Elvis, Drie van die bestes vier Valentynsdag met eerste Optog!-vertonings

Die musikant Elvis Blue en die gewilde groep Drie van die bestes, met Mattys Roets, Kevin Leo en Danie Niehaus, skop vanaand gelyktydig die Optog!-konsertreeks af met Valentynsdagvertonings in Durbanville en Stellenbosch in die Wes-Kaap.

Die splinternuwe Optog!-teaterinisiatief, waarvan Nataniël die beskermheer is, is die grootste enkele konserttoer deur plaaslike sangers, akteurs en musikante wat poog om op innoverende wyse weer van Suid-Afrika se gewildste musiek- en teaterproduksies planke toe te bring.

Matthys Maree, musikant en organiseerder van dié teaterinisiatief, verduidelik dat dié konsertreeks as’t ware ʼn kunstefees op wiele is. “Sowat 20 produksies is gekies om oral in Suid-Afrika en Namibië te toer op verskillende tye. Almal word dus nie saam op een plek gesien nie. Jo Black toer byvoorbeeld in Mei en Junie vir Optog! en Laurika Rauch toer ook so stuk-stuk deur die loop van die jaar.”

Hy verduidelik dit skep juis geleenthede vir musiekliefhebbers op kleiner dorpe om meer gereeld kans te kry om hul gunstelingkunstenaars op die verhoog te sien.

“Ons wil juis vir mense wat nie ver kan ry om vertonings soos ʼn Skouspel of Afrikaans is Groot by te woon nie, die geleentheid gee om reg deur die jaar meer vertonings te kan bywoon.”

Hy vertel die idee is om gebruik te maak van bestaande teaters. “ Ons wil lewe blaas in plekke wat dormant staan of min benut word en meer voete lok na vertonings op die platteland.”

Hoewel die vertonings hoofsaaklik musiekaangedrewe is, is daar ook ʼn paar teaterproduksies soos Nêrens, Noord-Kaap, Moedertaal, Karoo Suite en Drie Susters te sien.

“Dit is vir ons baie belangrik om nie ander kunstefeeste skade te berokken nie. Ons vul bloot die gate vir mense wat byvoorbeeld nie vir ʼn paar dae die Klein Karoo Nasionale Kunstefees of Aardklop kan bywoon nie. Afgetredenes kry nou meer die geleentheid om op hul tuisdorpe musiek- en teatervertonings te kan sien,” sê Maree.

Elvis Blue en die mansgroep Drie van die bestes skop die Optog!-konsertreeks af met konserte in die Wes-Kaap. Blue is te sien by Hoërskool Durbanville terwyl Drie van die bestes by die Oude Libertas-amfiteater in Stellenbosch te sien is.

“Om musiek te maak op Valentynsdag is altyd wonderlik, en wat dit meer spesiaal maak, is dat dit die Optog!-konsertreeks vir 2019 afskop,” vertel Blue.

“Ek is ook mal daaroor om enige iets in die Kaap te doen en ek kan belowe dit gaan ʼn baie spesiale aand wees,” sê hy. Blue gaan sy splinternuwe Stories-program aanbied en beplan om nog 10 vertonings eksklusief vir Optog! te doen deur die loop van die jaar.

Volgens Maree het hy die nuus ontvang dat daar beurtkrag in beide Durbanville en Stellenbosch gaan plaasvind tydens die konserte, maar dat dit hulle nie gaan stuit nie. “Die kunstenaars sal optree met die dreunsang van kragopwekkers in die agtergrond,” lag hy.

Elvis Blue se vertoning vind om 19:30 by die Hoërskool Durbanville plaas en Drie van die bestes se vertoning begin om 20:15 by die Oude Libertas-amfiteater. Kaartjies is beskikbaar by iTickets. Besoek die Optog!-webwerf vir die volledige toerprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.