FAK hou e-konsert om Voortrekkermonument te red

(Foto: Theana Breugem/FAK)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gaan op 16 Junie vanjaar ’n virtuele konsert, Hier staan ons, met Jak de Priester as gasheer en Steve Hofmeyr as sy eerste gas aanbied. Die konsert gedenk die dag waarop die verskroeideaardebeleid tydens die Anglo-Boereoorlog aangekondig is.

Om seker te maak dat alles seepglad verloop op 16 Junie, kon ’n handjievol mense Woensdagaand ’n voorsmakie van die konsert eerstehands aanskou.

Hierdie vertoning is die eerste aanbieding in ’n Hier staan ons-konsertreeks, waar De Priester telkens as gasheer gaan optree.

Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, is die doel van die Hier staan ons-konsertreeks om geld in te samel vir die FAK-Geskiedenisfonds wat ten doel het om Afrikanermonumente te help.

“Let wel, 16 Junie is ’n unieke historiese datum omdat die verskroeideaardebeleid op dié dag 120 jaar gelede tydens die Anglo-Boereoorlog aangekondig is. Meer as 22 000 kinders het weens die allerverwoestende beleid in konsentrasiekampe gesterf en duisende plase en dorpe is afgebrand. Ons mag dít nie vergeet nie.”

(Foto: Theana Breugem/FAK)

Terwyl beelde van Hofmeyr se liedjie, “My hart klop halleluja”, in Woensdag se voorskou op die Voortrekkermonument sélf vertoon is, het hy die 300 trappe vanaf die parkeerterrein tot by die uitkykpunt aan die noordekant van die monument uitgeklim om dié liedjie regstreeks van daar af te sing.

Joe Engels, eienaar van Xtreme Productions wat hierdie konsert moontlik gaan maak, verduidelik dat die Voortrekkermonument self as skerm sal dien vir dié konsert.

“Konserte is oor die jare heen by al die onderskeie terreine en selfs voor die trappe van die Voortrekkermonument aangebied, maar nog nooit op dié monument self lewensgroot vertoon nie. Dié monument is 1 600 vk. m groot en 42 m hoog. Dit is gróót. Die hele Pretoria sal dit kan sien.”

Engels verduidelik dat twee enorme projektors die beeld op die monument projekteer, terwyl sowat sewe kameras, waaronder ook hommeltuie, die konsert afneem en nog drie kameras die projeksiegedeelte doen.

Hofmeyr beplan om vir die herdenkingskonsert verskeie FAK-liedjies en enkele patriotiese liedere te sing, asook van sy bekendste liedjies soos “Pampoen” en Gé Korsten se “Liefling”.

De Priester sal ook van sy eie liedjies sing en die temalied, “Hier staan ons”, wat hy vir dié konsertreeks geskryf het.

(Foto: Theana Breugem/FAK)

De Priester sê: “Covid-19 het ons gewys dat bakens, ondernemings en tydskrifte, wat ons hele lewe nog saam met ons was, skielik net nie meer daar is nie. Presies dieselfde gevaar staar ons erfenisterreine en monumente in die oë.

“Kan jy jou voorstel: ’n Pretoria sonder ’n werkende Voortrekkermonument of die Paarl sonder die lieflike Taalmonument of Bloemfontein sonder die Vrouemonument?”

Die FAK en De Priester het daarom hande gevat om ons land se monumente met dié reeks konserte aanlyn aan te bied. Met elke konsert sal De Priester ’n ander gas verwelkom.

Die Voortrekkermonument sal elke keer as venue gebruik word vir die konserte en uiteindelik sal ’n skare self na die konserte kan kom kyk sodra die afsonderingsregulasies opgehef is.

Die FAK het onlangs as deel van sy geskiedenisfonds ’n omvattende hulpprogram ter ondersteuning van Afrikanermonumente bekendgestel om hulle finansiële oorlewing te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

Volgens Langner is monumente inspirasieplekke wat ons sigbaar herinner aan die uitdagings wat ons voorgeslagte te bowe gekom het.

“Elke monument wat die deure moet sluit, is nie net ’n langtermynverlies vir Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis nie, maar ’n kultuurhistoriese ramp,” sê hy.

Die Voortrekkermonument in Pretoria is een van die instellings op die FAK se voorkeurlys. Weens die verlies aan toerisme-inkomste omrede die nasionale staat van inperking is dié instelling een van die plekke wat moontlik sy deure gaan moet sluit.

“Die staat gaan nie ons monumente help nie. Afrikaners sal self verantwoordelikheid moet aanvaar om in krisistye ons geskiedenis vir ons nageslag te bewaar,” sê Langner.

Kaartjies vir die konsert kos R50 en is by https://plankton.mobi beskikbaar. Mense wat ’n kaartjie koop, sal dan ’n skakel kry om op 16 Junie om 19:00 na die konsert te kyk, waarna die hele gesin saam na die konsert vanuit hulle sitkamer kan kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerra ·

Kaartjie is al gekoop…….. sitplek geboek…… ek en my gesin mis beslis nie hierdie historiese konsert!

Alexander ·

Wat ‘n wonderlike innisiatief. Elke mens wat waarde heg aan ons erfenis moet ‘n kaartjie koop. Ek vertrou dat dit ‘n reuse sukses sal wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.