Elandré maak hart oop oor vriende se dood

elandre-schwartz

Elandré op die verhoog. (Foto: Facebook via @elandreofficial)

Elandré (24), die geliefde Afrikaanse sanger met die kenmerkende diep stem, het einde verlede jaar deur diep waters gegaan toe twee van sy vriende slegs ʼn paar weke uit mekaar in motorongelukke dood is.

Die sanger het sy hart teenoor Maroela Media oopgemaak oor dié vriende wat hy aan die dood moes afstaan voordat hy ook ʼn liedjie aan hulle opgedra het. Die musiekvideo vir dié liedjie, genaamd “Tussen die lakens”, word vandag vrygestel.

Elandré vertel dat hy op die ouderdom van 19 alleen Kaapstad toe getrek het van Despatch in die Oos-Kaap af om musiekteater aan die Waterfront Teaterskool te studeer. Hy het daar mense teëgekom met wie hy nooit vantevore vriende mee sou wees nie.

Twee van dié mense was Percy en Sihle, wat sy beste vriende geraak het.

“Ek onthou toe ek my platekontrak gekry het, het ek die middag by die huis gekom en Percy het ʼn partytjie vir my gereël. My hele bed was vol ballonne en daar was sjampanje om te drink. Al my pelle was daar en ons het dit almal saam gevier,” sê hy.

“Maar toe ek my album gemaak het en voltyds as ʼn musikant begin werk het, het ek hulle baie minder gesien. Ook omdat ek nie meer in Kaapstad gebly het nie. Ons het probeer om mekaar te sien as ek in die omgewing was, maar dit was minder as gewoonlik.”

Elandré was op 24 November verlede jaar by ʼn konsert in Noordwes toe hy op sosiale media uitgevind het Percy in ʼn motorongeluk dood is. “Sy het nie eens self bestuur nie, maar sy het ons verlaat. Dit was aaklig, veral omdat ek so ver van almal af was,” sê hy.

Elandré (Foto: Facebook)

Een maand later het Elandré weer ʼn vertoning in Kaapstad gehad en bietjie met Sihle opgevang voor die tyd. Op pad terug van die vertoning af het hy ʼn boodskap van ʼn vriend af gekry dat Sihle vermis is – en later, dat sy ook in ʼn motorongeluk dood is.

“Dit was absoluut rof. Ek onthou hoe ek nog gelag het in die kar van die vertoning af, my vriendin het bestuur. Maar toe ek die boodskap kry, het ek net daar in die passasiersitplek begin huil. Toe ons by my vriendin se woonstel kom, het ek teen die muur gaan sit en nog gehuil. Ek het net gedink: ‘Hoeveel van ons gaan daar nog oor wees?’”

Dit het Elandré herinner aan sy nefie, Nicolai, wat ook op presies dieselfde manier dood is op sy 18de verjaarsdag toe Elandré 15 jaar oud was. Al drie dié mense is op slag in ʼn motorongeluk dood en nie een van hulle het self die motor bestuur nie.

“Ek kon nie verstaan hoekom al hierdie onnodige goed met sulke jong mense gebeur nie. Na Sihle en Percy se afsterwe in November verlede jaar het ek Desember tyd gevat en stil geword. Ek het vrede gemaak met wat gebeur het en besluit om eerder hul invloed en tyd in my lewe te vier.”

Elandré het toe die liedjie “Tussen die lakens” geskryf.

“‘Tussen die lakens’ gaan absoluut nie daaroor om fisiek ’n bed met iemand te deel nie. Dit gaan oor enige verhouding en enige verlies. Tussen die lakens is ʼn baie intieme plek, dit is jou binnekamer, en dit is waar dié mense vir my was,” verduidelik hy.

Percy (Foto: Verskaf)

“Dit maak nie saak in watter hotelbed ek lê of tussen watter lakens ek lê nie, dáár moet ek vrede vind binne myself. Dáár onthou ek die herinneringe wat daardie mense vir my van hulle agtergelaat het.”

Elandré verduidelik dat “Tussen die lakens” gaan oor drie mense en ʼn paar gebeure in sy lewe, en ook oor om mense agter te laat. Hy sê hy was baie gefokus op wat hy alles wou bereik, dat hy nie so baie aandag aan dié mense gegee het soos voorheen nie.

“Almal beweeg nie op dieselfde pad nie en ook nie teen dieselfde pas nie. Paaie loop uitmekaar uit, maar ek dra hulle steeds saam met my op mý pad.”

In die musiekvideo vir “Tussen die lakens” gaan Elandré deur ʼn klomp deure, wat hy verduidelik as al die deure wat vir hom oopgegaan het in sy beroep. Maar in die middel van die liedjie is daar ʼn peinsende oomblik wanneer hy sing “kyk op na die maan”, voordat hy terug deur al die deure begin hardloop.

Elandré Schwartz ( Foto: Facebook)

“Desember was ʼn droë en dor plek. Ek wou teruggaan na al die herinneringe, dit is wat ek in die musiekvideo wou uitbeeld – dat mens partykeer wil teruggaan. Maar daardie herinneringe lyk en voel nie meer dieselfde nie. Mens kan nie altyd teruggaan nie, so ons moet geniet wat ons nou het en die herinneringe waardeer.”

Elandré wil ook jongmense aanmoedig om aanwesig te wees en te waardeer wat hulle het. “Ek wil hê mense moet dankbaar wees vir wat hulle het en die oomblikke wat hulle het. Ek wil hê dit [die liedjie] moet mense help om die geskenke wat die huidige is te waardeer,” sê hy.

Hy kyk met verlange, maar met waardering terug na dié vriende wat hy gehad het, en hoop dat mense ook sien dat die liedjie en musiekvideo se boodskap is om vorentoe te beweeg.

“Percy en Sihle het dit reggekry om altyd net hulself te wees. Hulle het nooit hulself verloor nie. Hulle was my familie en dit is lekker om ʼn liedjie te kan sing om eer te gee aan die amazing mense wat hulle was wat die pad vir my lekker en kleurvol gemaak het.”

“Tussen die lakens” is op Elandré se nuutste album Boomhuis bekikbaar. Boomhuis is beskikbaar by alle groot musiekhandelaars en op Takealot en is ook beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marietjie ·

Dol oor hom. Lekker om te weet wat is die storie agter “Tussen die Lakens”. So betekenis vol. Maar ek lief nog steeds Vuur op die Water – my gunsteling

Joey Strydom ·

Sy besonderse stem is van wêreldgehalte! Sou hom graag in ‘n duet met George Ezra, Engelse sanger, wou hoor! Sal die wêreld op sy kop draai! Hierdie stem is SPESIAAL!

Edwardine ·

Baie dankie Elandre. Percy-Leigh was my suster se dogter. Sy was en bly altyd ‘n groot deel van ons lewe. Hierdie lied beteken baie.
Bly dat sy deel was van wat die lewe vir jou mooi gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.