FAK-sangbundel internasionaal bekendgestel

corlea botha

Corlea Botha. (Foto: Verskaf)

Die gewilde Afrikaanse sangeres Corlea Botha het op 4 Maart die FAK-sangbundel in Antwerpen in België tydens die 81ste jaarlikse Vlaams Nationaal Zangfeest bekendgestel.

Die geleentheid het by die Lotto Arena plaasgevind.

“Beide die FAK-sangbundel en Vlaamse Zangfeest vier vanjaar 81 jaar vir die bevordering van saamsing en het dieselfde doel – om ’n platform te skep vir volksmusiek, die kragtige tradisie daarvan te vier en ook om vir die moderne musiek ruimte te bied sodat taal en kultuurgrense oor die wêreld heen kan groei,” het Danie Langner, uitvoerende direkteur van die FAK, in ʼn verklaring gesê.

“Botha het die voetspoor van die FAK-sangbundel in België en Europa weer opnuut bevestig. ’n Eietydse waarde is geskep vir Afrikaanse musiek en die assosiasie met beide die Afrikaanse en Vlaamse volksmusiek lewer baanbrekerswerk,” het Langner gesê.

Wilfried Haesen, regisseur van die Zangfeest, meen dat Nederlanders graag van sangbundels gebruik maak vir saamsing, “maar dat Afrikaanse musiek ’n groter skat het, en dit is die FAK-sangbundel”.

“Die FAK-sangbundel is oorspronklik en volgens my geweldig belangrik vir die bevordering van volksmusiek. Dit is baie belangrik dat ons die bande tussen Nederlands en Afrikaans in stand hou en dit is gedoen deur die FAK-sangbundel internasionaal bekend te stel tydens die Zangfeest,” het Haesen gesê.

Altesaam 81 Zangfeeste het tussen 1933 en 2018 plaasgevind en elke jaar is dit ʼn geleentheid waarna die Vlaminge uitsien om saam te sing en saam hulle eie kultuur uit te leef. Die Zangfeest het deur die jare aansienlik ontwikkel, maar die kern bly dieselfde: om saam te sing met dieselfde oortuiging en ’n unieke kultuur oor te dra.

Meer oor die FAK-sangbundel

Die eerste FAK-sangbundel is in 1937 uitgegee met 314 liedere wat daarin opgeneem is. Ou bekendes wat hierin vervat was, sluit onder meer in “Saai die waatlemoen”, “Dis te ver om te ry”, asook “So ry die trein”.

In 1961 het die tweede, hersiene Nuwe FAK-sangbundel onder die hoofredakteurskap van Dirk de Villiers verskyn met ’n bykomende toevoeging van nog 74 liedere. Teen hierdie tyd het daar reeds meer as 70 000 kopieë van die eerste uitgawe verkoop. In 1979 is die immergewilde sangbundel weer aangevul en het ’n derde uitgawe sy verskyning gemaak.

Nuwe Afrikaanse liedjies wat oor die afgelope 40 jaar deel van die Afrikaanse musiekerfenis geword het, is ingesluit. Uiteindelik kon die FAK in 2012 met trots die nuwe FAK-sangbundel Volume II uitreik wat ook heel gepas was, siende dat dit die bundel se 75ste bestaansjaarviering was.

In Volume II is daar plek gemaak vir 400 nuwe Afrikaanse liedjies wat geskryf is sedert 1979. Die eerste oplaag van Volume II het sedertdien totaal uitverkoop en na vele navrae het die FAK in samewerking met Protea Boekhuis besluit om ’n tweede druk beskikbaar te stel.

Geslagte Afrikaanse kinders het met die FAK-sangbundel in die huis en klaskamer grootgeword, wat ʼn paar bekende name in die Afrikaanse vermaakbedryf insluit. Jak de Priester vertel dat hy reeds op laerskool kennis gemaak het met die FAK-sangbundel. “Ek kom my lewe lank saam met die FAK-sangbundel. Tydens sangperiode het juffrou Schoeman die FAK-sangbundel oopgemaak, op die klavier gespeel en dan het ons saam gesing. Ek onthou liedjies soos ‘Al lê die berge nog so blou’, ‘Kolperd’ ens. En dit is hoekom mense van my generasie al daai liedjies nog ken.”

Anton Goosen meen “dit is moeilik om te sê watter liedjies is relevant, maar die FAK-sangbundel is amper so dik soos die HAT, en ek sê dit nou, want hulle lê hier bo-op mekaar voor my. Dit is ’n belangrike erfenis, want oor 50 jaar is daar weer ’n hersiene weergawe met nuwe liedjies. ’n Taal en kultuur het nie grense nie, mense reg oor die wêreld vra vir my waar kan hulle die FAK-sangbundel kry, selfs Afrikaners vanuit Engeland.”

De Priester meen die FAK-sangbundel vang beslis ’n era se tipe musiek vas. “Vandag is daar selfs liedjies van Kerkorrel en Koos Kombuis in, en dit wys hoe die FAK-sangbundel oor die jare gegroei het. Die FAK-sangbundel is nie tydloos nie, maar vang ’n stukkie van die geskiedenis vas.”

Chris Chameleon, Anton Goosen, Anneli van Rooyen, Laurika Rauch, Bok van Blerk en selfs die Heuwels Fantasties is van die kunstenaars wie se werke beskikbaar is in die FAK-sangbundel Volume II, Druk II.

FAK-sangbundel Volume II, Druk II, is beskikbaar by Protea Boekhuis en uitgesoekte boekwinkels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kaster ·

Ons moet baie sterk bande met ons Europese voorouers bou, ons gaan mekaar moet help in hierdie tye van verandering waarin ons kulture onder almeer druk kom.

rollie ·

Daar is baie meer uitheemse wysies as inheemse wysies in die FAK, net Afrikaanse lirieke gekry.

Kaster2 ·

Ons moet baie sterk bande met ons Europese voorouers bou, ons gaan mekaar moet help in hierdie tye van verandering waarin ons kulture onder almeer druk kom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.