Esté Gross trek mikrofoon vir sang nader

Esté Gross. (Foto: Facebook/Esté Gross)

Esté Gross se talente ken geen perke nie. Sy is nie net ’n bekende omroeper en nuusleser nie, maar ook ’n suksesvolle programsamesteller en rubriekskrywer.

Die veelsydige vrou is ook ʼn sangeres en liedjieskrywer en haar tweede enkelsnit, “Hemelruim”, is pas bekend gestel en gaan daaroor om die beste te maak van elke dag.

“Elke dag is opnuut ’n kans om jou drome uit te leef. Jy moet wel geloof hê en self die manna gaan optel vir elke dag,” sê Gross.

Len Muller, die bekende musikant en liedjieskrywer, is saam met Gross in die liedjie te hoor. Gross en Muller het ontmoet toe sy met hom in haar musiekreeks Hier en Anderkant die Blouberge gesels het.

“Ek het baie van die verwerking van ‘Sarie Marais’ gehou wat hy saam met Stef Bos opgeneem het. Ek het hom gevra of hy sou belangstel om ‘Hemelruim’ saam met my op te neem. Hy vind toe aanklank daarby en hier is ons nou.

“Dit is inspirerend om saam met Len te werk, want hy is ’n uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer met integriteit. Hy is professioneel en pret om mee saam te werk.”

Gross het die liedjie self geskryf en sê dit is geïnspireer deur Eksodus 16, waar God manna uit die hemel laat reën het.

“Ek het gedink aan hoeveel tyd verbygaan terwyl mense, deur vrees en moontlike teleurstellings uit die verlede, teruggehou word en dit as ’n verskoning gebruik om nie hulle drome uit te leef nie,” verduidelik sy.

“Hy voorsien elke dag genoeg vir jou, jy moet net geloof hê om self buite toe te gaan en die manna wat voorsien is vir jou op te tel en te glo dat daar môre ook weer genoeg vir jou sal wees.”

Haar loopbaan as omroeper, nuusleser, programsamesteller en rubriekskrywer was sover haar hooffokus, maar nóú het sy besluit dat dit tyd is om ook meer aandag aan haar musiekloopbaan te gee.

“Dit is so ʼn oorweldigende, persoonlike ervaring. Ek het hierdie roeping in my hart gehad om te sing en ek is oorweldig met dankbaarheid dat ek my eie vrese oorkom het en vir mense hierdie liedjie kon gee.”

Sy vertel dit is ʼn “verrykende ervaring” om dit te beleef. “Elke kunstenaar neem tyd om sy eie styl te vind en my styl is net ʼn uitbreiding van wie ek eintlik is. Dit voel amper surrealisties, maar dit het my ook ʼn lank gevat om te besluit wat my klank gaan wees.”

Sy beskryf “Hemelruim” as ʼn kontemporêre popballade.

Gross erken dat dit haar ook daaraan herinner om dapper en vreesloos te wees en om die lewe met geloof aan te pak.

“‘Hemelruim’ het ’n boodskap van volharding ten spyte van terugslae in die verlede en om aan te hou glo. ’n Boodskap wat ons nou nodig het.”

Volgens Gross is sy oorweldig deur die terugvoer wat sy tot dusver oor “Hemelruim” gekry het. “Die liedjie vaar baie goed op treffersparades en ek is dankbaar oor die positiewe terugvoer.”

Sy vertel sy kry ook e-posse en boodskappe van luisteraars wat sê die liedjie het hulle bemoedig in ʼn donker tyd. “Sommige mense sê dat hulle oor en oor daarna luister en mens kan as musikant nie vir meer vra nie.”

“Hemelruim” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Wow, wat ‘n stem. Idiaal vir Neo Classical Rock!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.