Faraway George glo jy is nooit regtig alleen

Hein Günther, die folk-sanger wat bekendstaan as Faraway George, het pas ʼn nuwe enkelsnit en musiekvideo uitgereik. Foto: Rozier van Tonder van Okay Deer.

Hein Günther, die folk-sanger wat bekendstaan as Faraway George, het pas ʼn nuwe enkelsnit en musiekvideo uitgereik. Die enkelsnit, “Sugar Cane”, is die eerste uitreiking in sy eerste vollengte album wat vir vroeg volgende jaar beplan word.

Die liedjie kom uit sy eie pen en dra die boodskap dat jy nooit alleen is met jou gedagtes en gevoelens nie.

“Kyk, ek het werkloos en alleen Kaap toe getrek en dit is juis waar die naam Faraway George vandaan gekom het. Dit is hier waar ek besef het daar is altyd mense wat die lewe en spesifieke situasies met ons deel, of dit nou familie of vriende is. Hierdie gedagte kan enige omstandighede verander, omdat dit jou minder alleen sal laat voel en jou lewe boonop kan verryk,” sê hy.

Volgens hom is die liedjie geïnspireer deur sy empatie vir ander mense en hulle omstandighede. “Ek verstaan ook mense se begeerte om êrens te behoort omdat ek self gesukkel het om my eie plek in die wêreld te verstaan,” vertel Faraway George.

“Sugar Cane” het ʼn speelse klank wat aanklank sal vind by gehore van alle ouderdomme. “Dit herinner ons daaraan dat daar ook goeie dinge uit moeilike omstandighede kan kom, selfs al besef ʼn mens dit eers ná die tyd.”

Die liedjie het verder ook ʼn baie unieke aanslag omdat dit opgeneem is tydens ʼn regstreekse opnamesessie. Oor die besluit om sy jongste projek, wat nogal ongewoon is in die bedryf, so aan te pak verduidelik dat hy graag wil terugkeer na die basiese elemente van musiekmaak.

“Deesdae is dit moontlik om verlore te raak in al die moontlikhede. Soms is iets wat bedoel is om vryheid te bied juis die aspek wat jou besluiteloos laat. Ek wou teruggaan na die kern van musiek; dit wat gebeur wanneer almal in die kamer in ʼn liedjie glo. Dit is betowerend!”

“Sugar Cane”, wat reeds in 2013 geskryf is, is een van vier liedjies wat tydens ʼn onlangse opname in die Centurion-teater gedoen is. Faraway George sê die snit is gewild tydens sy optredes, wat die rede is hoekom die sanger – na ʼn gewik en weeg – as sy eerste enkelsnituitreiking gekies het.

Die musiekvideo is ook deel van dié opname en is reeds op YouTube bekendgestel as deel van ʼn reeks van vier opnames saam met die ander snitte wat ook in die Centurion-teater opgeneem is.

Faraway George sê hy wil die formaat van sy gewone optredes ook verander. Hy beplan om meer gereeld saam met ʼn orkes optree. “Hoewel ek solo-optredes geniet en steeds intieme akoestiese vertonings sal doen, is dit nogal spesiaal om saam met musikante te werk wat soos ek dink en in my werk glo. Dit maak interessante variasies en interpretasies moontlik en gee elke liedjie sy eie nuwe baadjie.”

Günther is in Polokwane (Pietersburg) gebore en het met die klanke van jazz-musiek in die huis grootgeword. Hy het as tiener begin om kitaar te speel. Hoewel hy aanvanklik argitektuur sou studeer, het hy dit opgegee vir sy musiekloopbaan. Sy debuut-kortspeelplaat, Vir ʼn vreemdeling, is in 2016 uitgereik.

Die enkelsnit “Sugar Cane” is die eerste vrystelling vanaf sy beplande nuwe album. Foto: Rozier van Tonder van Okay Deer.

Deesdae luister hy na ʼn wye verskeidenheid genres, insluitende moderne folk, Afrikaans, blues, alternatiewe musiek en Americana. Hy put sy grootste inspirasie vir sy musiek egter uit stories. “Soms is dit my eie storie en ander kere is dit iemand anders se verhaal. Partykeer tower my verbeelding sommer ook iets op en dan verewig ek dit sommer in my musiek.”

Al is hy relatief nuut in die musiekbedryf, glo dat hy reeds ʼn paar waardevolle lesse geleer het. “Toe ek begin musiek maak het, was ek vasgevang in my eie wêreld en ek het gesukkel om my passie in my vertonings oor te dra. Ek het egter geleer om na mense te kyk wanneer ek op die verhoog is en my musiek vir elkeen van hulle te gee.

“Verder is dit belangrik om almal te respekteer en bedagsaam en deeglik te wees.”

Faraway George is tans besig om sy materiaal te finaliseer vir sy album wat in Maart 2020 op die rakke te wees.

  • “Sugar Cane” is beskikbaar op alle digitale platforms soos Spotify, Apple Music en Google Play.
  • Faraway George kan ook op Facebook, Instagram en YouTube gevolg word of besoek sy webtuiste vir meer inligting oor sy musiek en optredes.
  • Faraway George het ook in Maroela Media se ateljee kom draai en met Esté Meyer Jansen gesels oor sy musiek en sangloopbaan. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

Kyk na die musiekvideo van “Sugar Cane” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae