Familie-duo skep hoop met nuwe enkelsnit

Victor Bravo (Foto: Facebook)

Die manne van die musiekgroep Victor Bravo pronk met ’n splinternuwe enkelsnit gevul met positiwiteit en hoop.

Die oom-en-susterskind-duo se splinternuwe treffer, “Solank die liefde bly”, is gister (5 Augustus) uitgereik en beloof om ’n lig aan die einde van ’n tonnel propvol teleurstelling, mismoedigheid en storms te wees.

“Ons is almal, uit die aard van die saak, deur ’n baie moeilike tyd die afgelope paar jaar. Ek het op ’n dag net met my kitaar gesit en besef dat alles oukei gaan wees, solank die liefde bly,” het Weco van Basten, die hoofsanger van die groep, aan Maroela Media gesê.

“Selfs al kan dit net een persoon se hart aanraak, is dit vir my goed.”

Bowenal is dit vir Van Basten belangrik dat dit wat binne hom gewoel het, verewig is in die vorm van ’n liedjie.

Hy is 12 jaar ouer as sy susterskind, Jopie Pienaar, wat ’n kranige kitaarspeler is. Van Basten het die skrywerskoene volgestaan, terwyl Pienaar insae in die melodie van die snit gelewer het.

Alhoewel Van Basten die ouer een van die twee is, beskou hy Pienaar as ’n rolmodel in sy lewe.

“Ek kyk op na hom en leer baie by hom. Hy daag my voortdurend uit om nuwe dinge te probeer.”

Die groep se naam is geskep uit hul familienaam Van Basten, iets wat steeds aan hul hartsnare tokkel.

Die twee het by familiebyeenkomste dikwels die kitare nadergetrek om hulself en die res van die familielede te vermaak.

Alhoewel daar ’n ouderdomsverskil van sowat 12 jaar tussen die twee is, werk hulle heerlik saam.

“Die feit dat ons uit twee verskillende generasies kom, wys soms in ons musiek,” het Pienaar aan Maroela Media vertel.

Nie net wil Pienaar graag soveel moontlik mense met hul musiek lok nie, hy wil graag ’n nalatenskap met dié musiek skep.

Die liedjie is deur Renier Henning Music vervaardig en die klanke van Bruce Wallace (tromspeler) en Janes Blomerus (baskitaarspeler) sal ook gehoor kan word.

Victor Bravo het drie enkelsnitte, “Suiderkruis”, “Skemer” en “Breakway Line”, en is opgewonde om ’n nuwe een daarby te voeg.

Die musiekvideo lê die groep ook na aan die hart, en is ’n versinnebeeld van wat mense die afgelope paar jaar beleef het.

Dit is deur Gerduan Kemp van Gerduan Kemp Photo & Film verfilm by Sowaar Bar en Sowaar Studios, asook by ’n splinternuwe Airbnb in Villieria, Pretoria.

“In daardie tye het dit swaar gegaan omdat ons mekaar nie kon ondersteun nie,” verduidelik Weco.

“Soos wat dinge weer na normaal begin terugkeer het, het dit begin beter gaan en kon ons weer bymekaar uitkom. Solank ons mense het wat vir ons omgee, is daar altyd hoop.”

Kyk die musiekvideo van “Solank die liefde bly” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.