Feesgees groot by vanjaar se Suidooster

Coenie de Villiers en Deon Meyer (Foto: Verskaf)

Die 18de Suidoosterfees, wat van 26 April tot 2 Mei in Kaapstad plaasgevind het, spog met ’n gemiddelde produksiebywoningsyfer van 94%. Ongeveer 36 produksies en 62 vertonings in verskeie genres is op die planke gebring, waarvan agt Jong Sterre-debuutdramas danksy die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) was.

“Baie dankie aan elke borg, kunstenaar en feesganger wat gehelp het om die fees moontlik te maak,” sê prof. Brian Figaji, direksievoorsitter.

Figaji het verder gesê hoewel hulle vroeër vanjaar bekommerd was oor bywoning en kaartjieverkope tydens die pandemie, is hulle dankbaar oor die uitstekende bywoning.

Vir die Suidoosterfees, wat by Kunstekaap en Atlantic Studios aangebied is, was dit belangrik om geleenthede vir kunstenaars, teatermakers en opkomende jong talent te bied om op te tree en ’n inkomste te verdien. Ingevolge Covid-19-regulasies was die kapasiteit van teaters uiteraard kleiner as by vorige feeste.

NATi se Jong Sterre-dramaprojek is ’n ontwikkelingsinisiatief wat jaarliks belowende skrywers begelei om hul pennevrugte te slyp en uiteindelik as verhoogproduksies by die fees aan te bied. Die agt debutante wie se produksies by vanjaar se hoofprogram ingesluit is, is Margo Kotze, Andrico Goosen, Fabian Rainers, Xolisa Ngubelanga, Carlo Daniels, Gerhard Visagie en Misha Krynauw.

Die akteur Stephren Saayman in Gerhard Visagie se debuutproduksie ‘Mannetjie’. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Gerhard Visagie se Mannetjie, wat deur Andre Samuels geregisseer is, is tydens die fees as beste aanbieding aangewys. Die akteurs Stephren Saayman en Stian Bam was in die rolverdeling. Volgens Herman van der Westhuizen, voorsitter van die beoordelaarspaneel, was Saayman se vertolking van die titelkarakter “uit ’n ander wêreld”. Saayman het die toekenning vir spesiale vertolking in ’n aanbieding ontvang.

Figaji is trots op dié ontwikkelingsprojek en meen dit is grootliks te danke aan die noue samewerking en sinergie van die vennote. Hy sê verder dit is nie die laaste keer dat gehore van die jong talent gaan hoor en sien nie: “Hou hierdie jong sterre dop, julle gaan nog baie van hulle sien!”

Die Jong Sterre-debuutproduksies en die musiekaanbieding Drome het vlerke was veral gewild onder feesgangers. Deon Meyer en Coenie de Villiers se twee Karoo suite-vertonings wat in die fees se gewilde inryteater-formaat by Atlantic Studios opgevoer is, het groot byval gevind.

Die feesprogram het ook 10 skrywersgesprekke ingesluit wat deel was van die Jakes Gerwel-gespreksreeks.

Vanjaar se fees het toevallig tydens die skoolvakansie plaasgevind nadat die kwartaalkalender vroeër deur die onderwysdepartement aangepas is. Pietersielie en Roosmaryn vertel stories!, ’n kinderteaterproduksie wat spesiaal vir die fees geskep is, het dus groot aftrek gekry.

Feesgangers is daagliks by Artscape begroet deur studente van The Stage Performing Arts Studio en Dance for All, wat hulle op allerlei maniere vermaak het. Studente het nie net bygedra om ’n feestelike atmosfeer te skep nie, hulle het ook geld ingesamel om die Tribuo-fonds te sterk. Dié fonds ondersteun kunstenaars tydens die pandemie.

Die Suidoosterfees sal na verwagting in Junie weer ’n program aanbied wat spesifiek op Jeugdag gerig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.