FAK bring hulde aan Gé Korsten

Gustav Germishuizen, Gé Korsten se kleinseun, het die borsbeeld amptelik aan die publiek bekendgestel. (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydagaand hulde aan die musieklegende Gé Korsten gebring deur ʼn nuwe borsbeeld en ʼn granietbord met sy liedjie “Sing, Seeman, sing” in die liedjietuin te onthul.

Korsten, wat op 29 September 1999 oorlede is, word vandag nog bestempel as een van die grootste Suid-Afrikaanse musieklegendes. Hy was bekend vir treffers soos “Jerusalem”, “Liefling”, “Hoor my lied” en “Ek mis jou elke dag ʼn bietjie meer”, ʼn duet wat hy saam met Rina Hugo gesing het.

Die borsbeeld is deur Jacques Müller gemaak en Gustav Germishuizen, Korsten se kleinseun, het dit amptelik aan die publiek bekendgestel. Germishuizen het namens die familie sy dank teenoor die FAK se bewaring van Korsten se musikale erfenis uitgespreek.

“Dit is 22 jaar dat Oupa Gé nie meer met ons is nie, maar ons is gelukkig dat ons nog sy musiek en video’s het waarna ons kan kyk en luister,” sê Germishuizen. Hy het kortliks verwys na die bydrae wat Korsten tot die Afrikaanse musiek gelewer het en bygevoeg dat hulle bevoorreg is om nog daardie herinneringe van hom te hê.

“Ek wens hy kon hier wees om die liedjietuin te beleef. Ek wil namens die vyf Korstens en al die kleinkinders die FAK bedank dat hulle hierdie eer aan hom toon. Ons waardeer dit opreg. Baie, baie dankie.”

Gé Korsten se borsbeeld is deur Jacques Müller gemaak. (Foto: Verskaf)

Müller het die bronsbeeld, wat Korsten met sy immergewilde matrooshoed uitbeeld, op ʼn stuk klip vanuit die Monumentkoppie by die Voortrekkermonument gemonteer. Ter viering van Gé se 94ste verjaarsdag het Müller besluit om die beeld “Liefling” te noem.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het gesê Korsten se borsbeeld is die heel eerste beeld van ʼn Afrikaanse kunstenaar wat in hierdie “onthou”-tuin onthul is. Dit is die einste tuin wat aangeplant is om aan Afrikaanse musieklegendes erkenning te gee en hulle nalatenskap te vereer.

“Hoekom sal ons (die FAK) vir Gé Korsten kies? Ek dink sy grootsheid lê in sy tydloosheid. Hy is op 6 Desember 1927 gebore en is in sy vroeë 70’s oorlede. Meer as 20 jaar ná sy dood, inspireer sy musiek steeds. Ontroer dít mense steeds en is dit steeds vir ʼn nuwe generasie kunstenaars ʼn fondament om op te bou.”

Langner het tydens die geleentheid ʼn boodskap van Rina Hugo, wat vir jare lank saam met Korsten opgetree het, voorgelees. Sy het Korsten as haar “beste vriend” beskou.

“‘Ek mis jou elke dag ’n bietjie meer’ was vir seker een van my en Gé se mees suksesvolle opnames,” skryf sy. “Een wat ons by al ons optredes moes sing en die ander was ons duet-opname van ‘Jerusalem’. Dit was altyd dié lied wat ons vir heel laaste gehou het. Elke aand wat ons van die verhoog afgestap het, het hy saggies vir my gesê: ‘You can’t beat that’. En ek het dit geweet. Wat ʼn wonderlike voorreg was dit om ‘Jerusalem’ saam met hom te kon sing.”

Jannie Moolman sing sy weergawe van “Jerusalem” by die FAK se onthulling van Gé Korsten se borsbeeld in die Afrikaanse liedjietuin. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Jannie Moolman het Vrydagaand juis daarom die program met sy weergawe van “Jerusalem” begin.

Die jare wat Rina saam met Gé die land met optredes vol getoer het, sal volgens haar altyd as die heel beste jare in haar loopbaan uitstaan.

“Gé was ʼn ongelooflike goeie sanger en min ander kunstenaars sal naby hom kom, as dit kom by charisma. Die mense was absoluut mal oor hom. Hy het die vermoë gehad om dadelik ʼn treffer te herken as hy dit hoor. Hy het geweet waarvan die mense sal hou en hy het self sy hand gewaag aan die skryf van die lirieke van baie van sy treffers.”

Rina het in die kort huldeblyk vertel dat Korsten haar held was, lank voordat sy hom ontmoet het en dat hy later haar mentor geword het. Sy het haar huldeblyk afgesluit met die woorde: “Gé, ek mis jou elke dag ʼn bietjie meer”.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydagaand hulde aan die musieklegende Gé Korsten gebring deur ʼn nuwe borsbeeld en ʼn granietbord met sy liedjie “Sing, Seeman, sing” in die liedjietuin te onthul. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

‘n Ware legende.

Harley Davidson

Baie goeie inisiatief.

Delene

Musikaal, Intelligent, Charisma, Klas & Styl! Voorwaar ‘n Ware Legende!