opsit herken mense my eintlik glad nie.”

Hy erken egter dat die versorging van lang rocker-hare uitdagend is.

“Ek groei al vir vyf jaar aan my hare. Niemand het vir my verduidelik hoe ek dit eintlik moet was en versorg nie – ek het darem intussen ʼn draai in ʼn salon gaan maak en hulle het my bietjie touwys gemaak.”

(Foto: Vonk Musiek)

Wat vir Sonnekus voorlê

Daar word tans voortdurend gebou en gebreek by Sonnekus se huis, aangesien hy besig is om sy eie ateljee tuis aan te bou.

“Ek het ʼn klein ateljee waar ek liedjies kan opneem by die huis, maar die idee is dat ander mense ook hul musiek uiteindelik by ons kan kom opneem.”

Son Studios is aan’t ontwikkel en hy beoog om groot hoogtes daarmee te bereik.

Die langhaar-musikant droom egter daarvan om sy hele bestaan uit musiek te kerf.

Sy droom is dat dié sakeonderneming wat hy tans op die been probeer bring, sal loop sonder dat hy te veel daaroor hoef te bekommer.

“Ek wil eintlik net musiek maak. Ek wil in die oggende opstaan, begin speel en nie weer ophou tot die dag verby is nie.”

Hy beoog om ook binnekort nog ʼn paar albums op sy kerfstok te voeg.

  • Sonnekus se album, Zonneblom, is op alle musiekstroomplatforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.