Fluitvirtuoos wys haar slag in see vir kunste

Carina Bruwer swem Vrydag 21 km ten bate van die Tribuo-fonds. (Foto: Facebook)

Carina Bruwer, die bekende Kaapse musikant, vermaaklikheidsentrepreneur en ma van drie, sal Vrydag poog om 21 km oor Walkerbaai, vanaf Gansbaai tot Hermanus, te swem om geld in te samel vir die Tribuo-fonds ten bate van die uitvoerendekunstebedryf.

Indien sy suksesvol is, sal Bruwer die eerste persoon wees wat daarin slaag om van Gansbaai tot Hermanus te swem – ʼn uitdaging waarvoor sy lankal lus is.

Bruwer, wat bekend is as fluitvirtuoos en lid van die bekroonde instrumentele groep Sterling EQ, is ook ’n ervare oopwaterswemmer wat reeds onder meer die Engelse Kanaal, die Straat van Gibraltar, Valsbaai en Nelson Mandelabaai op haar kerfstok het.

“Walkerbaai sit al jare lank in my agterkop. Dit is so ’n beeldskone en geografies-fassinerende baai en wat oopwaterswempogings betref, is dit nog ongekarteerde waters.”

Benewens die lang afstand sal Bruwer heel moontlik ook wisselende watertemperature, seestrome en onstuimige water die hoof moet bied terwyl sy wetend oor ’n baai swem wat bekend is vir die groot seediere wat daar tuis is.

“Ek verwag nie dat hierdie ʼn maklike swem gaan wees nie. Met al die swembad- en strandsluitings die afgelope maande was dit moeilik om voor te berei. Daar was ook geen moontlikhede om ʼn inkomste te verdien binne die uitvoerende kunste nie. Dit was werklik ’n geval van sink of swem,” sê Bruwer.

Sy het met swemuitdagings al byna R700 000 en meer as R2 miljoen in mediawaarde vir liefdadigheidsorganisasies ingesamel. Dié keer vat sy hande met die Tribuo-fonds, ʼn private en niewinsgewende fonds wat gestig is uit die noodsaak om finansiële bystand te verleen aan Suid-Afrikaanse vryskutkunstenaars en lede van verwante bedrywe wat hul inkomstebronne as gevolg van die inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie verloor het.

Tribuo is Latyns vir “ek gee” en bied ’n geleentheid om in Suid-Afrikaanse kunstenaars en hul loopbane te belê.

Carina Bruwer is ‘n fluitvirtuoos en lid van die bekroonde instrumentele groep Sterling EQ. (Foto: Facebook)

“Terwyl dit vir my buitengewoon moeilik was om myself nuut te verbeel en maniere te vind om vir my gesin te sorg in hierdie tyd, was ek pynlik bewus van al die kunstenaars en tegniese ondersteuningspersoneel wat staat maak op optredes om finansieel te oorleef en nie daarin kon slaag om alternatiewe inkomstebronne te vind nie.

“Ons bedryf is op sy knieë, met min hoop op vinnige herstel wanneer die inperkings opgehef word en daar was min tot geen finansiële ondersteuning nie vir kunstenaars van regeringskant. Geliefde verhoogkunstenaars en tegnici wat gehelp het om duisende spesiale ervarings te skep, sukkel nou om net in basiese behoeftes te kan voorsien,” sê Bruwer.

Cornelia Faasen, stigterslid van die Tribuo-fonds en die uitvoerende hoof van NATi, stem met Bruwer saam.

“Kunstenaars is een van die groepe wie se loopbane onmiddellik en direk deur die Covid-19-inperkings getref is. Kunstenaars het selde ʼn veiligheidsnet, spaargeld, werkloosheidsversekering of pensioen. Hulle werk van een produksie of geleentheid na die volgende. Vir baie van hulle is die kunstefeeste hul primêre en standhoudendste bron van inkomste.

“Dit is ’n geweldige moeilike tyd vir die uitvoerendekunstebedryf. Ons kunstenaars het hulp nodig om kop bo water te hou. Daarom maak dié vennootskap met Carina vir ons absoluut sin.”

Bruwer en die Walker Bay-span monitor die weer sedert Dinsdag 2 Maart en sy beplan om Vrydag (12 Maart) weg te spring indien die weerstoestande gunstig is: ʼn Relatief kalm see, matige of geen wind nie en watertemperatuur van ten minste 18 grade.

Sy sal ondersteun word deur ʼn span vrywilligers en haar begeleidingsboot sal met ʼn haaiskild toegerus wees. Die bemanning sal ook gedurende Bruwer se swem op die uitkyk vir haaie wees.

Om die 21 km af te lê kan tussen vyf tot agt uur neem, afhangende van seestrome en ander toestande. Bruwer beplan om vanaf Gansbaai se hawe tot in Hermanus se Ou Hawe te swem, maar hierdie beplanning kan dalk noodgedwonge verander as gevolg van weerstoestande.

Plaaslike swemmers word genooi om saam met haar die laaste stuk tot in die hawe te swem. Bruwer se poging sal regstreeks gestroom word.

Die Tribuo-fonds sal die administrasie van alle borgskappe en skenkings behartig. Die publiek kan deurlopend en selfs na afloop van die swem geld skenk vir die Tribuo-fonds.

Korporatiewe borge kan Nita Cronjé kontak by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elmarie ·

GROOT bewonderaar van Carina en ja, het my paar rand gister ingesit. Ek hoop regtig mense lees hierdie berig en help ons kunstenaaars wat regtig nou sukkel. Mooi so Carina, regtig, om so iets te doen vir die kunste is net fantasties! Asb mense SKENK!!

Sandra ·

Sjoe, ek haal my hoed af vir jou! Waar Kan ek my bydrae inbetaal?

Kokkie ·

Voorspoed vir jou, Cariena. Begaafd, mooi en baie ‘tough’ !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.