Eminem oor die kole gehaal vir ‘geweerskote’ by konsert

Eminem (Foto: Facebook)

Die Amerikaanse kletsrymer en musiekvervaardiger Eminem word oor die kole gehaal nadat klankeffekte soortgelyk aan dié van geweerskote amok gesaai het tydens sy optrede by die Bonnaro-musiekfees in die deelstaat Tennessee.

Die BBC berig konsertgangers het glo “geskree en gekoes” toe dié klankeffekte tydens sy vertoning van die liedjie “Kill you” deur die gehoor weergalm het.

Talle konsertgangers het hulle ná die konsert tot sosiale media gewend en die sanger as onverantwoordelik bestempel – veral omdat verskeie Amerikaanse deelstate in die laaste jaar gebuk gaan onder tientalle skietvoorvalle.

In ʼn video wat op sosiale media die ronde doen, kan gesien word hoe ʼn konsertganger onmiddellik sy selfoon laat val toe die klankeffekte van die verhoog af kom.

Cristi Williams, een van die konsertgangers, het op Twitter geskryf: “Om by ʼn musiekfees te wees in dié tye bring nuwe bekommernisse en vrese na vore. Ek moes ʼn Eminem-konsert verlaat ná die derde geweerskoot omdat die skote paniek begin saai het in die afdeling waar ek gesit het. Dit was ongelooflik realisties en angswekkend. Dit sou gaaf wees om ʼn waarskuwing vooraf te ontvang.”

Andrea Russett, ʼn bekende op sosiale media, het gesê die “skote” het haar in trane gehad. “Om geweerskote te hoor en die hele gehoor uit instink na die grond te sien val, is nie snaaks, oulik of amusant nie. Dit is maar die hartseer werklikheid waarin ons woon. Dit is nie snaaks nie en beslis nie iets waaroor mens grappe maak nie.”

ʼn Twitter-gebruiker, net bekend as @sandwahhh, het geskryf: “Ek het ʼn lekker tyd gehad totdat hy realistiese klankeffekte van geweerskote gespeel het. Die hele skare het gekoes; ek het nog nooit meer getraumatiseerd en paniekerig gevoel nie. Heeltemal onvanpas.”

ʼn Woordvoerder vir die sanger het teruggekap en gesê die sanger het nie van geweerskoot-klankeffekte gebruik gemaak nie. Die woordvoerder het gesê die klankeffekte was dié van vuurwerke wat soos harde slae geklink het, maar dat hy nié geweerskote probeer naboots het nie.

“Eminem gebruik hierdie klankeffek – nes honderde ander kunstenaars – al vir die afgelope tien jaar in sy konserte, insluitend vorige Amerikaanse konserte in 2018 waar daar geen klagtes was nie,” lui ʼn verklaring.

Die sanger het nog nié om verskoning gevra nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sven ·

en EminEm hoef nie jammer te sê oor sy sound effects nie. Mense sal letterlik moan oor alles, en iets gaan soek om oor te moan as daar niks is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.