Elvis Blue se nuwe musiekvideo ‘iets anders’

Elvis Blue (Foto: Facebook)

Elvis Blue se jongste enkelsnit,“Werner”, van die album Die brug, het aanhangers verras met ʼn baie unieke musiekvideo, een wat Suid-Afrika nog nie vantevore teëgekom het nie.

Die brug is in April uitgereik en was reeds by drie geleenthede onder tien top-treffers, maar dit is “Werner” wat die meeste aandag trek.

Die musiekvideo is uniek omdat die akteurs in die video honde in plaas van mense is. “Ek het so ʼn jaar en ʼn half gelede ʼn video gesien waarop honde eet soos mense, en ek het gedink dit is baie snaaks. Toe probeer ek dit vir my musiekvideo,” het Elvis aan Maroela Media gesê.

“Die liedjie gaan mos eintlik oor ʼn ou wat lelik is met sy ma. Ouens wat lelik is met hulle ma’s is mos maar soos honde. Dit is soos om vir goeie honde te vertel hoe ʼn slegte hond is.”

Elvis sê die liedjie is universeel omdat daar baie sulke mans in die wêreld is. “Ons almal het mos maar sulke mal mense in ons lewens. Dit is die ou wie se ma jy geken het, omdat julle van kleins af vriende is. Ek dink almal het al so ou geken en gewonder wat het van hom geword.”

(Foto: Skermgreep uit die video)

Die opneem van ʼn musiekvideo met honde was ’n eerste vir Elvis, en dit het baie lawwe oomblikke meegebring. “Die opneem van die video was regtig baie snaaks. Agter die skerms was dit totale chaos gewees. Om eerlik te wees, is 99% van die opnames was onbruikbaar en ons kon net klein ‘snippets’ gebruik in die musiekvideo.”

Die honde wat in die musiekvideo gebruik is, kom van ʼn hondeskool in Johannesburg. “Werner was die enigste hond wat nie geskool is nie. Die honde is baie goedgeleerde honde, hulle luister baie mooi en die hondeskool het baie gehelp. Werner is die kameraman se hond. Ons wou ʼn hond kry wat bietjie snaaks lyk vir dié rol,” het Elvis gesê.

Elvis Blue is tans besig om te toer met Die brug, wat baie goeie terugvoer kry. “Ek dink altyd my albums is goed, maar ʼn mens weet nooit nie. Ek doen maar my beste en hoop mense hou daarvan. Dit is wat ek uiteindelik wil hê; dat mense my musiek luister, geniet en saamsing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Teresa ·

Dankie Elvis en (A)Maroela, my dag het nou goed begin! Skerp uitbeelding…welgedaan! : -)

Michele ·

Love Boston Terriers. Het 2 van my eie. Die video is baie goed gedoen. Dankie Elvis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.