Elandré bly tops en Bernice West klim op Top-20

Elandré se “Hand aan hand” is steeds tops. (Foto: Verskaf)

Elandré se trefferlied “Hand aan hand” kraai dalk nie meer vir lank koning op Maroela Media se Afrikaanse Top-20 nie.

Vandeesweek is daar 5 snitte wat styg, 12 wat daal en 3 liedjies wat onveranderd op dié trefferlys bly.

Bernice West se nuutste enkelsnit, “Jona”, het verlede week die Top-20 op nommer 7 betree en reeds met vyf plekke gespring om vandeesweek die tweede plek in te neem.

West het dié lied self neergepen en is deur die Bybelse verhaal van Jona geïnspireer. “Dit gebeur dikwels dat jy ʼn roeping of ’n daad het wat op jou hart druk, maar wat jy te bang is om uit te voer. Soms kies jy dan jou eie paadjie, ondanks dít waarvoor God jou geroep het, en dan sluk die ‘walvis van die lewe’ jou in. Die dag wat jy egter vrede maak met jou roeping, kry jy ook vrede in jou hart,” verduidelik sy.

Die musiekvideo van dié lied is in Magoebaskloof verfilm en reeds meer as 68 000 keer op YouTube gekyk.

Franja du Plessis se “My lief” en Appel se “Dina” het óók vandeesweek onderskeidelik na die 8ste en 9de plek op die Top-20 geklim, terwyl Rooksein se “Genade nader” op nommer 6 en Riaan Benadé se “Spontaan” stewig op nommer 13 bly staan het.

  1. Elandré – “Hand aan hand”
  2. Bernice West  – “Jona”
  3. Riaan Benadé & Jay – “Rowwe bliksem”
  4. Eloff – “Johnnie blou”
  5. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  6. Rooksein – “Genade nader”
  7. Spoegwolf – “Bring my geweer”
  8. Franja du Plessis – “My lief”
  9. Appel – “Dina”
  10. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”
  11. Dewald Wasserfall – “Bedoel”
  12. Eloff – “Geheueverlies”
  13. Riaan Benadé – “Spontaan”
  14. Christia Visser – “Handgranaat”
  15. Ruhan du Toit – “Ter wille van ons kinders”
  16. Ivan Roux – “Opsoek na liefde”
  17. Brendan Peyper – “Stop die wêreld ek wil afklim”
  18. Bernice West – “Dink aan jou”
  19. Demi Lee Moore – Kan jou nie my maak liefhê”
  20. Kurt Darren – “Meisiesfontein”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings: Lucas Maree se musiek leef digitaal voort

Die sanger, skrywer, digter, troebadoer en ikoon Lucas Maree se katalogus van treffers is nou vir die eerste keer digitaal op musiekstromingsdienste beskikbaar.

Maree het vir die grootste gedeelte van sy loopbaan Engelse musiek gespeel, maar skryf in 1982 sy eerste Afrikaanse lied en stel twee jaar later sy eerste langspeelplaat, Kiekies, bekend. Die legendariese “Victoriabaai”-sanger was ook een van die min Afrikaanse sangers wat die geleentheid gehad het om op die Royal Albert-saal se verhoog in Londen op te tree.

Dié groot gees het ongelukkig sy stryd teen prostaatkanker op 18 Februarie 2011 verloor, maar sy musiek en nalatenskap leef nou digitaal voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.