[Entrepreneurskap] Adam Tas praat oor sy Loopgraaf Produksies

adam-tas-klipkouers

Adam Tas. Foto: Verskaf.

Welkom by die Klipkouers Potgooi. Ek is Jacques Basson, eienaar van Klipkouers, en elke week gesels ek met ʼn ander Klipkouer-aanhouer en -uithouer. Vandeesweek se onderhoud was met met Adam Tas en in hierdie onderhoud fokus ons op sy onderneming.

Hallo Klipkouers, ek is Adam Tas, ʼn musikant, musiekskrywer, akteur en ʼn TV-aanbieder hier in Suid-Afrika. Ek besit ook ʼn rolprentmaatskappy, Loopgraaf Produksies.

 Vertel ons ʼn bietjie meer omtrent jouself.

Man, ek het grootgeword in Pretoria, is hier gebore en het hier skoolgegaan by Laer- en Hoërskool Garsfontein. In matriek het ek ʼn bietjie musiek geswot en op universiteit natuurbewaring, maar toe begin ek ernstig musiek maak en het ook by my pa se boerdery betrokke geraak. So ja, dis maar wie ek is – ʼn boerseun uit die Bosveld.

Gee ons bietjie van ʼn opsomming van die soort bedryf waarin jy jouself bevind met Loopgraaf Produksies?

Loopgraaf Produksies was ʼn natuurlike uitvloeisel van musiek want dis steeds ʼn skeppende bedryf waarin ek agter ʼn kamera kan staan en mooi prentjies maak. Toe ek met Loopgraaf Produksies begin het was my ideaal om vir National Geographic te werk. Intussen het Loopgraaf ʼn paar lekker dinge gedoen, veral saam met Buffelsfontein Baardolie wat natuurlik een van ons eerste projekte was. En ek is baie trots op die onderneming, dit is een wat baie vinnig sterk geraak het.

Watter soort probleem los jou onderneming op?

Tans maak dit net vir my meer probleme want ek is minder tuis! Aan die begin, met iets soos Buffelsfontein Baardolie, het Meyer le Roux na my toe gekom en vertel van ʼn nuwe klein internetmaatskappytjie wat baardolie verkoop. Op daardie stadium het hulle nog nie ʼn enkele botteltjie verkoop nie, maar dit was die plan. Ek sê toe vir hom ek het ʼn rolprentmaatskappy, kom ons skiet gou vir jou ʼn advertensie. Ons skiet toe die advertensie en dit was ʼn groot sukses. Buffelsfontein Baardolie is op pad boontoe.

En toe besef ons die mark wat ons kan vul is nie noodwendig die TV-mark vir advertensies nie, dis ʼn mark vir sosiale media, kort, vinnige en kragtige advertensies wat snaaks is, wat – om die Engelse woord te gebruik, shareable is, wat mense wil deel met hulle vriende. En dit is ʼn mark waarmee niemand regtig nog iets mee gedoen het nie, en ons het hom gevul. Ek sien daar is al hoe meer mense wat dit begin doen en dis lekker om een van die eerstes te wees wat dit hier in Suid-Afrika reggekry het.

Wat maak jou anders as jou kompetisie? Jy het nou ook genoem dat julle half pioniers was in die sosialemediavideobemarking-ding, wil ek half sê, en dan het ander ouens op die boot gespring. Is daar nog iets wat julle uniek maak?

Ja, weet jy, die feit dat ons toerusting uitsluitlik van die hoogste gehalte is. Hier is bitter min maatskappye in Suid-Afrika wat ʼn miljoen rand op ʼn kamera kan uitgee want dit is eenvoudig nie lewensvatbaar om dit te doen nie. Hoeveel werk moet jy doen om so ʼn kamera te betaal, wat nog te sê van ʼn lens van ʼn half miljoen rand? So jou finansiële uitleg in hierdie bedryf is verskriklik groot. Ons het ʼn voordeel bo baie van ons teenstanders met die soort toerusting wat ons het. En dan, ek glo en vertrou ek is redelik skeppend om die regie van sulke goeters te kan doen – wat gaan werk of waar ʼn mens ten minste jou naam kan bysit en sê luister, ek glo en vertrou hierdie ding kan werk.

Dit sluit nou baie mooi aan by die volgende vraag: Wie is julle teikenmark of ideale kliënt?

Ons het nog nie so ʼn groot onderneming dat ons sommer net kan kies nie. Ons gee nie om wie ons mark is nie; ons vat maar werk soos dit inkom, maar ek is Afrikaans en ek doen graag sake met Afrikaanse ondernemings en ek hou daarvan dat ek nie op my knieë hoef te gaan smeek vir BEE-punte en sulke goeters nie. Ek kan met Afrikaans mense gaan werk, en ek weet daar gaan altyd werk wees vir ons as ʼn maatskappy. Ons is Afrikaans, ons is boere, ons werk saam met die boere en ons werk baie lekker so.

Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Ek dink om nie ʼn gedeelte van die toerusting wat ons gekoop het te finansier nie. Op die ou end het ek maar die meeste van die kapitaal uit my onderneming geneem, aan die musiekkant.

Ek meen Meyer en Buffelsfontein Baardolie is natuurlik ʼn groot regmerkie op julle bladsy, dis goed vir die CV, né, so wat doen julle nog? Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf? Ek dink dit is altyd die moeilikste ding vir ʼn jong onderneming.

Ons het nog glad nie geadverteer nie, buiten vir die feit dat daar die Loopgraaf-slagspreuk en die Buffelsfontein-advertensies is, en van daar af kom ons werk. Baie mense het ons genader vir wie ons advertensies gedoen het as gevolg daarvan, so ons het nog nie regtig bemarking gedoen nie, en dis ʼn moeilike ding om te bemark, want hoe bemark jy nou regtig ʼn rolprentmaatskappy? “Word of mouth” is vir my die beste bemarkingsopsie. As jy kwaliteitwerk lewer gaan hulle jou aan die volgende ou voorstel en so aan. Natuurlik ook, uit die aard van my beroep, ontmoet ek baie mense en dit kom maar op in gesprekke en dan sê die ou wag, ek het ʼn lodge, of ons het hierdie veiling wat ons wil afneem vir die wildbedryf of kom doen vir ons hierdie of daardie projek, en dit help ons. Ons het regtig nog nie ʼn sent aan bemarking bestee nie.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Deon ·

So man ondersteun ek enige dag – gaan sommer nou nog ‘n cd koop. Sterkte met die besighede vorentoe Adam!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.