Fanta en Cola- Die Campbells

Fanta en ColaOmtrent ‘n jaar nadat hulle hul vorige album, Voet in die hoek, vrygestel het, is die Campbells terug met hul nuwe album, Fanta en Cola.

Die titelsnit is die eerste snit op die album en hierin sing hulle van ‘n man wat tussen twee mooi meisies wat tegelyk ‘n man se oog vang, en dit is vir hom moeilik om tussen hulle te kies. ‘n Mens sou dalk dink dat Stoutgat ‘n liedjie uit die Campbells se vroeë loopbaan kon wees, maar gelukkig is dit nie die geval nie; hul musiek het intussen baie verbeter. Die eerste treffersnit vanaf die album is Vlinders, wat gaan oor ‘n liefdesverhouding wat na baie jare nog steeds bestaan. Die eerste snit op die album wat nie ‘n oorspronklike komposisie is nie, is The Lumineers se treffer Ho hey. Die Campbells se weergawe vergelyk baie goed met die oorspronklike een. Karate-water is ‘n snit wat hulle pa jare gelede al geskryf het, maar wat hulle besluit het om nou eers op te neem. Hulle sing van ‘n ou wat lief daarvoor is om brandewyn en Coke te drink en dan in ‘n bakleiery betrokke te raak.

Who’s News het ‘n klompie jare gelede ‘n groot treffer met Duskant die Jukskei gehad, en dis goed dat die Campbells dit op hierdie album ingesluit het. Nog ‘n bekende snit wat hulle ingesluit het, is Like a star, wat ‘n treffer vir DJ Otzi en The Bellamy Brothers was. Dankie tog hulle het nie die Afrikaanse weergawe, Dis verby, wat Ray Dylan gesing het, opgeneem nie! Stuur nog reën is ‘n snit wat die Campbells saam met Vos Reyneke geskryf het en ‘n treffer kan word. Dit kon nie te maklik gewees het om Ritchie Valens se groot treffer La bamba op te neem nie, omdat dit natuurlik in Spaans gesing word. Hulle doen egter darem nie te sleg nie. Hulle het drie liedjies, Parapapa van Snotkop, Drie pikkewyne van Jakkie Louw en Stukkie van der Merwe van Pieter Smith en DJ Ossewa saamgevoeg en hulle noem dit die Stukkie stukkie-keurspel. Dis jammer dat hulle dié liedjies in hul geheel afsonderlik opgeneem het nie. Van Morrison het ‘n groot treffer met Brown-eyed girl gehad, en daarom is dit dalk nie verbasend dat hulle dit een of ander tyd op ‘n album sou insluit nie. Weet jou ma is ongelukkig die laaste oorspronklike komposisie op die album, maar dit kan beslis ook ‘n treffer te word. A million drums was seker Dennis East se grootste treffer as solo-kunstenaar, en dis geod dat die Campbells dit opgeneem het. Nog ‘n plaaslike treffer van weleer wat hulle opgeneem het, is Francois Hayes se eerste groot treffer Osbraai op Krombaai. Hierdie liedjie is onlangs by die nuwe FAK-sangbundel ingesluit, en dit vertel sy eie storie. Daar is ongelukkig min Amerikaanse country-liedjies wat deesdae groot treffers in Suid-Afrika word. Chicken fried van Zac Brown Band was egter een daarvan, en daarom is die feit dat hulle dit opgeneem het, geen verrassing nie. Red red wine is geskryf deur Neil Diamond (hoeveel mense het dit geweet?), maar byna presies dertig jaar gelede was UB 40 se weergawe drie maande lank in die eerste plek op die Suid-Afrikaanse trefferslys. Die Campbells se weergawe vergelyk goed met dSuid-Afrikaanse trefferslys. Die Campbells se weergawe vergelyk goed met dié van UB 40. Die laaste snit is die Can’t get enough-medley, soos hulle dit noem, en dit bestaan uit Depeche Mode se I just can’t get enough, I got a feeling van Black-eyed peas en Psy se groot treffer Gangam style. Gelukkig probeer hulle nie die Koreaanse woorde van laasgenoemde liedjie sing nie!

Met hierdie album kom ‘n mens agter dat die Campbells stadig maar seker besig is om in ‘n nuwe rigting met hul musiek te beweeg. Die ou gunstelinge is natuurlik nog altyd daar, maar vir ‘n welkome verandering is die nuwe snitte nie net kommersieel nie; die lirieke is beter as voorheen, en dit behoort by ‘n groter gehoor as voorheen byval te vind. Miskien is hierdie album die Campbells se beste een tot dusver.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.