Eksklusiewe Demi Lee Moore-konsert in Amsterdam

Demi Lee Moore (Foto: Demi Lee Moore/Facebook)

Kaartjies vir die Suid-Afrika se eie popster, Demi Lee Moore, se eksklusiewe konsert in Amsterdam verkoop soos soetkoek en aanhangers van die geliefde blondekop-sangeres sal moet wikkel om te verseker dat hulle nie dié opwindende geleentheid misloop nie.

Die blondekop sangsensasie, wat in 2018 as die wenner van VIA-TV se sangkompetisie Die Kontrak aangewys is, se goue stem weerklink op 2 September 2022 in die Theater Amsterdam.

Demi Lee het diep in Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers se harte gekruip met treffers soos “Mis, eet, slaap, herhaal”, “Wie se hart breek jy vanaand?”, “Maak my jou tequila” en kragtige weergawes van internasionale treffers soos “It’s all coming back to me now”, “Amanda”, “Coat of many colours” and “I will always love you”.

Nou is die Kaapse musikant en liedjieskrywer, wat spog met miljoene trefslae op YouTube en drie vollengte ateljeealbums, slaggereed om Nederlandse harte ook te verower met ʼn vertoning in een van Amsterdam se mees gesogte konsertgeboue.

Te wyte aan die groot interaksie wat Demi Lee van aanhangers op sosiale media ontvang, is daar duidelik ʼn opgewondenheid wat heers oor die geliefde sangeres se besoek aan Amsterdam.

Selfs Suid-Afrikaners wat self ook net besoek aan dié wêreldbekende hoofstad aflê gaan ‘n draai by Demi Lee se konsert maak.

“Ons is daar! Kaartjies bespreek! Sal met vakansie wees by ons dogter en skoonseun wat in Haarlem bly,” skryf een Facebook-gebruiker.

“Amsterdam gaan nie weet wat hulle tref nie… ‘n Engelstem!” skryf nog ʼn aanhanger op Demi Lee se Facebook-blad.

Demi Lee, wat vanjaar ook as aanbieder optree tydens die nuwe seisoen van Die Kontrak 2, is ewe opgewonde oor haar eksklusiewe vertoning in die Theater Amsterdam.

“Ek is nou al so opgewonde en kan nie wag om volgende week in Amsterdam te sing nie. Dit is ʼn ongelooflike geleentheid om steeds in die buiteland – in Afrikaans – te kan kuier,” sê sy.

“Daar is nog ‘n beperkte hoeveelheid kaartjies beskikbaar by eventbrite en nooi ons almal uit om saam te kom kuier en sokkie. Hierdie is die begin van meer top gehalte konserte hier, want nie net is daar sterk ooreenkomste tussen Afrikaans en Nederlands as tale nie, maar is daar ook toenemende getalle Suid-Afrikaners wat in Nederland nesskop,” sê Wian Smith-Venter, uitvoerende hoof van The Marketing Zoo en organiseerder van die vertoning.

“Ons woon elke moontlike sokkie hier in Nederland by en ondersteun graag ook ander Afrikaanse byeenkomste, hierdie keer is dit ons beurt om almal bymekaar te kry en lekker saam te kuier.”

In egte Suid-Afrikaanse styl sal daar na afloop van die konsert ook ʼn “Afterparty-sokkie” aangebied word vir BBP-kaartjiehouers. BBP-kaartjies sluit spesiale ingang, sitplekke in die voorste gedeelte van die teater, ʼn ontmoeting met Demi Lee asook ʼn verwelkomingsdrankie deur Six Dogs Gin in. “Daar is minder as 50 BBP-kaartjies oor,” het Demi Lee onlangs op sosiale media genoem.

ʼn Vertoning deur een van Suid-Afrika se warmste stemme is die perfekte manier om die Europese herfs te begroet. Kinders is welkom by die geleentheid en die konsert sal 70 tot 90 minute aaneen duur. ʼn Kontantkroeg, asook lekker Suid-Afrikaanse peuselhappies sal beskikbaar wees by die teater.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.