FAK vereer Johan Stemmet vir lewenswerk

Johan Stemmet is waarskynlik die bekendste vir sy rol as skepper, vervaardiger en voormalige aanbieder van die musiekspeletjieprogram “Noot vir Noot”. (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydagaand die sanger, vervaardiger en TV-aanbieder Johan Stemmet vir sy lewenswerk vereer.

Stemmet (68), wat waarskynlik die bekendste is vir sy rol as skepper, vervaardiger en voormalige aanbieder van die musiekspeletjieprogram Noot vir Noot, het dié eerbewys tydens die sewende Afri-Duetfees by die Kerksondermure in Centurion ontvang.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê: “Dit is ’n lank uitstaande erkenning vir die reuserol wat jy via Noot vir Noot gespeel het om Afrikaanse musiek onder die breë publiek gewild te maak. Dan praat ons nie eers van jou rol as TV-aanbieder, regisseur, sanger en liedjieskrywer wat oor dekades strek nie. Dit is vir die FAK werklik ’n groot voorreg om by wyse van ’n klein toekenning vir jou ’n groot dankie te sê. Daarby is jy vanjaar 40 jaar in die musiekbedryf.”

Stemmet sê hierdie toekenning beteken “geweldig baie” vir hom.

“Soos ek altyd sê, dit gaan nie soseer oor die toekenning self nie. Dit gaan om daai erkenning te kry en om dít van iemand soos die FAK te kry, maak dit baie spesiaal.”

Hy vertel die FAK-sangbundel was altyd deel van hulle huis gewees.

“My eerste kennismaking wat sing en musiek betref, was op 6-jarige ouderdom met die FAK-sangbundel. My grootste lekker was altyd as ek liedjies uit dié Sangbundel kon sing.

“Ek glo tot vandag vas dat my musiekwortels baie diep gegrond lê in die FAK-sangbundel.”

Die Afri-Duetverhaal het op ’n Saterdagoggend in September 2013 begin toe die sangegpaar Willie en Natasha Joubert die gaskunstenaars by die Gereformeerde kerk Andeon se 25ste jaarlikse Jakarandatee was. Hul gevoelvolle optrede was die inspirasie wat die Duetfees-konsep by Andeon en Bergsig se predikant, ds. Cassie Aucamp, laat posvat het.

Dit het nou al ’n jaarlikse tradisie geword dat die FAK iemand tydens dié duetfees vereer. Min Shaw en Lance James is verlede jaar vereer en Manuel Escórcio in 2018.

Dit is vanjaar die sewende Afri-Duetfees. Dit is vanjaar vir die eerste keer by die Kerksondermure in Centurion aangebied.

Daar is vandag (Saterdag) nog vertonings te sien om 15:00. Die duetpare wat vanjaar optree is: Willem Botha en Nadia Beukes, Jannie Moolman en Zita Pretorius, Kevin Leo en Arina de Witt en Wille en Natasha Joubert.

Die gehoor geniet die musiek van die sewend Afri-Duetfees wat hierdie jaar by die Kerksondermure in Centurion aangebied word. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MakersMark ·

“Kyk hoe kyk sy vir my nou…R 50 in jou maxispaar”….

Blomme ·

Welgedaan Johan.. Jy is ń ster vd Afrikaanse musiekbedryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.