Esté Gross, jeugkoor bring Paastyd-hoop

Esté Gross en Hemelbesem saam met die koor (Marike du Plessis/Common Ground Collective)

Die Universiteit van Pretoria (UP) se eie jeugkoor, geklee in alle kleure van die reënboog, het saam met Esté Gross en Hemelbesem ’n Paasfees-boodskap van hoop tydens ’n optrede Saterdag in UNISA se ZK Matthews-lokaal gebring.

Die optrede het nie net die talent van die begeesterde koorlede weerspieël nie, daar is ook van die geleentheid gebruik gemaak om Gross se splinternuwe enkelsnit, “Deur die storm, wat sy in samewerking met die koor en Hemelbesem uitgereik het, op te voer.

“Vir my is die skryf van musiek terapie. Ek het self deur ’n storm van my eie gegaan, so is die lirieke gebore,” het Gross oor die ontstaan van die liedjie aan Maroela Media vertel.

Terwyl sy na die lirieke van die lied geluister het, het sy besef dat sy die veelsydigheid en talent van die jeugkoor, asook Hemelbesem, oftewel Simon Witbooi, wil betrek.

“Ek dink dis wat hierdie enkelsnit so besonders maak. Dis regtig ’n gesamentlike projek, ’n ons-projek.”

Die koor het die afgelope twee jaar sukkelend voortgebou aan die fondament wat 17 jaar gelede gelê is.

“Verskriklike uitdagings het ons almal in die oë gestaar met die pandemie. Dis nou amper twee jaar wat teaters net toe is. Ons moes maniere vind om die kunste aan die gang te hou.”

Die lied verteenwoordig die lig aan die einde van die donker tonnel waarin talle kunstenaars hulself die afgelope ruk bevind het. Die lied bied ook vir die tieners wat deel van die koor is ’n noodsaaklike uitlaatklep vir die uitdagings en donker tye wat die pandemie teweeggebring het.

“Tieners gaan deur geweldig baie storms van hul eie. Hulle het hoe lank nou agter maskers weggekruip, nou is dit ewe skielik terug in roetine. Ons moet hulle gemotiveerd hou. Die lied het regtig organies gegroei, en dit het op die regte tyd vir ons gekom. As dit die Here se wil is, sal die regte deure oopgaan,” het Lhente-Mari Pitout, leier van die UP-jeugkoor, vertel.

“Paasfees is ’n goeie tyd, dis ’n tyd van hoop. Die dood is reeds oorwin. Daarom kan ons dans, al is dit deur ’n storm,” het Gross gesê.

Dis juis die boodskap wat deur die koor se Paasfeesvieringe op Saterdag tuisgebring is.

Die koorlede, wat uit ’n wye verskeidenheid agtergronde kom, het gesing, gedans, gejubel en gejuig ter ere van die Here se naam.

Liedere soos “O Heer my God” en “Wildsbok” het deur die lokaal weerklink, terwyl die gehoor nie geskroom het om saam te sing, hul hande omhoog te hou en die Here te loof en prys nie.

Die vertoning was gevul met hoendervleisoomblikke en Pitout het gedurende die vertoning geskerts dat die gehoor nie verwag het om ’n kerkdiens by te woon nie.

Die vertoning is met “Deur die storm” afgesluit, waarna Gross, die koor en Witbooi staande applous van gehoor ontvang het.

Die UP se jeugkoor het in 2001 ontstaan.

“Ons doen om en by 600 oudisies ’n jaar, waaruit 85 koorlede op die ou end gekies word. Baie van die kinders het ongelooflike musiekagtergrond, maar nie die selfvertroue om te sing nie. Of baie van hulle het ongelooflike stemme, maar geen musiekopvoeding nie. Dit is regtig ’n geleentheid waar die lede van mekaar kan leer.”

  • Besoek hierdie webwerf om meer uit te vind oor die koor, waar hulle optree en hoe jy hulle kan ondersteun.

Kyk die musiekvideo van “Deur die storm” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.