Fatman: ‘Ek weet hoe dit voel om nie te lag nie’


Fatman se debuutalbum (Foto: Facebook)

Vir lang tye in sy lewe het hy nie gelag nie. Dit was in dié tyd dat hy ʼn wêreld leer ken het waarin daar nie gelag word nie – en van dié prentjie het hy nie gehou nie, vertel die sanger Fatman van The Voice-faam.

Humor is daarom vir hom ʼn gewigtige saak, die begin én die einde en boonop die belangrikste verskynsel van die lewe.

Fatman het pas sy debuutalbum, Boom Baby, uitgereik. Dié album volg kort ná die sanger se deelname aan The Voice wat van hom ʼn huishoudelike naam gemaak het. Dié album bied ʼn persoonlike blik op sy lewe en loopbaan, maar vermeng sy twee grootste passies in die lewe: musiek en komedie.

“Ja,” sê hy, “daar ís baie komedie in die album. Ek is glad nie ʼn baie ernstige mens nie – maar dit vertel ʼn dieper storie as bloot iemand wat daarvan hou om te lag. Ek weet hoe dit voel om nie te lag nie. Ek het daardie ‘plek’ self besoek ʼn wêreld waar niemand lag nie.En as jy self weet hoe dít voel, gaan jy uit jou pad om ander mense te laat lag. Ek het ʼn reël: Ek wil altyd iemand laat lag binne die eerste tien minute vandat ek hulle ontmoet het. Ek móét jou laat lag want dit gee vir my sielskos. Of ek nou om die baan moet hardloop of moet toertjies doen, ek sal jou laat lag.”

Hy dink ʼn oomblik na. “Oukei,” sê hy dan. “Ek sal waarskynlik nie om die baan hardloop nie, maar ek sal jou wel op ʼn manier laat lag.”

Hy skram nie wég van ernstige dinge nie, sê hy. Daar is bloot net ʼn tyd en plek vir alles, en dié album weerspieël die tyd waar hy nou in sy lewe is.

“Ek hou daarvan om oor die liefde en ander diep dinge te sing, maar daar is ʼn tyd en plek vir alles en ek het nog nie daardie tyd of plek gekry nie. Hierdie is ʼn lekker album want ek dink dis belangrik dat ons lag. Ons móét lag; maak nie saak hoe nie – of jy nou na my pay slip kyk of my liedjie sing, solank jy net lag.”

Fatman (Foto: Facebook)

Hoewel The Voice die 40-jarige sanger se lewe handomkeer verander het, wou hy aanvanklik nie vir die kompetisie inskryf nie. “As ʼn mens gewoond is aan jou roetine is dit moeilik om weer daaruit te kom. Ek het soms aan The Voice gedink, maar altyd gedink dat dit liewer vir jong mense is. My dogter en my vriende het egter besluit om my van plan te laat verander toe hulle my vir die kompetisie ingeskryf het. Ek het net gevra: ‘Moet ek nou daar gaan staan tussen die jong kinders wat my oom gaan noem?’ Toe sê hulle: ‘Oe, maar jy is bang!’ En toe gaan ek. Ek wou net gaan om dit oor en verby te kry, maar nou het dit my lewe verander.”

Sy skedule is deesdae só vol dat daar nie eens meer tyd is om musiekles te gee nie – iets wat hy vóór sy deelname aan die program van tyd tot tyd gedoen het. “Daar is geen roetine in ons bedryf nie. Die telefoon lui of jy kry die e-pos en dan moet jy op die pad wees. Dit was vir my lekker om les te gee, maar ek kan my nie meer verbind tot spesifieke tye om les te gee nie. Dis ʼn nuwe fase in my lewe, die yster is warm en die werk het nou ná die laaste episode van The Voice begin.”

Die sanger vertel hy is ʼn groot aanhanger van die akteur en komediant Leon Schuster, daarom is daar in dié album ʼn Leon Schuster-keurspel. Die keurspel bevat liedjies soos “Boetebessie briekdans” en “Swem jannie swem”.

 

“Ek en [die sanger] Pieter Smith was nog deur al die jare van Schuster se grootste aanhangers. Ons was vir etlike jare ʼn tweestuk en sou dan ʼn keurspel sing. Nog voor ek die album begin maak het, het ek vir Pieter gesê daar móét ʼn soortgelyke keurspel in die album wees, en hy het ingestem,” vertel hy.

Fatman (Foto: Facebook)

Die album bied ook ʼn blik op sy persoonlike lewe, soos onder meer in ʼn liedjie wat vir sy kinders geskryf is. “Die oorspronklike snitte in die album is almal stories. ‘Dorp toe’ vertel oor ʼn liedjie wat ek self beleef het en ‘Hengel by die huis’ is ʼn régte manne ding waarmee baie van die ouens, en selfs die girls ook, sal assosieer. Die liedjie ‘Sonneblomgesiggie’ is vir my kinders geskryf. Ek sou dit nie as ‘diep’ beskryf nie, maar dit wys ʼn ander deel van my as die komedie kant.”

Hy en die sangeres Caroline Grace, ook van The Voice-faam, het ook ʼn duet in die album. “Toe ek Caroline vir die eerste keer ontmoet het, het ek reeds geweet ek wil ʼn duet saam met haar doen. Dit het toe nie uitgewerk dat ons ʼn duet op The Voice kon doen nie, en toe ons met die beplanning vir die album begin het, het ek dié idee weer voorgestel. Ons het hier en daar liedjies oorweeg, en toe besluit op ‘Liedjie vir jou’. Die video daarvan is tydens ons Kaapse toer geskryf,” vertel hy.

Die musiekvideo vir sy liedjie “Boom Baby” is vroeër uitgereik. Dié musiekvideo, met ʼn Gatsby-tema, is in ʼn kroeg in Centurion geskiet. “Die musiekvideo pas by my. Ek wil nie op die strand hardloop en iemand in my arms gryp nie, dit pas nie by my nie, dis nie wie ek is nie. Dis ʼn lekker video en ek dink mense sal dit geniet. Ek kan dieselfde sê oor my album – dit weerspieël wie ek is, of altans wie ek in dié stadium van my lewe is. Mense gaan lag en dans en sing; en aan die einde van die dag is dit tog die belangrikste.”

Vir meer inligting oor die album besoek Fatman se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.