FAK vereer ‘Liedjie vir jou’-sanger

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Jannie Dut Toit Dinsdagaand vir sy lewensbydrae vereer. (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Dinsdagaand die “Liedjie vir jou”-sanger, Jannie du Toit, vir sy lewensbydrae vereer.

Dié geliefde sanger betower gehore al vir die afgelope 50 jaar met sy liedjies en stem. Sy ryk musiekloopbaan strek al sedert die sewentigerjare, met geen vooruitsig van ʼn einde nie.

Deur sy jarelange toewyding aan Afrikaans en Afrikaanse musiek het hy vir hom ʼn ereplek tussen die groot name in die Afrikaanse musiekwêreld oopgekap. Hy is bekend vir sy toonsettings van verskeie groot digters se werk, insluitend CJ Langenhoven, asook vir sy solowerk, wat tans uit meer as 14 albums bestaan.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het tydens die geleentheid, wat in die FAK se Afrikaanse liedjietuin plaasgevind het, ʼn prestige-toekenning aan Du Toit oorhandig vir sy unieke en meesterlike bydrae tot die bevordering van kleinkuns in Afrikaanse musiek sedert 1971. Daarna is ʼn granietbord met sy liedjie “Skilder van die wolke” ook in die liedjietuin onthul.

“Die FAK gee erkenning aan Jannie as die vader en ontwikkelaar van kleinkuns in Afrikaanse musiek,” sê Langner. “Hy het dié genre gedurende sy loopbaan van 50 jaar op vele maniere ontwikkel, oorgedra, bevorder en daaroor gepraat. Dit het hy altyd sonder winsbejag en sonder ʼn soeke na gewildheid gedoen.”

Tydens die samestelling van die FAK Sangbundel se tweede volume in 2012 is verskeie Afrikaanse kunstenaars soos Christa Steyn (wat aanvanklik verantwoordelik was vir die Kleinkuns-rubriek), Lucas Maree en Louis van Rensburg, dood.

Jannie du Toit vermaak gaste in die FAK se liedjietuin. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Volgens Langner is dit danksy Du Toit se entoesiasme en aanmoediging in hierdie tyd dat die liedjietuin opgerig is.

“Die ontstaan van dié tuin is 100% te danke aan Jannie, want hy op ʼn dag tydens die samestelling van hierdie sangbundel in my kantoor gesit en gesê: ‘Danie, besef jy dat daar nêrens ʼn plek is wat erkenning aan Afrikaanse sangers, legendes en liedjieskrywers gee nie.

“Jannie het my toe daaraan herinner dat dit die FAK se verantwoordelikheid is om daardie onthou te skep’,” vertel Langner.

Die behoefte om aan Afrikaanse musieklegendes erkenning te gee het dus daartoe gelei dat die FAK by sy kantoor op die Voortrekkermonument se terrein ʼn Afrikaanse liedjietuin uitgelê het.

Immergroen Afrikaanse liedere is op granietplate verewig. Gedenkplate is opgerig vir Afrikaanse sangers wat ʼn reuserol gespeel het. Tweehonderd naamrose wat na Afrikaanse kunstenaars, sangers, dorpe en liedjies vernoem is, is ook intussen aangeplant.

Op 10 Oktober 2013 het die FAK sy Afrikaanse liedjietuin vir die publiek oopgestel. Liewe Heksie het seremonieel namens Verna Vels ʼn toekenning vir besondere kultuurdiens aan die Afrikaanse kind ontvang. Van die gaste wat by die openingsgeleentheid was, is onder andere Mimi Coertse, Rina Hugo, Johan van Rensburg, Anneli van Rooyen, Lance James en Karla du Plessis.

Dr. Danie Langner oorhandig die FAK se prestige-toekenning aan Jannie du Toit. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

In 2014 is die Afrikaanse liedjietuin met behulp van Sanlam uitgebrei deur voorsiening te maak vir ʼn Afrikaanse Kinderliedjietuin met ʼn speelpark. Bekende kinderliedjies soos “Trompie” en “Liewe Heksie” is op granietplate aangebring.

“Wanneer ek vanaand hierdie eerbewys aan jou oorhandig, sou ek dit ook vir die sangonderwysers wou gee wat ʼn nuwe generasie Afrikaanse kinders lief gemaak het vir Afrikaanse musiek. Sangonderwysers wat ons so getrou ‘Sewe sakke sout’ van Annelie van Rooyen laat sing het.”

Jannie du Toit het vroeër ʼn draai by Maroela Media gemaak om oor sy vyf dekades in die Afrikaanse musiekbedryf te gesels. Klik hier om alle vorige onderhoude en artikels oor hom op Maroela Media te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kobus

Jannie du Toit is ‘n merkwaardige kunstenaar. Hy gaan met soveel respek om vir sy kuns, en sy gehore. Mag sy talent sonder ophou bly vreugde bring.